Webwerf Foto's
Argiewe Netads
WEER » Kaapstad 14º / 22º | Worcester 9º / 23º | George 12º / 21º | Port Elizabeth 12º / 21º Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com
TUIS NUUS SPORT VIDEO FOTO'S SAKE24 OPINIE BRIEWE BLOGS
VERMAAK BOEKE SPOTPRENT PEILINGS NETNAWEEK MOTORS STYL REIS BY
LANDBOU LESERSFOTO'S WÊRELDBEKER 2010 VIND: MOTORS POSTE EIENDOM
VERSEKERING
Spaar by OUTsurance.  Kliek hier vir huisinhoud-, besigheids- en motorversekering.
By
INTRAPSLAG: Daar’s ’n Kleurling in jou Gelofte, Oom
22/08/2008 09:38:51 PM - (SA)

Debatte oor die werklike betekenis van die Slag van Bloedrivier van 1838 slaan steeds elke kort-kort uit, onlangs weer op die virtuele geselsblaaie van LitNet. Daar is nie twyfel aan nie dat dié veldslag tussen ’n groep Voortrekkers en ’n mag Zoeloe-impi’s ’n belangrike oomblik in die geskiedenis van die wit Afrikaner bly.

Uit die debatte blyk dat mense wat 16 Desember steeds ingevolge die Gelofte as ’n Sabbat herdenk, meestal nie erg geesdriftig oor die post-1994-bestel is nie. Vir baie van hulle, so het ons pas weer gelees, was dit ’n oorwinning van Goed oor Kwaad en die Voortrekkers se oorwinning het beteken dat God die wit Afrikaner as ’n soort Uitverkore Volk sien – Hy het die Voortrekkers immers bo die Zoeloes verkies.

Ons moet deernis met sulke mense hê. Geslagte lank het Afrikanerpolitici en dominees dié boodskap met vurigheid op Geloftedagvierings verkondig. Afrikaner-geskiedkundiges het ook nooit die punt duidelik gestel dat daar ’n hele klomp mense aan Boere-kant by Bloedrivier was wat nie wit was nie.

As ’n mens die ou Afrikaanse geskiedenisboeke nou nalees, sien ’n mens tog raak dat van hulle meld dat daar 59 “Kleurlinge” was wat touleiers en bediendes in die laer by Bloed­rivier was. Houthakkers en waterdraers, dus, en sekerlik nie deel van God se plan vir ’n Boere-oorwinning nie.

Van die ou historici vertel ons ook dat die verdrag tussen Piet Retief en koning Dingaan wat die Slag van Bloedrivier voorafgegaan het, deur ene JG Bantjes opgetrek is en dat hy ’n lid van die Wenkommando by Bloedrivier was. Daar is plek-plek selfs melding gemaak daarvan dat dié Bantjes die Klerk van die Volksraad van die Republiek van Natalia was.

Maar wat hulle nie vir hul lesers vertel het nie, is dat Jan Gerritze Bantjes nie ’n wit man was nie. Soos William Worthington Jordan wat Willem Jordaan genoem is en die leier van die Dorslandtrekkers geword het wat in Oktober 1885 die Republiek van Upingtonia gestig het, was hy die afstammeling van slawe aan die Kaap.

Jan Gerritze Bantjes was ’n bruin man. ’n “Kleurling”.

Bantjes was nie net ’n volwaardige Voortrekker nie. Hy was een van die mees prominente intellektuele van die Trek en het menige Trekkerkinders – onder andere ’n jong Paul Kruger – in sy ossewa geleer lees en skryf.

Bantjes is op 8 Julie 1817 te Nieuwveld in die distrik Graaff-Reinet gebore. Hy was die derde kind van Bernhard Louis Bantjes en Isabella Johanna Swanepoel. Bernhard se oupa, Jan Geert Bantjes, het in 1755 in die Kaap geland en is op 5 Maart 1758 met Hilletje Agnita Jacobs getroud. Sy was die dogter van Jan Jacobs van de Caab en Agnietie Pieters van de Caab, twee slawe. Swart slawe.

Bantjes het die Beaufort-distrik in Desember 1838 saam met veldkornet Jacob de Clerq en verskeie familielede verlaat en op Nuwejaarsdag 1837 by Thaba Nchu by die Groot Trek aangesluit.

Die Voortrekkers se dominee, Erasmus Smit, het in sy dagboek geskryf: “Mnr. De Klerk het ’n jong kleurlingman saam met hom gebring, en aangesien laasgenoemde sekere talente had, het ek hom versoek om ’n passasie te lees en te sing. Sy naam is Jan Bantjes.”

Dominee Smit se opmerking oor Bantjes se velkleur is die enigste verwysing daarna van daardie tyd wat ek kon vind. In elke weergawe van die Groot Trek is daar verwysings na Bantjes as die “sekretaris” of “skrywer” of “amanuensis” van, tydens verskillende tydperke, Voortrekkerleiers Andries Pretorius, Piet Retief, Gert Maritz en Piet Uys, maar nooit ’n verwysing daarna dat hy ’n “kleurling” was nie.

En dit was nie goeie maniere of politieke korrektheid nie, want die gemeenskap het ’n obsessie met ras gehad. Daar was ’n hele paar honderd bruin mense wat die Trek as werkers vergesel het, en hulle is beslis as sosiaal minderwaardig behandel.

Die verdrag tussen Retief en Dingaan wat op 4 Desember 1838 onderteken is en ’n groot stuk grond aan die Boere oorgedra het, is deur Bantjes in sy eie handskrif opgetrek. Twee dae later, toe Retief en van sy manne vir Dingaan by umGungundlovu gaan groet het, is hulle in opdrag van die Zoeloe-koning met knuppels doodgeslaan.

Dit was Bantjes, in daardie stadium sekretaris van die bevelvoerder van die Wenkommando teen die Zoeloes, Andries Pretorius, wat die nuus van Retief se grusame einde aan die res van die Voortrekkers moes oordra.

Bantjes was in die binnekring van die groep wat op 9 Desember 1838 by Waschbankspruit ’n gelofte aan God gemaak het dat as Hy hulle ’n oorwinning oor die Zoeloes laat behaal, hulle en hul nageslag dié dag as ’n Sabbatdag sal herdenk.

Bantjes het in 1839 breedvoerig oor die Gelofte en die Slag van Bloedrivier in ’n spesiale uitgawe van die tydskrif De Zuid-Afrikaan geskryf. Dit is een van die belangrikste dokumente waarop latere historici hul ontledings van dié twee gebeurtenisse gegrond het.

Bantjes het in 1839 Klerk van die Volksraad in Pietermaritzburg geword en ook as prokureur in die landdroshof begin praktiseer. Toe die weduwee HJ van Niekerk hom vir ’n bedrag geld dagvaar wat hy glo by haar geleen het, het hy terug Kaap toe getrek om die saak te ontduik.

Bantjes het daarna vir ’n paar jaar lank ’n winkel in Prins Albert bestuur en was later die skoolmeester en voorleser van die NG Kerk in Humansdorp. In 1855 trek hy weer Graaff-Reinet toe, en agt jaar later word hy die landdrosklerk en Posmeester van die Zuid-Afrikaansche Republiek in Pretoria. Van Pretoria af is hy Lichtenburg toe waar hy staatsaanklaer was, en daarvandaan na Ventersdorp, waar hy ’n paar jaar lank skoolhoof was. (Ja, Eugene, Ventersdorp.)

Jan Gerritze Bantjes is in 1887 aan huis van sy oudste seun in Potchefstroom dood. ’n Jaar tevore het sy jongste seun, ook Jan Gerritze Bantjes, die eerste goudmyner aan die nuutontdekte Witwatersrand geword.

Daar’s ’n Kleurling in jou Gelofte, Oom.

Die volledige verhaal van Jan Bantjes verskyn in Max du Preez se boek Of Tricksters, Tyrants and Turncoats – More Unusual Stories from South Africa’s Past wat in Oktober by Zebra Press verskyn.

    
VIND
Reis & Verblyf
Kom ons kliek
Motors
Kontantlenings
Beligting
Eiendomsbelegging
Wegbreeknaweek
Musiekinstrumente
3 boeke vanaf R10 elk
Eiendomme te huur
Leerprodukte
Buitelewe
Werksgeleenthede
Gesondheidsprodukte
Eiendomme te koop
ONS BEVEEL AAN
netNaweek
Nie seker wat om die naweek te doen nie? Kry elke Vrydag netNaweek.com, propvol nuus oor die lekkerste wat die Kaap het om te bied en wen hope pryse. Die gratis e-pos sluit inligting oor flieks, teater, restaurante, uitstallings, wegbreek-naweke en sommer enige iets wat pret is om die naweek te doen in.

Gaan na netNaweek om te registreer.
Inskrywingsvorm vir 2009 se Vakansieskole
Alle graad 10-, graad 11- en graad 12-Jippers kan uitsien na vanjaar se winter- en lenteskole. Skryf nou in vir Die Burger se Vakansieskole.
Kliek hier vir inskrywingsvorm
Leefstyl soek mooiste bruidspaar
Onthou, as jy nie inskryf nie, het jy nie ’n kans nie en loop jy groot pryse mis. Dit sluit kookware, ’n bederf, ’n naweek weg en ander pryse in.
Skryf in
341 dae
tot afskop
2010
Wêreldbeker 2010
VIND
Reis & Verblyf
Kom ons kliek
Motors
Kontantlenings
Beligting
Eiendomsbelegging
Wegbreeknaweek
Musiekinstrumente
3 boeke vanaf R10 elk
Eiendomme te huur
Leerprodukte
Buitelewe
Werksgeleenthede
Gesondheidsprodukte
Eiendomme te koop
NETADS24
Soek ‘n advertensie

Algemeen
Loopbane
Motors
Eiendomme

VIND OU SKOOLVRIENDE
Kies jou skool se provinsie:
En klik op die eerste letter van jou skool:
ABCDEFGHIJKLMN
OPQRSTUVWXYZ
ONS BEVEEL AAN
netNaweek
Nie seker wat om die naweek te doen nie? Kry elke Vrydag netNaweek.com, propvol nuus oor die lekkerste wat die Kaap het om te bied en wen hope pryse. Die gratis e-pos sluit inligting oor flieks, teater, restaurante, uitstallings, wegbreek-naweke en sommer enige iets wat pret is om die naweek te doen in.

Gaan na netNaweek om te registreer.

       
 Kontak ons | Navrae | Teken in op ons nuusbrief | Vrae oor registrasie | Adverteer | gebruikersooreenkoms |