|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
By
Tarzan van die winde
09/05/2008 08:47:39 PM - (SA)
NOU waar’t ek verlede keer opgehou oor hoe dit gebeur het dat ek gekom het waar ek is? O ja, die kunsgalery. Ná my kort loopbaan in die kuns, waar my sin vir estetika en kwaksalwery verfyn is, was dit tyd om my dissipline op te knap.
Ek meld my dus toe as dienspligtige in 1990 by die Suid-Afrikaanse infanterie aan. Met die bosoorlog in die destydse Suidwes (Namibië) pas iets van die verlede, was daar baie om te doen. Die basis het gedien as deurgang vir die manne op pad grens toe, en daar was baie hare in die storte en vuilis onder die toiletbakke, en ons het ons hande letterlik vol gehad.
In die leër werk alles andersom. Jy kry stewels wat te groot en swaar is en moet dan twee keer verder en vinniger daarin hardloop. Jy kry ’n skeppie kos wat lyk of dit uit ’n Paashaas se kop êrens uit die stad kom, en moet daarop sterk word.
En jy word heeldag in die naam van die vaderland rondgejaag en geskel en kweek daaruit ’n onwrikbare liefde vir die land en sy leër.
Dít alles vir R180 per maand. Baie (sou ek later leer) soos ’n loopbaan in die vermaaklikheidswese.
In my vyfde week in die leër het hulle my met ’n R4-geweer toegerus en skietbaan toe gery. Toe hulle sien hoe vaardig ek is, het hulle besef hier is ’n begryper só goed dat ’n halwe woord genoeg sal wees. Hulle sê dus toe nie “koebaai!” nie, net: “Baai!”
Ná die weermag het ek ’n bakkie met my spaargeld gekoop en begin rommel wegry vir mense. Hieruit het ek geleer presies wat dit is wat ek nié wil doen nie – ook ’n belangrike les.
Deur ’n kennis van my het ek werk gekry as ’n merker van psigometriese toetse vir skoolbeginners. Dié werk was baie goed vir my selfbeeld, want ek kon dertig keer per dag bewys ek is skoolgereed.
Ná ’n maand het ek só grootkop begin word (’n mens moet al daai verstand êrens huisves) dat ’n vriend vir my gesê het hy vind my geselskap onhoudbaar en dat hy ander vriende gaan soek.
HY was egter ’n vreeslik inskiklike kêrel en het vir my ’n kitaar as afskeidsgeskenk gegee. En só het ek direk met musiek begin werk.
Ná slegs drie weke het ek eendag ’n lied vir ’n musiekonderwyseres gespeel. Sy het binne 20 sekondes in trane uitgebars en my gevra om asseblief te stop. Ek was verbaas dat ek só vinnig gevorder het dat ek al binne drie weke ’n traan kon trek met my lieflike musiek.
Die geweldige kompleksiteit van musiek het vir my duidelik geword toe ek hoor hoe sy van die lag uitbars toe sy die deur agter my toemaak.
Intussen het my akteursloopbaan goed op dreef gekom en het ek ’n rol in Egoli losgeslaan.
Hulle het my eers twee dae op die stel laat rondhang vir oriëntering, waartydens ek van die akteurs oorreed het om hulle as tatoeëerkunstenaars te laat oplei, want – het ek aangevoer – hulle sou baie geld maak uit die feit dat die publiek baie meer vir ’n tatoeëermerk sal betaal as ’n Egoli-ster dit geskilder het.
Boonop is daar verskuilde bonusse, soos dat ’n mooi aster dalk ’n vlinder op haar agterstewe aangebring sou wou hê.
Ná drie dae het hulle my ingeroep produksiekantoor toe en gesê hulle is jammer, maar hulle dink nie dit gaan werk met my nie. Ek was verpletterd en het besluit om te emigreer. Ek gaan toe Engeland toe en gradeer daar aartappels in Cambridge. Ná die aartappelseisoen is ek Farnham toe, waar ek bome gegradeer het.
In die middel van die Engelse winter kry ek eendag ’n oproep uit die sonnige Suid-Afrika. ’n Vriend het vir my werk aangebied as ’n derde assistent-regisseur in ’n Amerikaanse televisiereeks wat in Suid-Afrika verfilm sou word. En die reeks? Tarzan!
Ek was skoon uit die veld geslaan. Ek wou nog altyd Tarzan ontmoet het.
EK bedank toe by die boomplaas (hulle het my ook bedank) en klim op ’n vlug terug huis toe.
Tuis gekom, het ek my onmiddellik ten volle in my loopbaan as derde assistent-regisseur ingeleef.
Kom ek verduidelik hoe dit werk: Die regisseur sê vir die akteurs wat om te doen. Die eerste assistent-regisseur sê vir die akteurs wanneer om dit te doen. Die tweede assistent-regisseur sê vir al die ander mense dat die akteurs dit nou só gaan doen, en die akteurs sê vir die derde assistent-regisseur wat om wanneer te doen. Soos: “Bring my koffie nou” of “My woonwa se toilet moes al gister skoongemaak gewees het”.
Tarzan was ’n vreemde klong. Hy het my na sy woonwa ontbied en dan kliphard ’n wind gelaat. Dan het hy my gevra of dit my oë laat brand.
Ek het ’n hele paar maande daar uitgehou, maar eendag ’n groot flater begaan. Daar was ’n toneel waarin Tarzan vir die Amasone-woudkoningin moes vertel haar seun is deur die ander bose stam doodgemaak.
Die beligting was sag, en die stroompie het stilletjies gekabbel. Veraf het ’n bosloerie eensaam gefluit. Maar die koningin kon net nie op die kritieke oomblik ’n traantjie stort nie. Ná die agtste probeerslag het ek gemerk die tegnici raak krapperig.
Ek neem toe die gesagsbesluit dat hier iets gedoen móét word en roep: “Tarzan, poep ’n bietjie!” Hulle het my summier afgedank.
Genugtig! Ek het nie besef daar is soveel water onder die brug deur nie. Ek het nog een aflewering nodig om die verhaal deur te voer tot in die hede, die verhaal van my stryd om erkenning in die vermaaklikheidswese.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |