|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
By
27 April 1994
25/04/2008 08:41:28 PM - (SA)
VROEGOGGEND bel my pa. Kom liewer Ventersdorp toe, sê hy. Kom huis toe. Dis veiliger hier as in Pretoria. En as ek kom, moet ek sommer so dertig blikkies sardientjies saambring, want op Ventersdorp is niks meer sardiens nie. Hy het die laaste paar blikkies in Alex se winkel gekoop.
Ventersdorp is so twee uur se ry van Pretoria af. Op pad uit die stad uit hou ek by ’n Spar stil, maar daar is ook nie meer sardiens nie. Ek ry na die Hyperama in Menlyn.
Die Hyperama is vol mense. Party skarrel met sulke getikte lyste in die hand tussen die rakke rond en pak hul trollies vol met meer van ander goed as gewoonlik: pakkies en pakkies Smash en Toppers en One Minute Noodles. Kerse. Vuurhoutjies.
’n Man dreig ’n ou in ’n groen Hyperama-baadjie: “Ek loop nie vandag hier voor ek my blerrie paraffien gekry het nie.” In die tante voor my in die ry se trollie tel ek: twintig blikkies Pilchards-vis, twintig pakke Coco Pops, twintig bottels agurtjies, dertig toiletrolle, single ply.
Baie van die tekens langs die pad Ventersdorp toe is vol koeëlgate, en daarop is allerhande goed gespuitverf: “Wit Wolwe”, “Kill the Boer, kill the Farmer”, “FW moet vrek”, “Viva, Chris Hani”. Op die brug oor die Potch-pad het iemand geskryf: “Bevry Januz Waluz”.
Om my pa se hek blink ’n nuwe, dik ketting. Op Oupatjie van langsaan se buitekamer se dak is ’n nuwe, groen watertenk – ’n noodtenk.
“Het jy die sardiens onthou, Seun?” vra my pa en sluit die nuwe Union-slot oop. “Ek wil hê jy moet ook gou vir my ’n blik wit verf by Fouries gaan koop.”
My sieklike ma is nie tuis nie, want my pa het haar vir ’n onbepaalde tyd na my oom-hulle in Namibië gestuur. Katrina Modise hou vir hom huis. Sy sit op die agterstoep se trappe in haar pienk uniform en skil wortels.
In die hoek van die kombuis leun pa se haelgeweer in ’n groen sak teen die muur. Op die kas lê pakke droë vrugte, sojabone en lensies.
“Ons is gereed, ou seun,” sê my pa, terwyl Katrina met ’n skottel geskilde wortels by die deur instap. “Hulle kan maar kom. Ons is gereed.”
Iemand roep buite by die hek. Dis Oupatjie van langsaan.
“Het jy nie vir my batteries nie, ou buurman?” vra Oupatjie. “Ek kry nêrens in hierdie hele dorp batterries nie.”
Oupatjie steek ’n Royal op en wikkel ’n opgevoude vel papier agter sy Parker-pen uit sy hempsak. Hy vou dit oop. Heel bo staan: Afrikaner Volksfront Noodvoorrade Lys. Dis dieselfde lys waarvanaf my pa gekoop en aangevul het. “Ek kort nog net ’n blik wit verf,” sê my pa. “Dan’t ek als op die lys.”
“Het jy sweis-goggles?” vra Oupatjie.
“Om wat mee te maak?”
“As die swartes jou in die nag wil verblind, sit jy net die goggles op, ou buurman.”
Ek ry Fouries toe en gaan koop vir Pa ’n blik wit verf, al weet ek nie hoekom ’n blik wit verf ook op die noodlys is nie.
Toe ek terugkom by die huis, is pa besig om vir Katrina blikkies boeliebief en sweet corn en ’n pak arbeigeur Pro Nutro in ’n sak te sit.
“Jy moet nou nie rondloop vanaand nie, hoor jy, my ou skepsel?” sê pa vir haar. “Hier’s baie tsotsi’s. Die ANC-hulle bring hom hier met die bus van die Eastern Cape af. Hulle wil hom maak die big trouble hier – die big, big trouble. As jy sien die trouble, jy bel die oubaas, nè? Jy moet rapella by die Modimo lat hier kom nie die trouble nie.”
Ná aandete lees pa vir ons uit sy 1933-vertaling-toerits-Bybel. Psalm 6: “O, Here straf my nie in U toorn nie, en kasty my nie in u grimmigheid nie.”
Ek wag tot my pa se kamerlig af is, dan sluip ek buitetoe, nes toe ek ’n skoollat was. Ek stap verby Alex se leeggekoopte winkel, en verby die NP-kantoor wat deur ’n bom verwoes is.
Oom Koos Likkewaan se Hilux, geverf in die swart en rooi van die AWB, is een van die karre voor die Ventersdorp Hotel.
In die kroeg sit so tien ouens in hul eie, somber rookwolk. Die meeste van hulle is gewapen.
“Hulle kap die beeste se hakskeensenings met ’n panga af,” sê oom Koos agter sy glas Captain Morgan en Coke. “Dis wat hulle doen.”
Oom Koos kyk na Bokkie, die kroegman, wat ’n artikel oor die sterwende country-sangeres Cora-Marie in Huisgenoot sit en lees. “Sal jy dit like as hulle jou beeste se hakskeensenings afkap, hê, ou Bokkie?” vra hy.
“Ek het nie nie beeste nie, oom Koos.”
Langs oom Koos vertel Japie van ’n vriend van sy neef van Vanderbijlpark wat glo oral in sy huis gaspype geïnstalleer het.
“As die swartes kom,” sê Japie, “dan light daai ou net ’n kers, en draai die gas oop. Dan ontplof sy hele bliksemse huis, terwyl hy lekker wegry met sy Camry met sy Venter-trailertjie agteraan.”
Ná elf die aand stap ek terug huis toe. Ek sukkel met die nuwe Union-slot by die hek. Voor ek die kombuisdeur kan oopmaak, pluk my pa dit van binne af oop. In sy hand is die haelgeweer.
“Hoe laat skrik jy my nou, Seun?” sê hy en vryf oor sy deurmekaar geslaapte hare.
Die volgende oggend, 27 April 1994, staan ek en my pa en Oupatjie van halfsewe af vir meer as twee uur by die stadsaal tou om in Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing te stem.
Later die dag, laatmiddag, terwyl ek en my pa ’n vuur in die braaiplek aanpak om vleis te braai, vra ek hom hoekom een van die items op die Volksfront se noodlys ’n blik wit verf is.
Hy weet self nie, sê my pa. Hy dink hy moet dit dalk maar vir Katrina gee, haar huis kan doen met ’n verf.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |