|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
![]() Landbou
Sitrusbedryf het planne vir beter promosie
10/04/2008 12:42:32 PM - (SA)
DIE Sitrusprodusentevereniging oorweeg nuwe inisiatiewe wat in die jare wat kom tot sterker promosie van die land se produkte sal lei.
Die raad van die Sitrusprodusentevereniging het sy bestuur ’n mandaat gegee om produsente en uitvoerders te raadpleeg oor die moontlikheid van gesamentlike promosieaksies in sekere markte van die wêreld, het mnr. Justin Chadwick, woordvoerder van die vereniging, gesê.
“Tot dusver was ons beperk in die aanwending van geld wat ons deur statutêre heffings ingesamel het, en het ons ons aandag eerder gefokus op die produksiekant en aktiwiteite rakende marktoegang.
“Ons gaan vanjaar nuwe voorstelle maak vir ’n heffingstelsel wat aanstaande jaar in werking sal tree. Vanjaar sal gebruik word om produsente te raadpleeg oor moontlike gesamentlike aksies in sekere lande.”
Volgens Chadwick is die markte van Japan en China dié waar produsente uit gesamentlike aksies voordeel kan trek om ’n mark vir Suid-Afrikaanse sitrus te ontwikkel. “Om dit te kan doen, het ons nuwe hulpbronne nodig. En dit is die kwessies wat ons vanjaar sal moet bespreek.”
As hierdie aksies om sitrus generies te bevorder ’n werklikheid word, sal dit die eerste keer wees dat sitrusvrugte van Suid-Afrikaanse oorsprong op dié wyse ondersteun word sedert die bedryf elf jaar gelede gedereguleer is. Tot nou toe het dit by die individuele uitvoerders berus om hul handelsmerke en vrugte te bevorder soos dit hulle gepas het.
Met die eerste sitrusvrugte van die seisoen wat uitgevoer word, het ander in die Suid-Afrikaanse sitrusbedryf hulle ook begin gereed maak om die grootste moontlike voordeel uit vanjaar se verwagte gunstige marktoestande te behaal.
In die Wes-Kaap het die nuut gestigte Wes-Kaapse Sitrusprodusenteforum (WKSPF) sy voorseisoense konferensie op Citrusdal gehou.
Die WKSPF gaan vanjaar ’n promosieveldtog in die VSA begin om die posisie van sy somersitrus te midde van groter mededinging uit Suid-Amerika te versterk.
Die Wes-Kaap en ’n klein deel van die Noord-Kaap is die enigste sitrusstreke in SA wat sitrusvrugte na die VSA kan uitvoer.
Dit is dus ’n baie winsgewende mark, maar verlede seisoen het toenemende mededinging van Chileense clementines en Peruaanse minneolas ’n bietjie van die glans daarvan weggeneem.
“Ons weet die mededinging gaan strawwer word, maar ons het beter produkte en sal daarom ons sitrusvrugte aggressief bevorder om ons posisie te konsolideer,” het mnr. Gerrit van der Merwe, voorsitter van die WKSPF, gesê. - (Fred Meintjes)
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |