|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
Landbou
Nuwe ekspo vir vrugte, groente en druiwe
23/04/2008 10:56:40 PM - (SA)
’N NUWE ekspo vir die vrugte-, groente- en wingerdbedryf in die Wes-Kaap gaan op 6, 7 en 8 November vanjaar by die Hoër Landbouskool Boland in die Agter-Paarl aangebied word.
Dit sal gegrond wees op dieselfde beginsels as die jaarlikse Agri Megaweek in Bredasdorp en die Nampo-oesdag op Nampo-park, by Bothaville.
Volgens mnr. Orton King, uitvoerende hoof van Agri Mega, gaan die nuwe ekspo, wat as die Agri Cape Expo bekend sal staan, as ’n gesamentlike onderneming met die bestuur van die Hoër Landbouskool Boland bedryf word.
Laasgenoemde beskik volgens hom oor uitstekende infrastruktuur vir so ’n aanbieding. Hulle glo ook die nuwe geleentheid gaan ’n volhoubare, demonstratiewe vertoonforum wees waarby alle belangegroepe in hoofsaaklik die vrugte-, groente- en druiwebedryf verteenwoordig sal word, en dat dit waarde gaan toevoeg.
Volgens King het verskeie rolspelers die laaste paar jaar druk op Agri Mega uitgeoefen om ’n tipe Agri Megaweek, maar met die fokus op die vrugte-, groente- en druiwebedryf, in die Paarl-Stellenbosch-gebied aan te bied.
Die moontlikheid is ondersoek en dit het geblyk dat daar ’n groot behoefte daarvoor is.
King sê ná afloop van verlede jaar se Bien Donné-ekspo is Agri Mega uit verskeie oorde genader om betrokke te raak by die toekomstige bestuur daarvan.
Omdat Agri Mega onnodige duplisering wou vermy, het hy dit oorweeg om by die Bien Donné-ekspo betrokke te raak en is onderhandelinge begin.
Omdat die bestel by Bien Donné hom nie geval het nie, is van die plan afgesien en op ’n nuwe ekspo besluit.
Soos Agri Megaweek daarin slaag om met die fokus op die graan- en veebedryf jaarliks ’n platform vir interaksie te skep, sal die Agri Cape Expo daarop voortbou, maar met die fokus op die vrugte-, groente- en druiwebedryf.
Agri Cape Expo, met ’n demonstratiewe aard, sal poog om interaksie te fasiliteer vir produsente, plaaswerkers, insetverskaffers, navorsers, produkverwerkers, produkverpakkers, beleidmakers, verbruikers en ander belangegroepe.
Navrae kan gerig word aan Agri Mega by tel. 028 424 2890 of per e-pos by agrimega@telkomsa.net.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |