|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
Landbou
Aussies kry wind van voor oor ‘mulesing’
10/04/2008 12:21:20 PM - (SA)
DIE boikotaksie teen Australië oor Mules se operasie het verder uitgekring.
Tien groot Deense kleinhandelaars het hulle by die Sweedse modekettingwinkelgroep H&M geskaar en gesê hulle gaan nie meer produkte koop wat vervaardig is van die wol van skape waarop dié operasie uitgevoer is nie.
H&M is die eerste groep in Europa wat aangekondig het dat hy Mules-wol gaan boikot.
In Swede het die weermag en die polisie aangekondig dat hulle nie meer Australiese wol in hul uniforms gaan gebruik nie.
’n Woordvoerder van die weermag het gesê om Australiese wol te gebruik is so goed soos om die produkte wat met kinderarbeid vervaardig is, te koop.
Dit het in Australië ’n geskarrel afgegee. Op ’n spesiale vergadering is besluit om die nuwe pynverdowingsmiddel wat deur ’n groot vervaardiger van veterinêre produkte ontwikkel is, onder wolboere te bevorder.
Die navorser wat dit help ontwikkel het, het ingestem om na Swede te vlieg en aan kleinhandelaars die voordele van die middel te verduidelik.
Mules se operasie behels die verwydering van die losserige vel rondom ’n skaap se agterwêreld om brommeraanvalle te voorkom.
Die prosedure is in die 1930’s deur die Australiër John Mules ontwikkel.
Dit word sedertdien algemeen in Australië gebruik om brommeraanvalle te voorkom.
Die operasie het die laaste paar jaar onder skoot gekom van diereregteaktiviste wat dit as wreedaardig en onmenslik bestempel.
Volgens Cape Wools is Mules se operasie feitlik onbekend in Suid-Afrika.
’n Rede is dat ’n groot persentasie van die skeersel geproduseer word in gebiede met ’n lae reënval (die Karoo) waar brommers nie so ’n groot probleem is nie.
Daarbenewens is die Suid-Afrikaanse merino deur die jare “gladder” geteel met minder plooie.
Baie boere pas ook mikskeer toe. Dit is die verwydering van wol in die skaap se mik en aan die binnekant van die agterbene halfpad deur die wolgroeisiklus om die klammerige wol te verwyder wat ’n aantrekkingskrag vir brommers kan wees. – (Ona Viljoen)
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |