Webwerf Foto's
Argiewe Netads
WEER » Kaapstad 13º / 24º | Worcester 8º / 25º | George 8º / 22º | Port Elizabeth 10º / 21º Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com
TUIS NUUS SPORT VIDEO FOTO'S SAKE24 OPINIE BRIEWE BLOGS
VERMAAK BOEKE SPOTPRENT PEILINGS NETNAWEEK MOTORS STYL REIS BY
LANDBOU LESERSFOTO'S WÊRELDBEKER 2010 VIND: MOTORS POSTE EIENDOM
VERSEKERING
Spaar by OUTsurance.  Kliek hier vir huisinhoud-, besigheids- en motorversekering.
By
Die boekeman van Bagdad
26/09/2008 06:09:14 PM - (SA)

Hoed in die hand sou hy nie staan nie. Daarom het Saad Eskander, wat aan die hoof staan van Bagdad se Nasionale Biblioteek en Argief, byna man-alleen dié kultuurmonument gered nadat die oorlog van 2003 dit byna met die grond gelyk gemaak het, skryf ANDRÉ P. BRINK

Bagdad, die stad van die legendariese verteller Sjeherazade, is die moederstad van stories. Selfs in ons tyd, nadat dit so min of meer in puin gelê is deur die gesamentlike pogings van Saddam Hoesein en George Bush, en die stad byna onvermydelik bekend geword het as ’n plek van slegte tydings, kom daar nog af en toe ’n rare sonstraaltjie van goeie nuus deur die streek se onweerswolke gesyfer.

Een hiervan het te make met ’n boekeman wat ek onlangs op ’n fees in die klein stad Molde teen die Noorweegse fjordkus ontmoet het. Hy is die Irakiër Saad Eskander, wat aan die hoof staan van Bagdad se Nasionale Biblioteek en Argief en byna man-alleen verantwoordelik was vir die redding van dié kultuurmonument nadat die oorlog van 2003 dit byna met die grond gelyk gemaak het.

Teen wil en dank het hy my herinner aan ’n ander boekeman wat ek so ’n paar jaar gelede in Sarajewo ontmoet het, ’n mal Fransman, Francis Bueb, wat ’n onwaarskynlike held in die Balkan geword het nadat hy in die doodsnikke van die verskriklike slagting in Bosnië deur die puin en geweld van daardie streek met ’n motor heelpad uit Frankryk gekom het – nie met wapens of kos of noodleniging van die een of ander aard nie, maar met ’n vrag boeke.

Iets in daardie epiese tog het die verbeelding aangegryp, en die Franse regering het hom beloon deur hom aan te stel as direkteur van die Franse Instituut in die gepuinde stad, die Centre Malraux, waardeur hy in beheer geplaas is van ’n jaarlikse boekefees in Sarajewo.

Ongelukkig het daardie mooi storie ’n minder gelukkige einde gehad nadat Monsieur Bueb reddeloos geswig het voor die versoeking van alkohol en hy ’n kombinasie van ’n grap en ’n skande vir die Franse kultuur geword het.

Saad Eskander se storie was iets heeltemal anders. Minder skouspelagtig, maar op sy manier meer indrukwekkend: een van daardie stories wat ’n mens se definisie van die woord “held” verander en verruim.

Gedurende Hoesein se bewind, veral in die later jare, was kultuur in Irak onder toenemende druk.

Onder apartheid het Suid-Afrika self agtergekom wat gebeur wanneer kulturele barbare die septer swaai; en as ’n mens kyk na wat met biblioteke en kulturele instellings (byvoorbeeld NALN in Bloemfontein) onder die ANC gebeur, kan ons van ondervinding oor sulke sake praat.

Maar dit was en is van mindere belang vergeleke met wat onder Hoesein gebeur het. En tog het die Nasionale Biblioteek en Argief nog kruppel-kruppel aangesukkel en ’n kultuurskat van onberekenbare waarde het nog naasteby bly funksioneer.

Toe kom daardie oorlog van 2003. Soos vir miljoene ander mense was dit vir my een van die ergste ondervindings van destyds se hele gebeure om op die TV-skerm te sien hoe die geboue gepuin en geplunder word.

As ’n mens onthou wat John Milton gesê het – ’n uitspraak wat Eskander self graag met diep emosie aanhaal – dat “He who destroys a good book, destroys reason itself” – dan word dit begryplik dat daardie fase van die oorlog inderdaad ’n soort kollektiewe waansin verteenwoordig.

Geboue wat in duie stort, rakke en kaste en bewaarplekke wat in vlamme opgaan, kosbare boeke en dokumente – baie van hulle honderde jare oud – wat in ’n auto-da-fé vernietig word, letterlik tot as en stof. En nadat die geboue geruïneer is, het die stropers en plunderaars en ander uitvaagsels inbeweeg en die onberekenbare skatte begin wegdra: boeke en boekrolle, kaarte, perkamente, versierde manuskripte.

Dit is één misdaad, herinner Eskander ’n mens, waarvoor dit nie help om Bush te blameer nie – behalwe dat die minste wat die Amerikaanse invallers en besetters tog seker sou kon gedoen het, sou wees om sulke kultuurskatte dag en nag onder bewaking te hou.

Maar die ergste misdadigheid, vertel hy hartseer, moet toegeskryf word aan sy eie landgenote wat eenvoudig inbeweeg het om te plunder en te steel en weg te dra: gewone diewe en rowers, maar ook meer geletterde misdadigers wat geweet het hoeveel sulke voorwerpe op die internasionale swartmark werd sou wees. Teen die tyd dat die eintlike oorlog verby was en aan ’n pynlike nuwe begin gedink kon word, was daar amper niks oor nie. Dit was op daardie tydstip dat Eskander aangestel is om met die heropbou te begin.

Eers moes hy man-alleen aan die werk spring. Sy enigste aanbeveling het niks te make gehad met ondervinding as kurator of argivaris of bibliotekaris nie: Hy was eenvoudig iemand met ’n universiteits- opleiding en ’n kulturele agtergrond, ’n man uit ’n goeie huis en ’n gesin wat nie te na aan Hoesein se bewind gestaan het nie en nie onder enige politieke verdenking gestaan het nie.

Met skropborsel en besem het hy begin. Mettertyd het hy ’n paar helpers gewerf, meestal vroue wat geweet het van opruim en skoonmaak.

Nadat die ergste rommel weggewerk was, kon hulle die beskadigde voorwerpe begin herstel: banke, uitstalkaste, monteertafels, stoele. En dan boeke, manuskripte, kaarte, een vir een, stuk vir stuk. Met eindelose geduld en toewyding.

Vandag het Eskander ’n personeel van meer as 400 om hom by te staan. Vir almal van hulle moes hy ’n inkomste uit die nuwe oorgangsbewind bedink: nog altyd karig, maar aansienlik beter as onder Hoesein se bewind, en darem ’n leefbare en eerbare verdienste.

Internasionale hulp? Hy glimlag effens verskonend, maar ook dankbaar. Die Tsjeggiese Republiek was een van die eerstes wat hulp aangebied het. En Italië. Maar wat, vra ek op die man af, van die sogenaamde groot kultuurlande van die Weste? Wat van Amerika? Brittanje? Wat, bowenal, van Frankryk?

Met verloop van tyd het daar bietjies-bietjies bygekom, antwoord hy. Maar nie naastenby genoeg nie. Dink maar aan die tyd en koste wat dit verg om één half-vernietigde manuskrip aanmekaar te las . . . Kyk hoeveel dit gekos het om Die nagwag in die Rijksmuseum te herstel, Munch se Skreeu in Oslo.

Die Amerikaners was wel bereid om meer daadwerklik te help – maar dan op voorwaarde dat al die betrokke dokumente en foto’s en kunswerke na Washington vervoer word waar deskundiges die werk kon doen.

Daar het Eskander geweier om kop te gee: gedagtig aan soveel kosbare skatte wat deur die eeue al na die Weste weggekarwei is en nie teruggekom het nie. Van die Elgin Marbles af tot en met die Tweede Wêreldoorlog.

En daar was meer as genoeg rede om die Amerikaners nie te vertrou nie: Sowat 50 000 bokse met dokumente is reeds deur dié besetters weggedra na die VSA, onder meer deur ’n Irakse professor, ene Kanan Makiya, aan die Brandeis-universiteit, onder meer onder die voorwendsel dat hy en sy kollegas en studente op soek was na getuienis oor bande tussen Hoesein en Al-Kaïda of (natuurlik) oor die “wapens van massavernietiging” waarmee die Bush-man so behep was.

Weer, en meer pertinent, vra ek hom: “Maar wat van Frank-ryk? Dit is tog seker dié kultuurland in die Weste?”

Eskander gee sy innemende, beskeie, amper seunsagtige glimlag. “Nee,” sê hy, “die Franse ambassadeur was wel by my om te hoor of hulle kan help. Ek moet net sê wat ons wil hê, dan sal hy dit aan sy minister voorlê.”

“En toe?” por ek.

“Nee, toe sê ek vir hom: ‘I’m sorry, Mr Ambassador. But I do not beg.’ ”

En hy verduidelik: “If your government is willing to help, we would be very happy indeed. But you must not expect us to beg.”

Dit is hierdie waardigheid, wat ek ’n soort beskeie trots kan noem, wat Eskander anders maak as ander mense in sy situasie.

En miskien is dit juis daarom dat sy onderneming al hoe meer sukses begin behaal het. Omdat hy verseg om by enigiemand hoed-in-die-hand te gaan staan. Hy sal eerder self inspring as dit nodig is.

Heel aan die begin, toe hulle nog glad niks gehad het nie, vertel hy met sy glimlaggie, moes hulle eers by ander mense leer: Hulle het eenvoudig na gepuinde geboue gegaan en gestroop wat nodig is. Uit die kroeg wat deur een van Hoesein se seuns bestuur is, het hy byvoorbeeld gehelp om tafels en stoele weg te dra. Net sodat sy mense darem ’n plek kon hê om te werk.

Vir dié soort begin het sy agtergrond darem heelwat voorbereiding verskaf. Vroeg in sy tienerjare, in 1981, het hy hom al as gebore Koerd aangesluit by die Koerdiese versetbeweging in die berge van noordelike Irak om vir sy mense se onafhanklikheid te veg. Vir hom was daar niks heldhaftigs daaromtrent nie. “Dit was in my mense se bloed om teen diktators te veg,” verduidelik hy.

Destyds het hy oor ’n onafhanklike Koerdistan gedroom; eers mettertyd het hy al hoe meer oortuig begin raak van ’n demokratiese, federale Irak.

Teen 1990 het hy saam met ander jong kultuurmense na Brittanje uitgewyk en aan die London School of Economics gaan studeer waar hy vroeg in 2003, net voor die uitbreek van die oorlog, sy PhD voltooi het met ’n verhandeling oor die Britse beleid ten opsigte van die Koerdiese vraagstuk van 1915 tot 1923. (Dit was immers niemand anders nie as ­Winston Churchill, sê hy, wat begin het met die bombardering en vergassing van Koerde tussen die duine van Mesopotamië.)

Dit was juis die oorlog wat hom aangespoor het om na Bagdad terug te gaan en te help met die heropbou van die stad.

Die restourasie van die biblioteek en argief sien hy as deel van ’n program van “kulturele opvoeding”. Vir hom is dit die enigste manier om die oorblyfsels van die Hoesein-bewind vir goed af te takel. En dit beteken ook dat kultuurgeletterdheid een van die belangrikste maniere word om te veg teen die vernietigende uitwerking van godsdienstige fundamentalisme. Dit is weer die óú storie van kennis is mag.

Op die oog af ’n onbegonne taak vir iemand soos hy: ’n skraal, saggeaarde man met ’n beskeie glimlag as sy enigste verweer.

Maar daarágter: ’n onversetlike geloof in die toekoms, ’n diepgaande hartstog oor sy taak, ’n wil van staal, en ’n moed wat berge kan versit.

Die moed van ’n oënskynlik nietige enkeling wat toegewy bly aan kuns en kultuur, en glo in wat hy doen, en wat ’n ambassadeur van een van die magtigste kultuurlande in die oë kan kyk en doodbedaard kan sê: “Mr Ambassador, I do not beg.”

    
VIND
Mediese Fonds
Reis & Verblyf
Kom ons kliek
Motors
Kontantlenings
Beligting
Eiendomsbelegging
Wegbreeknaweek
Musiekinstrumente
Eiendomme te huur
Leerprodukte
Buitelewe
Werksgeleenthede
Gesondheidsprodukte
Eiendomme te koop
ONS BEVEEL AAN
netNaweek
Nie seker wat om die naweek te doen nie? Kry elke Vrydag netNaweek.com, propvol nuus oor die lekkerste wat die Kaap het om te bied en wen hope pryse. Die gratis e-pos sluit inligting oor flieks, teater, restaurante, uitstallings, wegbreek-naweke en sommer enige iets wat pret is om die naweek te doen in.

Gaan na netNaweek om te registreer.
Inskrywingsvorm vir 2009 se LENTE Vakansieskole
Alle graad 10-, graad 11- en graad 12-Jippers kan uitsien na vanjaar se lenteskool. Skryf nou in vir Die Burger se Lenteskool in Port Elizabeth.
Kliek hier vir inskrywingsvorm
84 dae
tot afskop
2010
Wêreldbeker 2010
VIND
Mediese Fonds
Reis & Verblyf
Kom ons kliek
Motors
Kontantlenings
Beligting
Eiendomsbelegging
Wegbreeknaweek
Musiekinstrumente
Eiendomme te huur
Leerprodukte
Buitelewe
Werksgeleenthede
Gesondheidsprodukte
Eiendomme te koop
NETADS24
Soek ‘n advertensie

Algemeen
Loopbane
Motors
Eiendomme

VIND OU SKOOLVRIENDE
Kies jou skool se provinsie:
En klik op die eerste letter van jou skool:
ABCDEFGHIJKLMN
OPQRSTUVWXYZ
ONS BEVEEL AAN
netNaweek
Nie seker wat om die naweek te doen nie? Kry elke Vrydag netNaweek.com, propvol nuus oor die lekkerste wat die Kaap het om te bied en wen hope pryse. Die gratis e-pos sluit inligting oor flieks, teater, restaurante, uitstallings, wegbreek-naweke en sommer enige iets wat pret is om die naweek te doen in.

Gaan na netNaweek om te registreer.

       
 Kontak ons | Navrae | Teken in op ons nuusbrief | Vrae oor registrasie | Adverteer | gebruikersooreenkoms |