|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
![]() By
ELITA – Van Kolonaki tot die Kaap
02/05/2008 09:38:03 PM - (SA)
Die biografie Elita en haar lewe met FW de Klerk het pas by Tafelberg-uitgewers verskyn. Willemien Brümmer het op Wildepaardejacht met Elita gepraat oor die boek, bygelowe en onmoontlike drome.
ELITA DE KLERK stap reguit na die skildery van die eenkant-vrou in ’n koets – die vrou wat verlangend kyk na die groepie mense buite haar venster. “Kyk, kyk, dit het ’n simboliek!” sê sy in vervoering.
Sy praat sagter, haar Engels getint met ’n aantreklike Griekse aksent: “Dís hoe ek gevoel het in my vorige lewe. Ek het nog nie die geesgenote ontmoet wat ek later leer ken het nie.”
Want sedert sy dié skildery, deur Irma Stern, gekoop het, het hierdie fyn, blonde vrou ’n uitmergelende tog afgelê. Soos sy jou self reeds met die intrapslag waarsku: “Ek is iemand wat erg sukkel om van punt A na punt B na punt C te kom. Ek dínk regtig daaroor, en ek’s my eie grootste vyand. Ek’s ewig aan die soek, en ek is uiters streng met myself.”
VAN hierdie soeke getuig die biografie wat pas op die winkelrakke verskyn het oor haar lewe saam met FW, deur die joernalis Martie Retief Meiring. Hier lees jy van Elita se uiters bevoorregte kindertyd in Kolonaki, ’n spogbuurt in Athene, en haar huwelik op 19 met die miljoenêr en skeepsmagnaat Tony Georgiadis. Saam vestig die egpaar hulle in die herehuis Stud House in die eksklusiewe Hampton Court Park in Londen, waar Tony gou ’n vriend word van konings en presidente.
Dié vriendskappe sou hom uiteindelik duur te staan kom, aangesien hy eers sy vrou aan ’n oudpresident sou moes afstaan, en later na bewering ’n rol sou speel in die wapenskandaal.
Nog lank voordat dit kon gebeur, het Elita in haar dagboek geskryf van die vlae van depressie wat “soos ’n donker kleed” om haar vou. Toe sy en Tony in Mei 1989 vir FW de Klerk en sy vrou, Marike, ontmoet, was sy dus onbewustelik gereed vir ’n waterskeiding in haar lewe.
Dit was egter eers byna tien jaar later dat die nuus deur die wêreld geflits het dat FW sy huwelik van 39 jaar sou verlaat vir die vrou van ’n vriend.
NOU is dit nóg tien jaar later, en die skindertonge wat destyds gepraat het van “ ’n Griekse drama” het tot ruste gekom. Die aanvanklike agterdog van veral die Afrikaanse gemeenskap jeens dié 56-jarige vrou het verdwyn en albei partye het ’n hegte band ontwikkel met hul eggenote se kinders uit vorige huwelike.
Omring deur haar geliefde Maggie Laubschers, Irma Sterns en Pierneefs op die plaas Wildepaardejacht buite die Paarl is Elita ontspanne, asof sy lankal vrede gemaak het met die storms in haar persoonlike lewe. Van meet af aan straal sy ’n besonderse warmte uit.
Tog is sy oudergewoonte skrikkerig vir ’n onderhoud, nes eers vir die boek. Sy sit vorentoe op die roomwit rusbank, vertel van die ellelange onderhandelings voordat sy ja gesê het vir Retief Meiring.
“Jy sien, ek dink dis verkeerd om jou privaatlewe onder die vergrootglas te plaas. Voordat ek ja gesê het vir die boek, moes ek myself afvra wáárom ek moet ja sê. Ek het baie vrae gehad, en baie mense wat ek geraadpleeg het. Ek het my finale besluit geneem, ook omdat FW wou hê ek moet voortgaan, wat goed was.”
Sy dink lank na, soos altyd wanneer sy praat asof sy die woorde oor en oor in haar kop weeg. “Uiteindelik was die boek soos psigoterapie. Ons het baie gepraat, en ek dink ons het mekaar gehelp om te groei, vergeet die boek! Ek is bly ek het dit gedoen, want dit het my gehelp om van my skuldgevoelens ontslae te raak. Ek het ’n ernstige skuldgevoel gehad oor die egskeiding – ook oor die manier waarop ek grootgemaak is.”
REEDS van die eerste keer toe sy besef het sy’s verlief op Suid-Afrika se president was sy immers in ’n hellestryd gewikkel. “Ek het ons gesprekke altyd erg boeiend gevind, en ek het uitgesien na ons ontmoetings, maar ek het eers besef ek is verlief toe ek een keer (in 1993) vanaf Suid-Afrika na Athene gevlieg het saam met ons jongste dogter, Ileana. Ek het in trane uitgebars en ek het myself afgevra: Hoekom huil ek?”
Sy fluister dit byna: “Omdat ek hom begin mis het! Ek het besef dis nie normaal nie, en die tyd was vir my hel, want jy wíl nie die gevoelens hê nie, maar jy hét dit.”
Sy sug, ’n dramatiese gebaar wat haar Mediterreense afkoms verraai. “Toe ons ons gevoelens aan mekaar erken het, was dit óók hel, want ons het hierdie dinge gevoel, maar dit was verkéérd! Die hele proses was ’n foltering, want jy kiés nie om op iemand anders verlief te raak nie, dit gebéúr.”
Weer weeg sy haar woorde op. “Ook . . . dis onmoontlik vir ’n derde party om toe te tree in ’n gesonde verhouding. Ons onderskeie verhoudings was . . . jy weet, daar is ’n verskil tussen lééf en om net te bestaan. Uiteindelik wou ek myself nie verwyt omdat ek nie probeer het nie, want vir my is dit veel erger.”
TÓÉ al was die vraag op almal se lippe hoe twee mense uit sulke uiteenlopende wêrelde mekaar kon vind.
Soos Elita self kort nadat hulle hul liefde verklaar het in haar dagboek geskryf het: Wat sien ek in hom? Hy is ouer. Hy is van ’n ander nasie. Van ’n ander geloof. Hy is getroud. Hy is ’n president en in die wêreldoog. Niks kan hiervan kom nie.
Hul verskillende agtergronde is reeds tydens hul eerste ontmoeting geïllustreer toe sy die porseleinknopie, bekend as ’n “evil eye”, wat sy altyd aan haar onderklere gespeld het, aan ’n ietwat verbaasde en verleë FW gegee het. Retief Meiring beskryf hoe sy dié talisman teen onheil vir hom gegee het omdat sy instinktief gevoel het sy wil hom help met die “kruistog” wat hy in Suid-Afrika sou onderneem.
Elita lag uitgelate, wys na ’n soortgelyke talisman wat sy as ’n armband om haar horlosie-arm dra. “In Griekeland noem ons dit Vaskania. Dis ’n geloof, veral in Midde-Oosterse lande, dat mense jou slegte dinge toewens. Hierdie is soos ’n beswering teen onheil . . . ek glo daaraan.”
Sy’s versigtig vir misverstande oor die Vaskania, want, sê sy streng: “Te min inligting is gevaarlik!”
Dan glimlag sy skamerig: “Vir al wat ek weet het FW dit die volgende dag verloor, maar dis ’n baie Griekse ding om só iets vir iemand te gee. Jy móét help.”
En ja, knik sy. “Ek glo in al die ‘ologieë’. Laat my verduidelik: Ek het dertien jaar van psigoterapie deurgegaan – selfs nou gaan ek voort daarmee – want sielkunde is baie belangrik in die lewe. Sodra jy een vlak bereik, gaan jy voort na nóg een; dis ’n bodemlose put.”
Sy skep asem, beduie geesdriftig met haar hande. “So dis die psigologie, grafologie (handskrifkunde) en astrologie waarin ek glo. Ek het byvoorbeeld met my astroloog gepraat oor die boek, want ek was bang vir probleme.”
Op die vraag hoe haar Gereformeerde man oor al hierdie “ologieë” voel, haal sy haar skouers filosofies op. “Hy’t nie ’n probleem daarmee nie. Hy lag, jy weet, maar hy dink nie ek is ’n uitvaagsel of frats nie. Hy weet ook ek rig nie my lewe daarvolgens nie.”
WANT hoewel die sobere Doppers en haar Grieks-Ortodokse kerk, met sy ikone en ryk simboliek, twee heel verskillende kante van dieselfde munt is, is die bymekaarkoms van dié wêrelde vir albei ’n leersame “reis”. “Ons vind gemeenskaplike terrein in mekaar se godsdiens en opvattings, hoewel ek nie meer baie na die Griekse kerk gaan nie. Ek is baie privaat en skaam, en ek wil nie iewers heen gaan waar mense my herken nie. As ek wil bid, dan bid ek hier.”
Vandat sy kan onthou was Elita teruggetrokke, met ’n sterk afkeer van pretensie. Tog moes sy van kindsbeen af gewoond raak aan die ewige ronde van partytjies en skemerkelkonthale wat deur haar ouers, met hul invloedryke tekstiel- en skeepsryk, gehou is. Later, as die “trofee-vrou” van Tony Georgiadis, het die sosiale gefladder voortgeduur. Sy sug gelate. “Ek het toe maar gedink as jy nie daarteen kan veg nie, moet jy daarby aansluit. In daardie dae (as jong getroude) was daar heelwat onthale saam met mense baie ouer as ek, en ek het gedink ek moet dit sover ek kon probeer geniet.”
Tog het sy gou besef iets skort in haar lewe. Sy sit vorentoe. “Onthou jy die storie van Hans Christian Andersen – Die Lelike Eendjie? Ek dink ek was vir baie jare ’n lelike eendjie. Dit was soos om ’n balling te wees, want ek was nie saam met eendersdenkende mense nie.”
In daardie jare sou sy keer op keer weer luister na die lied “The Impossible Dream” uit die musiekblyspel Man of La Mancha, wat sy die eerste keer op vyftien gehoor het. Volgens Retief Meiring het dié drome op vyftien gewentel rondom ’n eie lewe vol avontuur, waarin sy verrassende en wonderlike dinge sou doen.
Weinig van dié drome het egter gematerialiseer.
EK aarsel: Voel sy deesdae dat sy enigsins nader is aan hierdie droom?
Sy loop na die CD-speler, sit die musiek aan. Met opgehoue asem luister sy na die koor: This is my quest, to follow that star
No matter how hopeless, no matter how far
To fight for the right, without question or pause
To be willing to march into hell, for a heavenly cause. . .
Eers wanneer die musiek wegsterf, antwoord sy sag: “Nee, nie werklik nie, maar minstens is ek op die regte pad.”
Want hoewel sy ná haar huwelik met FW vir die eerste keer voel sy’s “nie net ’n vyfde wiel aan die wa nie” (“ek’s dáár!”), maak die voortdurende buitelandse reise dit tog moeilik om werklik haar eie stempel af te druk.
Wat ook moeilik is, is dat haar kinders, Ileana, Clio en Vassos, sowel as haar twee kleinkinders steeds in Londen is, terwyl haar pa en haar wortels in Athene is.
“Die ideaal sou wees om langer tye op een plek te wees – twee maande hier, dan dalk ’n maand daar, in plaas van hierdie sigeunerleefstyl. Gelukkig sien ek my kinders nogal baie, want FW se kantoor vir die Global Leadership Foundation is in Londen; dus moet hy heelwat daar wees.”
DIS juis tydens een van hierdie buitelandse reise (dié keer na Swede) dat die egpaar De Klerk vir die eerste keer in hul getroude lewe werklik tot stilstand geruk is: Op 4 Desember 2001 is die erg verminkte lyk van Marike de Klerk in haar woonstel in Dolphin Beach, Bloubergstrand, gevind.
’n Siddering loop deur Elita se lyf. “Dit was verskriklik, verskriklik! Dis nog steeds ’n swart wolk; ek kan nog nie verstaan hoe só iets kon gebeur het nie.”
Hierna was veral die besluit of sy die begrafnis moes bywoon vir haar ’n tweestryd. Sy onthou hoe sy vir Willem de Klerk (FW se broer) oor dié besluit geraadpleeg het en hy geantwoord het wát sy ook al besluit, sy sou gekritiseer word. “Hy’t gesê: ‘Doen wat jou hart vir jou sê, volg jou eie waarheid’, maar ek het gevoel ek mag nie ’n huigelaar wees wat in die kerk sit terwyl Marike my haat nie.”
Uiteindelik het ’n vriendin haar in verbinding gebring met die joernalis wat die laaste onderhoud met Marike gevoer het. Sy haal diep asem. “Sy (die joernalis) het gesê Marike het besef ék was nie die een wat haar huwelik laat verbrokkel het nie. Sy het altyd die kroon oor FW se hoof gespan; dus was dit makliker om my te blameer. Sy het ook gesê sy besef ek kon met my Mediterreense kultuur dinge vir haar kinders gee waartoe sy nie in staat was nie.”
Kort hierná, in April 2002, het Elita se eie ma, Nitsa Lanaras, gesterf. ’n Oomblik raak sy bewoë.
“Ja, dit was ’n baie moeilike . . . ’n báie moeilike tyd in my lewe. Ek het gesien hoe my ma agteruitgaan, en die hele ding was net te . . .” Sy stop, bly ’n lang ruk stil.
TOG was dit nog het einde niet. Skaars tien weke ná die viering van FW se 70ste verjaardag moes sy weer sien aan watter dun draadjie die lewe hang: Laat in Mei 2006 is FW weens ’n kwaadaardige gewas geopereer. Ná sy aanvanklike vinnige herstel het ernstige komplikasies in sy long ontwikkel. Vir drie weke was hy onder diep verdowing en sy herstel was in die weegskaal. In dié tyd het gerugte selfs die ronde gedoen dat hy oorlede is.
Sy skud haar kop. “Ileana het daai oggend op die lughawe aangekom om by ons te wees. Ons het die hospitaal verlaat met FW se sekerheidspersoneel en sy persoonlike assistent (Brenda Steyn) om net oorkant te gaan middagete eet, en net toe ons sit, sê Brenda vir my: “Ek wil nie hê jy moet ontsteld wees nie, maar die radio het so pas gesê FW is dood.”
Hoewel sy geweet het dit kan nie waar wees nie, het sy onmiddellik gedink aan almal wat sy moes bel, en toe, skielik, het haar eie liggaam ’n ernstige stresreaksie getoon. “Jou liggaam reageer, want dis alles net te erg. Jy dink net: Wat het van die waarheid geword?”
Sy het haarself nie een keer toegelaat om te dink aan die ergste nie. Sy kyk my vierkant in die oë. “Soos ek jou gesê het, ek is my eie grootste vyand; dus het ek bloot geweier om daaroor te dink. Ek het my borduurwerk saamgeneem hospitaal toe, en my fokus was net op FW en die dokters. Ek het soos ’n outomaat geword om die situasie te hanteer.”
Sy frons. “In daai tyd sou mense my bel en sê neem ’n dag af, kom eet saam met ons middagete, en ek het gedink waarvan práát hulle?” ’n Pouse. “Moet ek ’n dag afvat van my lewe? Hoekom is ek in die eerste plek hier? Oor hierdie man!”
SEKER daarom dat die De Klerks nóú nog niks as vanselfsprekend aanvaar nie. Selfs lank ná die Vrydagaand toe die oudpresident uit sy klinies geïnduseerde koma ontwaak en gevra het: “Waar’s my vrou?”
Ons stap buitentoe en kyk uit oor die hoë kranse in die verte en die uitgestrekte groen landskap wat binnekort nie meer hul tuiste gaan wees nie. Die plaas is in die mark, en die idee is om hulle in Junie in Fresnaye te vestig in ’n huis teen die hange van Leeukop.
Sy knik asof sy reeds vrede gemaak het met die besluit. “Dit was oor FW se siekte, en oor misdaad . . . Hy’t gesê as iets met hom moet gebeur, kan ek nie hier bly op my eie nie. Miskien moet ons ’n huis kry en afskaal.”
Sy kyk weer uit oor die berghang asof sy in haar kop steeds die wysie van “The impossible dream ” hoor.
Sy antwoord die vraag waar sy oor tien jaar van nou sou wou wees, en vir ’n oomblik lyk sy weer soos ’n vyftienjarige. “Op my eie klein maniertjie sou ek só graag meer betrokke wou wees. Daarvan sou ek hou . . . om ’n verskil te maak, want ek voel steeds ek is ’n bietjie abstrak in die dinge wat ek probeer doen.”
Sy dink lank na. “Ek wil iets hê waar ek nie net ’n donateur of ’n versiersel is nie, maar ek wonder: Sal dit ooit gebeur?”
Bykomende bronne: Elita en haar lewe met FW de Klerk deur Martie Retief Meiring, en Naspers se argiewe.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |