|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
![]() Dr. Karen van die Kuilsrivier Netcare-hospitaal se trauma-eenheid (heel agter) verduidelik wat die protokol in ’n hospitaal se trauma-eenheid is. Hier word ’n trauma-situase uitgebeeld. Foto: NATALIE GABRIELS
Gesondheid
Lewe nie vervelig, vol uitdagings vir ervare dokter in trauma-eenheid
08/04/2008 01:34:28 PM - (SA)
ENIGEEN wat sy sin vir humor verloor.
Dít sê dr. Adrian Burger, ’n trauma-dokter by die Netcare Blaauwberg-hospitaal, is die een ding wat hy nie wil sien gebeur in ’n hospitaal se trauma-eenheid nie.
“Ernstig, daar is nie tyd vir afleidings in ’n omgewing (met ’n atmosfeer) wat reeds so gelaai is nie,” sê hy.
Burger het in 1995 as ’n dokter gekwalifiseer en werk sedert 2004 heeltyds in trauma-eenhede.
Volgens hom sien trauma-dokters in die private mediese sektor (waar hy nou is) meer kleiner soort beserings en siektes en ’n paar meer ernstige gevalle, maar dat dit die teenoorgestelde is van hoe dit in publieke hospitale se trauma-eenhede gaan.
Oor watter tye die meeste ongevalle voorkom, sê Burger dié tye is net tot op ’n seker punt voorspelbaar, maar dat daar tog vroegaand, om middernag en oor naweke meer gevalle is as normaalweg.
“Pasop vir naweke wanneer die weer sonnig en almal buite is!”
Hy sê voorts, hoewel trauma-dokters enige soort besering onder die son sien, kry dié dokters in die private gesondheidsorg nie baie met seksuele aanrandings te doen nie. “Miskien omdat dit nie so baie aangemeld word nie.”
Ten spyte van die feit dat Burger al byna alles in sy beroep as trauma-dokter gesien het, sê hy dit ontstel hom steeds as hy ’n beseerde kind sien.
“Hulle (kinders) is die onskuldige slagoffers van volwassenes se nalatigheid, geweld of onnoselheid.”
Volgens Burger is dit baie selde dat groot getalle ongevalle by hulle aangemeld word, maar dat die grootste getal potensiële ongevalle tydens ’n gebeurtenis soos die Cape Argus Pick n Pay-fietstoer kan voorkom.
“Behalwe dit, is elke dag in die publieke gesondheidsektor ’n rampspoedige dag met ’n oorweldigende getal pasiënte, wat behandel moet word. Die enigste manier om dit te hanteer, is om jou kop reg aangeskroef te hou, om die pasiënte volgens die aard en erns van hul beserings en/of siektes te sorteer en dat alle beskikbare hande moet kom help,” vertel hy.
Volgens Burger werk personeel in sy trauma-eenheid in skofte. Hulle het een dokter op skof met ’n tweede een, ’n noodgeval-spesialis, wat op bystand is.
Die skofte is agt tot tien ure lank en oor naweke is dit 12 ure lank, maar Burger sê daar is altyd werk om te doen ná ’n skof en gevolglik is die ure eintlik langer.
Verpleegsters in dié eenheid werk 12-uur-skofte en daar is gewoonlik drie wat per skof werk met nog verpleegsters wat op bystand is.
Burger sê voorts die een ongevalle-voorval wat hom altyd sal bybly, is ’n ongeluk wat op die N2 plaasgevind het.
“Ek het toe op die pad saam met nooddienste (EMS) gewerk en daar was ’n ongeluk op die N2 waar ’n minibus met onderwysers in met ’n afleweringstrok gebots het. Almal het gesterf en albei voertuie het uitgebrand. Ek sal nooit die toneel en die gevoel van totale hulpeloosheid wat ek ervaar het, vergeet nie.”
Ten spyte van sulke tragiese gebeurtenisse waarmee trauma-dokters te doen kry, sê Burger die feit dat hulle diegene wat werklik hulp nodig het, hoewel nie altyd op ’n mediese vlak nie, kan help, maak sy werk die moeite werd.
“Soms het mense net nodig om te weet dat iemand omgee. Daar is ook ’n ongelooflike spangees en ’n wete dat jy deel is van ’n groep spesiale mense. Geen dag is soos die vorige dag nie en ’n mens weet nie wat om te verwag nie, so jy raak ook nie verveeld (in jou werk) nie,” vertel hy.
Oor wat hy as sy grootste uitdaging as ’n trauma-dokter beskou, sê Burger: “Jy moet weet om dinge rustiger te vat wanneer dit stil is en om die pas vir jouself aan te gee.”
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |