|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
By
Waarom en waaroor glimlag die Mona Lisa?
02/05/2008 09:39:37 PM - (SA)
MINKA VRBA lewer die laaste bydrae inBy se reeks oor “grondvrae” in die geesteswetenskappe.
IN die geskiedenis van kuns vind ons baie voorbeelde van glimlaggende vroue, maar nie een daarvan ontlok soveel bespiegeling soos die enigmatiese “Gioconda-glimlag” nie. La Gioconda is die naam waaronder die Mona Lisa in Europa bekend is, so genoem omdat Lisa Gherardini, die vrou van ’n ryk Florentynse koopman, Francesco del Giocondo, as die model van Leonardo da Vinci se beroemdste portretstudie geïdentifiseer word.
In Italiaans beteken “La Gioconda” letterlik “die gelukkige of vreugdevolle vrou” – maar die onsekerheid wat haar glimlag oproep, laat ’n mens wonder of dit in die Mona Lisa bloot oor die uitbeelding van ’n emosie gaan.
DIE aard van die glimlag word raak opgesom deur die Italiaanse woord “sfumato”, wat enersyds verwys na die tegniek wat Da Vinci in die Mona Lisa gebruik het om met ragfyn kwashale laag op laag deursigtige verf op die doek aan te bring, en andersyds die betekenis het van “vaag, duister en uitgelewer aan die verbeelding”. Die dubbelsinnigheid word daaraan toegeskryf dat haar glimlag ons aantrek en betower, dat ons onseker is oor óf sy glimlag of nie.
George Moore het in 1914 die uitwerking hiervan soos volg beskryf: “(The Mona Lisa’s) hesitating smile which held my youth in a little tether has come to seem to me but a grimace . . .” Dit is asof die troos wat ’n mens in haar simpatieke glimlag vind teen jou draai, en jou konfronteer met (wat Bataille in ’n ander konteks noem) ’n “parodiese beeld . . . so leeg soos spieëls”. ’n Mens word as’t ware afgesny van die goddelike geheime waartoe jy nog oomblikke gelede deur haar gelaat gewink is.
Anders gestel: Die glimlag van die Mona Lisa plaas ons voor die misterie van ons bestaan: Sy wink ons nader om die geheimenis, oftewel die ondeursigtigheid, van ons unieke wesens aan ons voor te stel, máár – soos die sluier van betowering wat haar gelaat omgeef – is dié onthulling net gedeeltelik. Dus is die misterie agter haar glimlag nie iets wat ons kan verklaar nie, maar liewer ’n belewenis waarin ons opgeneem word.
Die ligte trekkies om die mondhoeke in die Mona Lisa se ontwykende glimlag is ’n metafoor vir vir die eeue oue filosofiese vrae oor ons menslike bestaan, soos “Wie is ek?”, “Bestaan vrye wil?” of “Hoekom is daar hoegenaamd iets en nie net niks nie?”
Soos Isaiah Berlin dit stel: Dalk is die kenmerk van sulke vrae dat ons nie weet waar, of hoe, om na die antwoorde te begin soek nie. Maar juis daarom is dit tergende vrae soos hierdie wat tot die filosofie aanleiding gee.
Michael Foster (1957:34) wys daarop dat, anders as die meeste filosowe van die moderne tydperk, het die Antieke denkers met hierdie vrae geworstel, nie om die misterie daaruit te verdryf nie, maar juis om dit ten volle sigbaar te maak.
DIT bring ons nader aan die ware aard van misterie, soos beskryf deur die eksistensialis Gabriel Marcel. Volgens hom is misterie iets anders as ’n probleem wat voor ons “gewerp” word, en dus objektiveerbaar is. ’n Misterie is ‘‘iets waardeur ek self in beslag geneem word, en daarom kan ek net daaroor dink as iets waarin die onsekerheid tussen wat ín my is en wat vóór my is alle betekenis en relevansie verloor” (Marcel, 1965:127-128). Die misterie spreek die kern van my bestaan aan.
Nadenke oor die vrae van ons bestaan loop selde uit op finale antwoorde: Eerder, soos ’n goeie gedig, bring dit die besef tuis dat “understanding is a matter of engagement, and constantly renewed enagement” (Louth, 1983:68).
Die doel van die filosofie is, soos gestel deur Berlin (1982:19): “[not] to preach or exhort or praise or condemn, only to illuminate . . . The philosopher can do no more than make as clear as he can what is at stake. But that is to do a very great deal.”
DIE kreatiewe taak van die filosofie is dus om dit wat op die spel is in ons individualiteit uit te wys en na vore te bring, sodat ons onsself kan verdiep in die misterie van ons eie bestaan. Dit is juis die duisternis wat agter die Mona Lisa se glimlag lê wat die filosofie probeer aanpak en verhelder.
Om aan die misterie van bestaan as sodanig deel te neem is nie net ’n manier om in die reine te kom met ons eie bestaan nie, maar, soos Marcel (1964:147) uitwys, is dit bowenal ’n manier om ons bewus te maak van die vreesaanjaende besef dat ons vasgevang is in die enkelvoudigheid van ons bestaan, maar terselfdertyd geraak word deur die misterieuse verhouding wat ons met ander verbind.
Die geheimenis van my eie bestaan is verstrik met my aangewesenheid op ander mense en die mensdom as geheel. Ook dié dimensie spreek uit die glimlaggende kuiltjies van ons dame se mondhoeke: Die tydlose gelaat van die Mona Lisa praat nie net van/met individue nie, maar ook van/met die mensdom.
So het haar gelaat die skrywer Walter Pater aangespoor om te sê: “Hers is the head upon which all ‘the ends of the world are come’ . . .”
Sy beskrywing van die Mona Lisa is so ontroerend dat Yeats ’n deel van Pater se woorde oor die Mona Lisa in vrye vers vertaal het, en dit gebruik het as die eerste “gedig” in sy 1936- Oxford Book of Modern Verse:
She is older than the rocks among which she sits;
Like the Vampire,
She has been dead many times,
And learned the secrets of the grave;
And has been a diver in deep seas,
And keeps their fallen day about her;
And trafficked for strange webs with Eastern merchants;
And, as Leda,
Was the mother of Helen of Troy,
And, as St. Anne,
Was the mother of Mary;
And all this has been to her but as the sound of lyres and flutes,
And lives
Only in the delicacy
With which it has moulded the changing lineaments,
And tinged the eyelids and the hands.
Dié gedig beskryf die Mona Lisa as ’n soort goddelike wese, met die wysheid van iemand wat die hele mensdom deurskou. Só gesien, is dit eintlik ons waaroor sy glimlag; haar glimlag is ’n uitdrukking van die romantiese ideaal dat ’n enkele glimlag al die geheime van ons medemenssyn kan vasvang.
Maar omdat ’n glimlag stom is, word dit aan die filosofie oorgelaat om op ’n manier sin te maak van hoe ons saam behoort te lewe, en van die vele kwessies wat deur hierdie vraag opgeroep word (soos byvoorbeeld waarom ons met mekaar praat, waarom taboes bestaan, of daar iets soos universele waardes is, of godsdiens vrede stig, en of ons die goeie ten alle koste moet nastreef).
IN dié opsig is filosofering, volgens Berlin, nie onbenullig nie, omdat hierdie beginselkwessies is waaroor die mens homself al lank en diep bekommer, en waaroor bloedige oorloë en revolusies al geveg is. Daarom het die filosoof ook die belangrike kritiese taak om ondersoek in te stel na, en lig te werp op, die bedekte veronderstellings wat verskuil is in ons basiese begrippe, asook op die manier hoe ons hierdie begrippe gebruik, en hoe hierdie veronderstellings in ons gevolgtrekkings ingesmokkel word.
Om dit te kan doen kan die filosoof nie net stilstaan by die vrae self nie – ook die betekenis van ons woorde en begrippe, en hoe ons taal gebruik om ons werklikheid te interpreteer, moet ondersoek en bevraagteken word.
Kreatiewe nadenke en kritiese bevraagtekening oor sowel die aard van ons individuele bestaan as ons medemenssyn, dien as koördinate in terme waarvan ons onsself kan oriënteer in hierdie veranderlike wêreld; dit help ons om strategieë te ontwikkel om met die ondeursigtigheid van die lewe self om te gaan; dit is ons leerskool om op ’n konstruktiewe, en bewuste, wyse te lewe – altyd weer opnuut te leer lewe – met die onsekerhede en die misterie van menswees.
MISKIEN is dit net in die estetiese, in die Mona Lisa se glimlag, waar ons die finale antwoorde op die nege vrae wat ons behandel het, kan aanvoel, beluister en beleef. Dit behoort ons egter nie te ontmoedig om voortdurend na te dink oor dié vrae nie, óf om “antwoorde” op dié vrae te formuleer nie.
Dat die glimlag van die Mona Lisa geeste oor die eeue heen bly ontroer en ontwyk, verraai dat die misterie van die lewe die meeste denkende mense altyd, by herhaling, boei. Die vrae sonder antwoorde wat deur die Mona Lisa se glimlag gesuggereer word, is beslis nie net stof tot nadenke vir filosowe nie:
Enige persoon wat nie verveeld of geïrriteerd word deur sulke soort vrae nie, en nie terugskrik om daaroor na te dink nie, kan tereg ’n filosoof in die breë sin van die woord genoem word.
.Minka Vrba is dosent in die departement filosofie aan die Universiteit Stellenbosch.
Bronnelys:
Berlin, I. in Magee, B. (1982) “An Introduction to Philosophy: Dialogue with Isaiah Berlin” in Men of Ideas. Oxford: Oxford University Press.
Foster, M.B. (1957) Mystery and Philosophy (vertaal deur A.A. van Niekerk). Londen: SCM.
Louth, A. (1983) Discerning the Mystery. Oxford: Clarendon.
Marcel, G. (1964) Creative Fidelity (vertaal deur R. Rosthal). New York: Noonday Press.
Marcel, G. (1965) Being and Having. (vertaal deur A.A. van Niekerk). Londen: ET Fontana Library.
Van Niekerk, A.A. (2005) Geloof sonder Grense. Wellington: Lux Verbi.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |