Webwerf   Argiewe   Foto's   Netads 
671 dae tot afskop
2010
WEER » Kaapstad 11º/17| Worcester 3º/20| George 6º/20| Port Elizabeth 9º/20 Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com

  TUIS  

  NUUS  

  MULTIMEDIA  

  SPORT  

  SAKE  

  VERMAAK  

  OPINIE  

  BLOGS  

  FEATURES  

  MOTORS  

  FEATURES  

  BUITE  

  LEEFSTYL  

  MOTORS  

  GESONDHEID  

  LANDBOU  

  BY  


VERSEKERING
Spaar tot 25% by OUTsuranceKliek hier vir motor-, huisinhoud- en besigheidsversekering en ons bel jou terug.
By
Dis bakgat, sê Barry
25/04/2008 08:40:45 PM - (SA)

VIR ’n Engelsman is dit nie maklik om deur die lewe te gaan met ’n van soos Ronge nie. Vra maar vir Barry Ronge. “Dis ’n opdraande stryd,” sug hy. “As jy in die lewe kom as mnr. Ronge, moet jy weet dit gaan nie van daar makliker word nie. As ek ’n rand kan kry vir elke keer wat iemand ’n woordspeling-grappie oor my van maak, sal ek Jacob Zuma kan koop.”

Mense wat hom in briewe aanvat, sê byvoorbeeld graag dat hy, soos sy van aandui, verkeerd is.

Maar die ding van Barry Ronge is dat hy sy van dikwels verkeerd bewys deur meesal reg te wees. Hy is immers een van die mees gerekende rolprentkritici in Suid-Afrika – met sy gesig en stem al dekades lank in tydskrifte, koerante, die radio en op TV.

Maar nou is daar weer ’n klomp mense wat sê Ronge was verkeerd. Sy inboks was vandeesweek vol haatpos ná sy artikel oor die fliek Bakgat! in die Sunday Times.

“Mense het gesê ek is neerhalend teenoor Afrikaners. Sommige het selfs gesê ek is ’n fundamentele rassis. Maar hierdie mense is stupid. Hulle het nie die artikel verstaan nie.”

Wat hy in die artikel gesê het, is dat die Afrikaner-jeug die mees gemarginaliseerde en onerkende groep in die land is.

Dit was allermins ’n aanval op die Afrikaner, “maar daar is mense wat só ongelukkig en afgesonderd is dat hulle enige mening oor hulle as ’n belediging beskou”.

Gelukkig steur hy hom nie veel aan hierdie mense nie, sê Ronge. “Jy lees die boodskappe om seker te maak jy het nie ’n fout gemaak nie, jy was nie verkeerd nie. En nadat jy daardie versekering gekry het, druk jy eenvoudig delete, delete, delete.”

Ja, hy is soms verkeerd en ja, sy van is Ronge, maar wat mense nie besef nie, voeg hy met ’n glimlag by, is dat sy ma se van Wright was . . .

IN die rolprentbedryf is die belangrikste vaardigheid om jou teikenmark te verstaan en dít is presies wat Bakgat! reggekry het, sê Ronge.

Ja, Bakgat! is ’n onoorspronklike, resepmatige tienerfliek, maar sy geheim lê daarin dat hy vir die Afrikanerjeug méér gee as net vulgêre grappe: Bakgat! gee vir hulle bevestiging en erkenning van wie hulle is. Die kykers herken dinge in die fliek uit hul eie skooltyd wat hulle nie in Amerikaanse tienerflieks sien nie – soos die skooluniform, die rugbykultuur, die lemoenwiggies by die wedstryde. “Dit is daardie element van herkenning en erkenning wat die mense na die fliek laat stroom.”

En dít maak dat dit nie net hormoonbelaste tieners is wat Bakgat! gaan kyk en geniet nie, maar ook volwasse Afrikaners.

Die Afrikanertiener en student is vir Ronge ’n fassinerende groep. “Hulle omhels die reënboognasie, maar voel terselfdertyd hulle het die reg om hul Boeretradisie te vier. En hulle sien nie meer dat daardie aspek van hul kultuur op enige ander plek erken word nie. Daar is ’n leemte waar hierdie eens kragtige Afrikanerkultuur was.”

Daarom voel die Afrikanerjeug gemarginaliseerd, hoewel dit nie ’n bewustelike ding is nie. “Dis nie asof hulle in die oggend opstaan en dink ‘o, ons is so vervreemd en uitgestoot nie’. Dis meer van ’n onbewustelike besef en ’n voortdurende bewustheid van hul verlede. Maar dié jongmense het nie ’n slagoffer-mentaliteit nie. Hulle sit nie in ’n hoek en kla nie. Hulle doen net hul ding, doen dit doeltreffend en verskuif só die grense. Dit dwing ander om hulle te erken.”

Bakgat! se vervaardigers is jongmense wat pas by die AFDA-rolprentskool afgestudeer het, sê Ronge. En dís dalk hoekom die fliek werk.

“Hulle is ontsettend kreatiewe, talentvolle en wakker jonges wat die oppervlakkige tendense raaksien, maar ook die onderliggende angstighede en persepsies verstaan. Poena is koning was ’n baie nietige ou fliekie. Maar Bakgat! het iets in my geroer. Hulle het die regte knoppies gedruk – nie soseer die nostalgiese knoppies nie, maar eerder dié van bevestiging, erkenning. Almal het dit nodig: ’n ware weerspieëling van wie ons is; om te weet ons is nie alleen nie.”

Hy verstaan Afrikaans en Afrikaners beter as wat mense dink, sê Ronge. “My pa was Afrikaans. Hy het uit ’n familie gekom van ambagsmanne. Ek was die eerste Ronge wat nie ’n skrynwerker geword het nie.”

Hy het in die Afrikaanse voorstede van die Wes-Rand grootgeword en woon nog daar. Hy lag. “Ek was in Genl. De la Rey-laerskool,” sê hy in sy Engelse aksent. “Ek kan ’n goeie grap in Afrikaans vertel of iemand ordentlik beledig.”

Sy pa is dood toe hy tien jaar oud was en daarna het hy Engels grootgeword by sy ma, Agnes. Maar sy liefde vir Afrikaans het gebly. Toe hy later by Wits gaan studeer het, was Engels en Afrikaans sy hoofvakke. NP van Wyk Louw was een van sy dosente. “Ek het ’n handgeskrewe en ondertekende brief van hom waar hy my geluk wens met my gradeplegtigheid. Dit was fantastiese tye.”

En nou is hy 60. “Dit is skrikwekkend,” ril hy. “Absoluut skrikwekkend.” Hy vryf oor sy Kersvaderhare en -baard. Sy glasgroen oë kyk ver. “Dit is soos die geluid van ’n groot, ysterdeur wat agter my toeslaan.” Dan lag hy die ouderdom weg.

Minstens lê daar ’n opwindende lewe agter daardie deur. “Dit was ’n vreemde soort gipsy-lewe.” Hy het skoolgegee, klasgegee, geskryf-skryf-skryf, opgetree. En deur alles het flieks sy groot passie gebly. “Ek vind rolprente oneindig skeppend. Flieks dien dikwels as ’n onbewuste vir ’n globale gemeenskap. Dit weerspieël óf dit wat jy besig is om te word óf dit waarna jy streef.”

Om te fliek is baie soos om te slaap en te droom, verduidelik hy. “Jy gaan na hierdie donker, veilige plek waar daar kleurvolle beelde voor jou afspeel waaroor jy geen beheer het nie.”

Nog nooit was hy spyt dat hy sy passie sy werk gemaak het nie. “Ek kyk soms na mense met verstandige beroepe en reuse-pensioenfondse en dan wonder ek . . . Maar dit neem net een fantastiese fliek om te weet ek het die regte ding gedoen. Vir my om ’n lewe uit rolprente en skryf te maak – dis soos om ’n suikermaniak in ’n lekkergoedwinkel los te laat.”

In sy meer as 30 jaar in die mediabedryf het hy al onderhoude gevoer met mense soos Madonna, Steven Spielberg en Emma Thompson. Ná sy onderhoud met Madonna het hy vir vyf minute saam met haar in haar limousine gery. “En net soos ’n Sandton-kugel het ek vir haar gesê ‘I love your shoes!’.”

)))

ONS gesels by die Boekehuis in Aucklandpark, Johannesburg, want Ronge ontmoet mense net in openbare plekke. “Daar was in 15 jaar nie ’n gas in my huis nie. Ek gaan ook nie by ander mense se huise in nie. Dit maak my ongemaklik.”

Nee, hy het nie vriende nie. Ja, hy is ’n kluisenaar. “Privaatheid is vir my baie belangrik.”

As kind was hy al so op sy eie. “Ons het baie arm grootgeword en ek het twee sussies gehad – dit was ’n baie vroulik-gedomineerde omgewing. Ek moes my eie ruimtes kry. Ek het geleer om myself geïnteresseerd te hou. Ek is maar ’n alleenloper.”

Vriende het oor die jare soort van verdwyn. “Ek luister graag wat ander mense dink en waaroor hulle dink, maar ek haat dit om te luister hoe mense voel. Ek haat dit om te luister na iemand se liefdesprobleme of hul aaklige kinderlewe. Ek doen nie touchy feely nie.”

Dit is een ding wat hy haat van die hedendaagse lewe: die verlies aan privaatheid. “Daar is geen verwydering tussen jou en die wêreld nie. Ek hou van mistiek. Ek hou van my eie private ruimte.” Hy word ook nooit eensaam nie. “Ek het geleer om myself te vermaak.”

As hy iets saam met sy suster wil vier, doen hulle dit by ’n restaurant. Maar eintlik vier hy niks nie. “My laaste verjaardagpartytjie was toe ek vyf geword het. Om iets te vier, is ’n gedoente oor niks. Ek hou nie van gedoentes oor niks nie.”

Waarvan hy hou, is om saam met sy drie honde in sy tuin te grawe. “Dít is wie ek is.”

Hy weet dus wie hý is, sê hy, maar hy weet nie wie Barry Ronge is nie. “Hy is ’n ander entiteit – iets in ander mense se gedagtes.”

En hy is spyt oor niks nie. “Is ek spyt oor ek nooit kinders gehad het nie? Is ek spyt oor ek nooit maer was nie? Is ek spyt oor ek nooit ’n danser vir Madonna was nie? Dis jou lewe. Jy veg nie teen jou lewe nie.” Jy gaan aan, sê hy. En jy vergeet.

Uiteindelik het jy vrede met wie jy is: half Ronge, half Wright, seun van Mev. Reg en Mnr. Verkeerd.

    
VIND
Werksgeleenthede
Gesondheids- produkte
Reis & Verblyf
Eiendomme te koop
Versekering Vir Vroue
Motor & Huis Versekering
Dekor
ONS BEVEEL AAN
netNaweek.com
Nie seker wat om die naweek te doen nie? Kry elke Vrydag netNaweek.com, propvol nuus oor die lekkerste wat die Kaap het om te bied en wen hope pryse. Die gratis e-pos sluit inligting oor flieks, teater, restaurante, uitstallings, wegbreek-naweke en sommer enige iets wat pret is om die naweek te doen in.

Gaan na netNaweek.com om te registreer.
VIND
Werksgeleenthede
Gesondheids- produkte
Reis & Verblyf
Eiendomme te koop
Versekering Vir Vroue
Motor & Huis Versekering
Dekor
NETADS24
Soek ‘n advertensie

Algemeen
Loopbane
Motors
Eiendomme

VIND OU SKOOLVRIENDE
Kies jou skool se provinsie:
En klik op die eerste letter van jou skool:
ABCDEFGHIJKLMN
OPQRSTUVWXYZ
ONS BEVEEL AAN
netNaweek.com
Nie seker wat om die naweek te doen nie? Kry elke Vrydag netNaweek.com, propvol nuus oor die lekkerste wat die Kaap het om te bied en wen hope pryse. Die gratis e-pos sluit inligting oor flieks, teater, restaurante, uitstallings, wegbreek-naweke en sommer enige iets wat pret is om die naweek te doen in.

Gaan na netNaweek.com om te registreer.

       
 Kontak ons | Navrae | Teken in op ons nuusbrief | Vrae oor registrasie | Adverteer | gebruikersooreenkoms |