|
|||||||||||
|
| VIND: |
By
Intrapslag: Moerland toe
26/07/2009 11:09:14 PM - (SA)
Die ANC kan vir elke minister nog tien opgebliengde BMW’s en Range Rovers koop, vir Blade Nzimande die minister van minderheidsake en vir Julius Malema die visepresident maak. Hulle kan selfs die myne nasionaliseer. Suid-Afrika sal dit alles kan oorleef.
Maar as die ANC verder aan die howe en die regstelsel gaan peuter, is dit moerland toe met ons. As die onafhanklikheid en integriteit van ons howe onder verdenking is, is Suid-Afrika nie meer ’n regstaat nie; verloor die beginsel van die oppergesag van die reg al sy betekenis; en is ons dierbare Grondwet nie meer veel werd nie.
As jy nie meer die howe kan vertrou nie, hoe gaan jy jou burgerregte afdwing as dit bedreig word? Hoe gaan jy sake doen in ’n land waar jy nie die hof kan vertrou om arbiter te wees in geval van geskille of konflik nie? Hoe veilig gaan jy voel om die regering of staatsdepartemente op enige vlak teen te staan as jy dink hulle is korrup of hul beleid is verkeerd?
My vrees is dat die eerste slagoffer van ’n ondermyning van die regstelsel in Suid-Afrika die vryheid van spraak gaan wees. Koerante en onafhanklike radio- en televisiestasies wat hulself as die publiek se waghonde sien, is hoeka lankal in die visier van die ondemokratiese elemente in die regerende party.
Gaan kyk gerus wat in Zimbabwe gebeur het. Pres. Robert Mugabe het sy kop al meer as tien jaar gelede verloor, maar hy is lank deur die burgerlike samelewing – die media, die opposisie, nie-regeringsgroepe, vakbonde – verplig om binne die grense van ’n demokrasie te bly. Totdat hy regters wat die grondwet en die regsbeginsels gehandhaaf het, een vir een verdryf en sy skoothondjies op die regbank begin aanstel het. Toe was dit nie lank nie of die vaart op die skerp afdraande na die huidige benarde situasie het begin.
Vandag kan die polisie in Zimbabwe doen net wat hulle wil, want daar is nie ’n hof wat hulle in die bek kan ruk nie. Hulle kan selfs die leier van die opposisie sonder rede in hegtenis neem en hom pap slaan en daar is geen gevolge nie. Die voortslepende hofsake teen die MDC-grootkoppe Tendai Mbiti en Roy Bennet, onderskeidelik ’n minister en ’n adjunkminister in die eenheidsregering, is nog voorbeelde.
Laat ek darem dadelik byvoeg Suid-Afrika is nog nie naastenby in so ’n situasie nie. Soos ek hier skryf, vertrou ek ons howe 100 persent – as ’n laer hof dalk droogmaak, weet ek sonder twyfel ’n hoër hof en uiteindelik die konstitusionele hof sal dit regmaak.
JJJ
Maar ons kan nie meer die getuienis van ’n stelselmatige poging van die post-Polokwane-ANC om die howe by die ANC se invloedsfeer in te trek, ignoreer nie. Partykeer is dit baie subtiel, ander kere is dit brutaal en openlik, maar die proses is beslis aan die gang. Die ANC, nou sterker as ooit tevore onder die invloed van die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty, is vasberade om ’n breë hegemonie in die land te vestig, en geen faset van die samelewing gaan gespaar word nie. (Goeie aarde, hoe het die wiel gedraai! Nou het selfs Max du Preez ’n commie basher geword!)
Die proses van ondermyning het begin toe pres. Jacob Zuma nog geveg het om uit die hof te bly op aanklagte van korrupsie. Zuma se juigkommando het nie gehuiwer om die nasionale vervolgingsgesag en die howe daarvan te beskuldig dat hulle in ’n sameswering teen hul leier was nie. Elke keer wanneer ’n regter in die uitgerekte sage ’n uitspraak gelewer het wat nie in Zuma se guns was nie, het sy handlangers hom beledig en selfs begin dreig.
Ná die Polokwane-“staatsgreep” aan die einde van 2007 en die verwydering van die president van die land in 2008 kon niks meer die Zuma-kommando keer nie. Die stelsel is blatant gemanipuleer om die man wat deur ’n hof verklaar is dat hy ’n korrupte verhouding met Zuma gehad het, Schabir Shaik, kort voor die April-verkiesing op sogenaamde mediese parool vry te laat. En toe, selfs nog meer blatant, is die waarnemende hoof van die vervolgingsgesag se arm (of wat ook al) só gedraai dat hy al die aanklagte teen Zuma teruggetrek het. Elke regskenner vir wie ek respek het, soos Wim Trengove, het dié besluit skerp veroordeel.
’n Dag of wat daarna het Zuma self die eerste keer ’n openlike aanval op die konstitusionele hof gedoen toe hy gewaarsku het dat die regters van dié hof hulle nie “as God” moet beskou nie.
Maar die gevaarlikste aanval op die konstitusionele hof het gekom van die ANC se sekretaris-generaal, wat deesdae optree asof hy die land se eerste minister is: Gwede Mantashe. Hy het die regters van die konstitusionele hof omtrent die ergste belediging toegeslinger wat in ’n bevrydingsbeweging se woordeboek bestaan: Hulle is teen-revolusionêre, het hy gesê.
Vroeg verlede jaar het die ANC se jeugliga die vise-hoofregter, Dikgang Moseneke, ’n “dronkgat” genoem en geëis dat hy die ANC verskoning vra omdat hy glo op ’n partytjie gesê het hy sien sy taak as regter om ’n regverdige gemeenskap te help skep en die mense te dien eerder as net die ANC. Die ANC se uitvoerende raad het hom daarvan beskuldig dat hy sy “minagting” vir die ANC gedemonstreer het. (Regter Moseneke kom uit ’n PAC-agtergrond.)
Dié aanvalle het hoofregter Pius Langa en regter Albie Sachs genoop om in ’n verklaring te waarsku dat sulke aanvalle die regstelsel en die demokrasie verswak.
En hier begin ook die onsmaaklike sage van sy hoogedele regter John Hlophe, regter-president van die Wes-Kaap, in die prentjie kom.
Hy is ’n slim man met ’n briljante akademiese loopbaan, maar in my oordeel – en dié van baie van Suid-Afrika se mees gerespekteerde juriste, soos oudregter Johan Kriegler – is hy regtig nie regter-materiaal nie. Hy is al jare lank by die een skandaal en kontroversie ná die ander betrokke en het onder meer rassistiese skeltaal teenoor ’n prokureur gebruik.
En toe doen hy ’n ding wat nie net sy loopbaan as regter behoort te beëindig nie, maar waarvoor hy ook as advokaat van die rol geskrap behoort te word: Hy probeer regters van die konstitusionele hof onregmatig beïnvloed om ’n uitspraak ten gunste van Zuma te lewer.
Hoe weet ek dit? Wel, die regters van die hoogste hof in die land sê dit.
Hlophe se reaksie op dié regters se aanklag was om hulle as leuenaars, bevooroordeeld en “miskenners van menseregte” uit te vloek. En sedert vroeg verlede jaar speel hy en sy private juigkommando ’n guerrilla-oorlog met die Regterlike Dienskommissie om te keer dat hy verantwoording vir sy dade doen.
Hlophe het sommer eiehandig teruggegaan kantoor toe ná ’n ooreenkoms dat hy met “spesiale verlof” sou bly. Toe die destydse minister van justisie, Enver Surty, ingryp en hom keer, het die ANC gesorg dat Surty gedemoveer is na adjunkminister van basiese onderwys. ANC-apparatsjik Jeff Radebe is nie nuwe minister van justisie, en hy het dadelik ’n ou wetsontwerp wat wil hê die staat moet regters se sake beheer eerder as hulself, afgestof en gaan dit nou tot die ontsteltenis van die regbank deur die parlement voer.
Vroeër vandeesmaand het Zuma almal verras deur vier nuwe lede van die Regterlike Dienskommissie aan te stel.
In die proses is die hoogs gerespekteerde regsveteraan wat so half die kommissie se “elder statesman” was, George Bizos, in die pad gesteek. Die nuwe lede is Dumisa Ntsebeza, Ishmael Semenya, Vas Soni en Andiswa Ndoni. Ntsebeza was vroeër ’n lid van Hlophe se regspan, en Ndoni het al verklaar dat die pogings om Hlophe in die bek te ruk, verband hou met sy sterk houding teenoor rassisme in die regstelsel.
Heelparty juriste meen die aanstelling van dié vier plaas ’n groot vraagteken agter Zuma se verbintenis tot ’n onafhanklike regbank.
Ná al die maande is die aanklag van die regters van die hoogste hof in die land teen Hlophe nog nie aangehoor nie.
Drie lede van die RDK gaan nou eers met geslote deure probeer vasstel of daar genoeg getuienis is om daarmee voort te gaan. Hoeveel meer getuienis het hulle nodig as die woord van die regters van die konstitusionele hof?
Die nagmerrie word net erger: ’n Groep swart regslui wat hulself Justice for Hlophe Alliance noem, het nou die ongewone stap gedoen om Hlophe as kandidaat vir hoofregter te “benoem”. Dié pos moet later vanjaar deur die president gevul word, en geen “benoemings” is nodig nie.
Wat wel gebeur, is dat daar ’n groot veldtog is om swart regslui en ander professionele mense te mobiliseer om hul steun aan Hlophe te gee. Die organiseerders probeer voorgee dat dit ’n transformasie-probleem is; dat Hlophe deur wittes en swart reaksionêre geteiken word.
Die voormalige hoofregter en struggle-held Arthur Chaskalson het ’n paar weke gelede die hoogs ongewone stap gedoen om Hlophe se goeie trou in ’n verdoemende koerantartikel te bevraagteken. Chaskalson het in die stuk aangetoon hoe dramaties suksesvol die transformasie van die regbank inderdaad die afgelope 15 jaar was.
As John Hlophe hoofregter of selfs regter van die konstitusionele hof word, gaan vra ek politieke asiel in Somalië.
Die lig wat ek aan die einde van dié tonnel sien, is baie beslis die aankomende trein.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |