|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
![]() ’n Man by plakkate waarop gevra word hoekom die Fritzl-gruwelverhaal hom so lank kon afspeel sonder dat die gemeenskap daarvan geweet het. Hy staan voor die huis waarin Elisabeth 24 jaarlank deur haar pa in ’n kelder gevange gehou en verkrag is. Foto: HELMUT FOHRINGER, epa
By
Die ‘monster’ van Amstetten
02/05/2008 09:38:40 PM - (SA)
DIE Oostenrykse dorpie Amstetten wes van Wene het oornag internasionale berugtheid verwerf as die plek waar die bejaarde Fritzl sy dogter vir 24 jaar ondergronds ingekerker en as bloedskandige seksslaaf aangehou het. Die makabere besonderhede van Fritzl se misdaad het die kan-nie-wegkyk-eienskap van ’n gruwelfliek – dieselfde magnetisme wat jou kop laat draai na ’n ongelukstoneel wat jy eintlik nie wil sien nie.
Uit die feite wat tot dusver deur die Oostenrykse polisie bekend gemaak is, blyk dit dat Fritzl sy dogter Elisabeth seksueel gemolesteer het vandat sy 11 jaar oud was. In Augustus 1984, toe sy 18 was, het hy haar bedwelm en ontvoer na die klankdigte kelder met elektroniese kodeslotte waar sy sedertdien opgesluit was. Hy het haar glo gedwing om ’n brief te skryf waarin sy voorgee dat sy weggeloop het om haar by ’n sekte aan te sluit. Dít was die rat wat Fritzl sy vrou, Rosemarie, voor die oë gedraai het – en berigte tot dusver dui daarop dat sy wel onbewus was van wat onder haar voete aan die gang was.
In die kelderkamers was Elisabeth haar pa se gevangene en het hy sewe kinders by haar verwek. Nadat een van ’n tweeling in 1996 kort ná die geboorte gesterf het, het Fritzl glo van die oorskot ontslae geraak.
Drie van die kinders is by hul ma in die kelder gehou en het vandeesweek vir die eerste keer daglig aanskou; twee kommunikeer volgens berigte met mekaar in dieragtige geluide eerder as gesproke taal. Die ander drie het as babas op hul “grootouers” se drumpel opgeduik, glo met “briewe van Elisabeth” wat vanuit haar sekte te kenne gee sy kan nie na die kinders omsien nie en haar ouers vra om dit te doen. Dus het dié drie kinders bogronds grootgeword as die aangenome kinders van ’n man wat sowel hul pa as oupa is.
NÁ die aanvanklike skok oor die groteskheid van Fritzl se daad en die lyding van sy dogter en haar kinders, volg die verbystering oor die omvang van sy misleiding.
Hoe kon hy sy omslagtige infrastruktuur van marteling en misleiding tot stand bring en sy charade 24 jaar lank volhou? Hoe kon hy ’n wandaad van dié omvang pleeg onder sy eie dak, oënskynlik sonder dat selfs sy vrou onraad vermoed het? Hoe kan ’n man wat deur ander dorpsbewoners as doodgewoon beskryf word, aan so ’n afgryslikheid skuldig wees?
Die vrae vermenigvuldig, en antwoorde ontwyk. Maar daar ís vrae vir die Oostenrykse samelewing buite die mure van Fritzl se skandkelder en die dorpsgrense van Amstetten. Party daarvan het in die Oostenrykse pers uitdrukking gevind. “ ’n Ganse nasie moet homself afvra wat so fundamenteel verkeerd gaan,” het een verklaar. “Hoe kon dit hier gebeur?” wou ’n ander weet.
Dit is goeie vrae, want dit verken die soms troebel waters wat maal onder die oppervlak van Oostenryk se beeld van homself – en die beeld van dié land in die oë van die wêreld.
Die Oostenrykse samelewing is nie die eerste wat in onlangse jare dade van onbeskryflike boosheid in sy midde moes konfronteer nie.
In Brittanje het Fred en Rose West in die 1990’s seksuele foltering en moord in hul kelder bedryf. In Frankryk is 62 volwassenes van Angers in 2005 tronk toe gestuur vir ’n pedofielring waarin 45 kinders jare lank gemolesteer is. In Duitsland het Armin Meiwes voorblaaie gehaal toe hy in 2006 gevangenisstraf gekry het vir kannibalisme nadat hy ’n ingenieur van Berlyn vermoor en geëet het. België is in die 1990’s deur die Marc Dutroux-pedofielskandaal aangegryp .
Die Fritzl-skandaal is egter die tweede in Oostenryk die laaste paar jaar waarin ’n man ’n “gevangene” lank in sy eie kelder aangehou het. In 2006 het ’n 18-jarige meisie naby Wene uit die niet verskyn. Dit het geblyk sy is Natascha Kampusch, wat agt jaar tevore verdwyn het. Kampusch is deur Wolfgang Priklopil in die kelder van sy huis aangehou. Ná haar ontsnapping het hy voor ’n trein selfmoord gepleeg voordat die polisie hom kon aankeer.
WAT weer die vraag opper: Wat is dit in Oostenryk wat beteken die samelewing is blind vir sulke misdade?
Vir iemand wat maar ’n handvol kere in Oostenryk was, sou dit verregaande wees om veralgemenings te ekstrapoleer op grond van so ’n haas ondenkbare geval. Maar die Oostenrykse media stel self dié vraag. En kanselier Alfred Gusenbauer besef watter donker skadu dit oor sy land se beeld werp: Hy het ’n veldtog aangekondig om Oostenryk se internasionale beeld te herstel.
’n Leidraad is miskien te vind in ’n opmerking van ’n BBC-verslaggewer ter plaatse: “The town of Amstetten looks prosperous and respectable,” skryf sy op die BBC-nuusblad. En dít is die indruk wat ’n mens dikwels van Oostenryk vorm: een van kleinburgerlike respektabelheid. Om respektabel voor te kom, skyn die hoogste goed te wees.
In ’n land wat eens die episentrum van die uitgebreide Habsburg-ryk was, het hul erfgename ná die ontmanning van die ryk hul toevlug tot geordende voorstedelikheid geneem. Dus is Oostenryk een van die skoonste, ordelikste en mooiste lande – weikampe in die Alpe lyk of hulle met die hand gekam is; kleurryke blombakke versier A-raamhuise; die mense is ’n model van beleefdheid.
Oostenrykse klerekodes is van die formeelste in Europa – of dit nou aandpakke by die opera is of tradisionele Lederhosen en Trachten vir elke dag se dra. Geen nasie is meer behep met beroepstitels nie: Stap deur die Zentralfriedhof in Wene en die grafstene kreun onder titels soos “Prof. Dr. Univ. Ing. So-en-so”. So ook in die alledaagse handel en wandel. Dit is alles arbitrêre beelde wat deel uitmaak van ’n prentjiemooi geheelbeeld van volmaakte respektabelheid, van ’n volk van die opperste beleefdheid, formaliteit en respek vir privaatheid. Maar watter boosheid floreer agter die sluier van daardie privaatheid?
Graham Greene en Orson Welles het iets daarvan vasgevang in die boek/fliek The third man – iets van dít wat kan aangaan in die skrewe tussen die werklikheid en die “see-no-evil”-samelewing.
Miskien is die vraag dus beter geformuleer in die Duitse dagblad Die Zeit: “Is hierdie ’n samelewing wat bang is om in sy eie afgrond te kyk?” Overgeset synde, ’n samelewing wat eerder sal wegkyk as om onbeleefd in te meng?
DIT is dalk onregverdig om Fritzl te verbind met Oostenryk se ambivalente rol in die Tweede Wêreldoorlog, maar daar is ’n ongemaklike vergelyking. Dekades lank ná die einde van die oorlog het ’n groot deel van die Oostenrykse samelewing sy land voorgehou as Nazi-Duitsland se eerste slagoffer, eerder as sy entoesiastiese meedoener. Talle van die berugste Nazi’s was Oostenrykers – mense soos Adolf Eichmann, Franz Stangl en Ernst Kaltenbrunner.
Die Oostenrykse “Nazi-jagter” Simon Wiesenthal se dekades lange veldtog om oorlogsmisdadigers aan die pen te laat ry, het van hom ’n haatfiguur in Oostenryk gemaak. Was dit nie soseer omdat hy die aftrede van “respektabele” eertydse Nazi’s ontwrig het nie, maar eerder omdat hy Oostenrykers in die breë gekonfronteer het met die onaantreklike werklikheid agter ’n respektabele sluier van slagofferskap wat hulle vir hulself gekonstrueer het?
Die Fritzl-geval bevat ’n dowwe eggo van die opsetlike blindheid wat ’n handvol Nazi’s aan die einde van die oorlog in staat gestel het om aan geregtigheid te ontsnap.
In Bad Aussee in die skilderagtige Salzkammergut het Eichmann se vrou ná die oorlog byna daarin geslaag om haar dood te laat verklaar sodat sy haar by hom in Argentinië kon aansluit. Die plaaslike gemeenskap en selfs die regstelsel het passief – indien nie aktief nie – hieraan meegedoen, en dit was net Wiesenthal se ingryping wat verhoed het dat dié fiksie feit geword het. Gevolglik het die jag op Eichmann voortgeduur en is hy in 1960 in Buenos Aires opgespoor en ’n jaar later in Jerusalem verhoor en tereggestel.
Die Eichmanns en ander soos hulle was die begunstigdes nie soseer van Nazi-simpatiseerders nie – hoewel daar ongetwyfeld van hulle was – maar van daardie oënskynlik Oostenrykse instink om weg te kyk ter wille van die skyn, om nie in te meng nie.
DIT is dalk ’n stap te ver om breër afleidings oor die Oostenrykse samelewing te maak gegrond op die Fritzl-geval. Hoe kon die gemeenskap van Amstetten Fritzl immers ontmasker het as hy sy eie vrou 24 jaar suksesvol kon bedrieg?
Maar dan: Sy is natuurlik ook ’n lid en produk van daardie gemeenskap wat eerder sal wegkyk ter wille van die skyn van respektabelheid.
Dus bly die knaende vraag: Is daar iets aan Oostenryk se toewyding aan privaatheid en respektabelheid wat die milieu skep vir die boosheid van ’n Josef Fritzl of ’n Wolfgang Priklopil om dekades lank nie ontmasker te word nie?
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |