|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
Landbou
Vleis se oorsprong makliker bepaal
23/04/2008 10:54:42 PM - (SA)
DIE verbruikers se aandrang op meer inligting oor die oorsprong en gehalte van landbouvoedselprodukte soos vrugte en groente, en die prosesse waardeur dit gaan, word toenemend hanteer deur stelsels van naspeurbaarheid.
Wat diereprodukte, soos vleis, betref, is dit ewe noodsaaklik, maar effens moeiliker. Nuwe tegnologie, lasergemerkte oorplaatjies wat met ’n rekenaar gelees kan word, maak dit nou makliker en hou boonop voordele vir sowel die produsent as die verbruiker in.
Mnr. Bertie Smith, direkteur van landboubankdienste van Standard Bank, het onlangs hierna verwys en gesê die verbruikers se besorgdheid is te verstane ná vrese wat ontstaan het met die salmonella-besmette vleis in Australië, die voëlgriep in Asië, bek-en-klou-seer in Brittanje, malbeessiekte in die VSA en die kunsmisbesoedeling van Suid-Afrikaanse pynappels.
Hy het daarop gewys dat die bruto inkomste uit diereprodukte in Suid-Afrika van 2005 tot 2006 met 22% toegeneem het. In die eerste helfte van 2007 het die inkomste uit diereprodukte byna 50% uitgemaak van die totale bruto inkomste wat die landbou genereer.
“Die belangrikheid van veeboerdery in die Suid-Afrikaanse ekonomie, saam met die toenemende wêreldhandel, maak dit noodsaaklik dat produsente hulle tot meer betroubare stelsels van boekstawing wend, het Smith gesê. Dit sal sowel die internasionale vertroue in die Suid-Afrikaanse veebedryf as die handelsverhoudings versterk.”
Volgens Smith is die grootste uitdagings: Hoe kan verbruikers sekerheid hê dat die oorsprong, gehalte en hanteringsprosesse van die kos wat hulle eet, veilig is? En hoe kan die veebedryf die verbruikers se vertroue wen en die internasionale gemeenskap sover kry om daarmee akkoord te gaan?
“Daar kan beter voldoen word aan die bestaande standaarde en regulasies wat die verbruiker beskerm teen skadelike praktyke rakende voedsel wat van diere-oorsprong deur ’n meer betroubare manier van naspeurbaarheid,” sê Smith. Dit is iets wat die verspreiding van siektes in die bedryf kan verlig, en terselfdertyd verbruikersvertroue sal bevorder.
Met dié dat meer verfynde en meer holistiese oplossings internasionaal gevolg word, veral in die EU en Kanada, waar moderne naspeurbaarheidsmetodes en nuwe tegnologie nou algemeen gebruik word, kan Suid-Afrika nie agterbly nie, meen Smith.
Tot nou toe is brandmerke, oormerke en tatoeëring gebruik om diere te merk. Volgens hom is dit dinge wat tydrowend en onbetroubaar is. Hy beveel ’n protokolstelsel aan wat deur die oorplaatjies gerugsteun word. Hy meen dié stelsel vir naspeurbaarheid is ’n bekostigbare alternatief vir duur tegnologie wat oorsee gebruik word en nie die moeite werd is vir die meeste veeboere om daarin te belê nie.
Met die oorplaatjies word toegang verskaf tot ’n gesentraliseerde stelsel vir ’n verskeidenheid rolspelers: die staatsveeartsenystelsel, wetstoepassers, afslaers, voerkrale, slagplase, vleisverwerkingsaanlegte en die vleiskleinhandel.
Die lasergemerkte oorplaatjies het elk ’n unieke identifikasienommer wat deur ’n sentrale databasis uitgereik word en kan deur ’n masjien gelees word en is boonop met die oog sigbaar.
Die ID-oorplaatjies, wat nie weer gebruik kan word nie, kan nie gedupliseer word nie, beskik oor ’n lang lewensduur en kan nie mee gepeuter word nie. Saam met die gratis toepaslike sagteware kan die fynste besonderhede van die diere geboekstaaf word, soos brandmerke, gewig, dragtigheidstatus, ras, geslag, mediese geskiedenis, inligting oor die eienaars en beheer oor die diere se bewegings.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |