|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
Landbou
Argentyne wys hoe boere kan saamstaan
10/04/2008 12:36:36 PM - (SA)
DAAR is ’n eenvoudige gesegde wat lui: “ ’n Boer raak nooit moeg om te ploeg!”
Nou, sowat van lande brand hier in die weste van die Wes-Kaap het ek lank laas beleef. Die arme brandweermanne van die verskillende distriksmunisipaliteite jaag die afgelope weke elke warm dag holderstebolder van die een rookkolom na die volgende, net om daar te kom en toe te kyk hoe nog ’n stoppelland onder beheer afgebrand word. En dít alles weens die hoë koringpryse!
Maar dit is reg so manne. Skep nog vanjaar wat julle kan skep. Volgende jaar kan dit te laat wees met nog hoër insetkostes en dalk hoër wêreldeindvoorrade.
Kom ons kyk bietjie na wat in die wêreld gebeur en hoe dit dalk ons brood en botter kan beïnvloed.
Die klomp Argentynse boere staak mos toe so kwaai dat die rimpelings wêreldwyd gevoel word. Hul president Cristina het ’n belastingverhoging van 35% na 44% aangekondig. Die span boere stop toe op 14 Maart al hul werk en versper alle landbouuitvoere met hul stropers. Binne veertien dae het die winkelrakke leeggeloop van kos. Oorsese koringpryse het gestyg en China se soja-invoere het opgedroog. So dat president Christina deur buitelandse politici gevra is om gehoor te gee aan die boere. Hier teen 2 April het die boere toe weer teruggekeer na hul plase om verder te oes. Nou, dit is mos hoe boere saamstaan!
Op 28 Maart het die 2008-’09-oesskatting van die International Grains Council (die wêreld se oesskatingskomitee, gesetel in Brittanje) verskyn. Koringaanplantings verhoog met 2,5%. Die wêreldoes word geskat op ’n rekord van 646 miljoen ton, 42 miljoen ton meer as in die 2007-’08-seisoen. Verbruik wat die vorige seisoen teruggehou is deur hoë pryse, sal egter toeneem na 630 miljoen ton, 18 miljoen ton meer as in die vorige seisoen. Eindvoorrade sal styg met 16 miljoen ton, wat nog nie vanjaar al die tekort sal regstel nie.
Die Iere is besig om hul skape te verminder en gaan 25% meer koring plant. Die oes word op so 2,2 miljoen ton geskat.
Ontleders waarsku steeds dat die kommoditeite-ballon binnekort kan bars weens spekulante wat pryse sedert 2006 met 162% opgejaag het. Mike Woolverton van die Kansas-staatsuniversiteit sê die mark vir HRW is in ’n afwaartse neiging. Hy beveel aan dat Amerikaanse boere genoeg koring moet prys om stygende produksiekoste te dek, maar waarsku vir oorbemarking in die lig van April se vriesstoestande wat soos verlede jaar skade kan aanrig. Die VSA se departement van landbou waarsku dat HRW pryse so laag as $6 per boesel kan daal (tans oor die $9), maar Woolverton verwag nie so laag nie, maar dit sal beslis gedurende hul oestyd val. Hy noem dat mielie- en soja-voorrade laag is, en dat dit koringpryse kan help hoog hou. Hy sluit af deur te sê: “Ons het goeie oeste en ’n goeie groeiseisoen nodig, anders kan die markte nog doller raak.”
Daar is nog baie inligting beskikbaar, te veel om hier te noem. As ons dit deurwerk, sien ons dat die HRW-oes die enigste koring ter wêreld is wat binnekort sal inkom. Met reeds lae voorrade kan pryse dus weer styg, al begin oes die VSA in Mei, omdat 2,6 miljoen ton van daardie oes reeds verkoop is. Verder sal ons egter die tekens noukeurig moet monitor vir ’n prysdaling of stagnasie. Veral hier nader na Augustus wanneer die Noordelike Halfrond voluit begin oes en daardie rekord-oeste wat voorspel word, miskien realiseer. Hou dus maar die weer daar dop!
(Deur Jan Steyn. Hy is verbonde aan GrainCo.)
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |