|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
![]() Brett Pyper
By
HOE VERTAAL JY ’N FEES ?
21/03/2008 08:54:04 PM - (SA)
KUNSTEFEESTE is nie net ’n jollie-patrollie vir dronk plesiertjies en 7de Laan-sterre wat op die verhoog rinkink nie. Dis is ook ’n soort Hiperama van die kunste, waar kultuurgieriges toegang het tot ’n duiselingwekkende verskeidenheid kunsprodukte – en dit meestal binne stapafstand.
En soos Brett Pyper, die nuwe Groot Indoena van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK), jou gou sal sê: Dié fees bied “ ’n interessante weerspieëling van wat in die land aangaan in die Afrikaanssprekende kulturele sfeer”.
Kyk jy vanjaar in die teaterspieël, staan veral een tendens uit: die skraal oes aan goeie nuwe inheemse tekste en die betreklik ryk oes aan vertalings van internasionale werke in Afrikaans. Pyper, wat sewe maande gelede die leisels by sy voorganger, Karen Meiring, oorgeneem het, verduidelik: “Ons het gesoek na die groot nuwe Afrikaanse teks, maar die naaste wat ons in vanjaar se program daaraan kon kom, was Leon Kruger se Trolliekind.”
Volgens hom is dit die enigste nuwe ernstige dramateks wat oorspronklik in Afrikaans geskryf is wat sy première op die fees het. Daar is egter ’n paar stukke wat internasionaal opslae gemaak het wat nou die eerste keer in Afrikaans gesien kan word: Crave deur wyle Sarah Kane, enfant terrible van die Britse teater, wat in Afrikaans die lig sien as Smag, vertaal deur Kane se Boere-eweknie, Willem Anker. Daar is ook die opspraakwekkende Paul deur David Brenton wat in Afrikaans Paulus geword het, en Om Soos ’n Lyk te Lê deur die Russiese Presnjakof-broers, vertaal deur Saartjie Botha.
Al sou hy graag meer nuwe werk wou sien, wys Pyper gou daarop dat vertaling nie ’n “outomatiese, passiewe proses” is nie. “Daar’s kreatiwiteit en interpretasie ter sprake.” Dit is ook vir hom ’n teken dat Afrikaanse regisseurs “se oë en ore oop is vir wat op die internasionale front gebeur”.
Hy meen daar is moontlik ’n gebrek aan inheemse tekste omdat Afrikaanse skrywers nie uit hul gekose genre wil beweeg nie. Boonop voel hulle daar is nie geleenthede vir hulle in die teater nie.
Die rede? Sedert die afskaffing van die vier provinsiale kunsterade – met hul vaste, staatsondersteunde toneelgeselskappe – speel Afrikaanse stukke meestal nie meer in regte teaters nie. Dié wat wel kans sien vir ’n geskarrel van fees tot fees, moet self om finansiering aansoek doen.
“Daar’s nogal ’n burokratiese las op die kunstenaars om deur ’n hele reeks sperdatums (vir verskillende feeste) voorstelle in te dien, maar die neiging is dat daai voorstelle alles binne ’n kalenderjaar moet uitspeel,” verduidelik hy. “Om ’n groot nuwe literêre werk vir die verhoog te skep is dikwels nie daai quick fix nie. Ons het meer mediumtermyn-beplanning nodig waar tekste ook geskaaf en ontwikkel kan word. Ons is geneig om first drafts op die planke te bring.”
Die skrywer André P. Brink, wie se 1970’s-vertaling van Eugene O’Neill se Long Day’s Journey into Night vanjaar die vlagskipproduksie op die fees is, stel dit selfs sterker. Hy meen die feit dat Afrikaanse dramaturge slegs op feeste toegang tot verhoë het, sorg vir ’n benarde situasie. “Daar (op feeste) gaan dit al hoe meer om kitsgewildheid of skoktaktiek, nie noodwendig ’n klimaat vir goeie drama en interaksie met ’n gehoor wat meer asinstant gratification soek nie.”
Die vertalings, sê hy, is dus ’n noodmaatreël – al word ons “sonder hierdie bestuiwing van buite ’n nasie van draadtrekkers”.
DIE teatergeneraal en dramaturg Saartjie Botha het ’n effens ander blik op die saak. Vir haar is die skryf van nuwe tekste siklies van aard. “Ons is nou in ’n siklus waarin daar min tekste geskryf word, terwyl daar vyf jaar gelede ’n geweldige fokus by die feeste was op nuwe werk. Kwaliteit was nie ter sprake nie, solank dit nuut was. Die werk is nogal ontmasker as swak, substandaard en nie die moeite werk nie en mense het ontsenu geraak omdat hulle swak resensies gekry het.”
Terselftertyd, sê sy, het die afgelope vyf jaar twee nuwe Afrikaanse sepies op die toneel verskyn. “In ’n stadium verlede jaar het ek, Charles Fourie, Adriaan Meyer, Malan Steyn, Harry Kalmer en Schalk Schoombie vir Binnelanders geskryf. Jy’t nie tyd om nog iets te skryf nie, en die geld wat jy met Binnelanders verdien, is in elk geval onvergelykbaar met wat jy in die teater kry.”
Omdat dramaturge nou uitgeskryf is en hulle op moedverloor se vlakte sit weens
die baie beperkings in die teaterlandskap, sê sy, moet teatermakers nou vertaal om hulself aan die gang te hou.
)))
HOEWEL geen van die teatermakers met vertaling op sigself ’n probleem het nie, is vertaling veel wyer as die blote oorskakeling van een tongval na ’n ander. Daarom is daar tog dié wat glo oorsese werk móét binne ’n Suid-Afrikaanse konteks geplaas word.
Sandra Temmingh, die regisseur van Mag: Unplugged op vanjaar se fees, het in die verlede veral op Oudtshoorn die aandag getrek omdat sy afgewyk het van die beproefde resep van lelieblanke akteurs en Standaardafrikaans. Hoewel haar stukke dikwels op klassieke werk gesteun het, het sy in “swart Afrikaans” gewerk. Haar stem is driftig. “Ek beskou dit in elk geval nie as ’n mindere ding nie; dis vir my ’n taal. Ons het geweldige goeie gehore gehad, en ons het groot groepe bruin mense getrek – want hulle het vinnig opgetel dis ons Afrikaans wat gepraat word.”
Sy skep asem. “Ek het ’n probleem daarmee as mense ou stukke vat en hulle doen dit net so. Hulle vat nie ’n Shakespeare en werk binne ’n Suid-Afrikaanse konteks nie.”
)))
WANT in baie gevalle bly teatermakers en -gehore nog by wat veilig is; hulle waag dit nie maklik buite hul kultuurkraal nie: Die boere speel vir die boere, die Engelse speel vir die Engelse, en op Afrikaanse feeste sluip swart akteurs dikwels nog in die systraatjies rond.
Die teateraktivis en dramaturg Mike van Graan meen dit gaan nog ’n wyle duur voordat “ ‘swart’ teaterpraktisyns op hul gemak voel op die KKNK”.
Vanjaar het hy reeds ’n voorsmaak hiervan gehad toe sy bekroonde satire Bafana Republic (met Lindiwe Matshikiza), wat ook KKNK toe gaan, op die Woordfees op Stellenbosch gehore van onderskeidelik 20 en 12 mense getrek het.
Hy skud sy kop. “In dieselfde venue was al die Afrikaanse werk uitverkoop, maar die Engelse werk het nie goed gevaar nie. Jy moet daaruit leer en sien jy kan g’n ’n dooie perd met ’n sambok bydam nie; vertaal dit bloot in die gehoor se taal.”
Maar dié laertrekkery is allermins beperk tot die Afrikaanses. En dalk is dit uit noodweer gebore: Toe Van Graan Maandagaand in die Markteater aan ’n bespreking oor transformasie in die teater deelgeneem het, was nie ’n enkele een van die 12 sprekers Afrikaans nie.
Hy sug. “Ek het op daardie paneel gesê meer as 50 nuwe Afrikaanse werke word jaarliks geskep – of dit nou geskryf of vertaal word. En terwyl Lebo M (wat pas sy Naledi-prys van die hand gewys het) kla dat sy akteurs in The Lion King oor die hoof gesien is, is geen Afrikaanse toneelstuk in die laaste vyf jaar na my wete vir die Naledi-toekennings benoem nie. Die rede? Omdat dié stukke weereens nie in formele teaters speel nie.”
Volgens hom beklemtoon die leiers van dié teaters meestal “swart werk” – en is dit vir Afrikaanse teatermakers makliker om hulle tot die “fees-ghetto’s” te beperk. Hier kan hulle in hul eie taal werk sonder die burokratiese rompslomp wat die groot teaters van hulle vereis.
Hy vertel ook dat hy reeds die afgelope twee jaar die artistieke direkteur van die Markteater, Malcolm Purkey, probeer oorreed het om na ’n Afrikaanse fees te kom – maar hy verseg. “Dis vooroordeel, absolute vooroordeel! Dis ook omdat hulle onder soveel druk is, en as hulle op die een of ander manier saamwerk met die taal van die voormalige verdrukker, sal dit dalk polities sleg wees vir hulle. Dis al hierdie absoluut idiotiese dinge!”
Dis dus nie verniet dat hy Maandagaand in die einste transformasiedebat gesê het: “Ons teatergemeenskap was nog nooit tevore so rasverdeeld nie.” Sy woorde was skerp: “Teater is nie dood nie, maar die nierassige projek in teater ís. Dis gekaap deur opportunisme, gekruisig deur eiebelang en kulturele chauvinisme, begrawe deur stremmende wantroue en ’n gebrek aan respek vir mekaar, met die afwesigheid van visie en die jammerlike gebrek aan leierskap wat op die teater se graf p—s.”
)))
MAAR voordat daar te ’n jammerlike geweeklaag is – dalk moet jy die teatermakers vra hoe hulle die teater minder rasverdeeld wil maak.
Van Graan het wyd gedroom. Een van sy voorstelle vir die KKNK is dat jaarliks op dié fees ’n Afrikaanse produksie of twee met ’n swart rolverdeling en regisseur moet wees waarvoor die akteurs drie maande gegun word om in dié taal vaardig te word .
“Miskien sien ons nie swart teater op dié feeste nie omdat daar so min akteurs is wat dié taal praat. Daar’s ’n reuse-mark vir swart akteurs wat Afrikaans praat, en dis waarin die fees moet belê.”
Pyper meen: “Vertaling kan ook as ’n metafoor ondersoek word. As daar ’n manier is waarop die KKNK die ervaring van spesifieke kulturele gemeenskappe in die land kan vertaal of toeganklik maak vir ander taalgemeenskappe, sou dit vir my ’n lekker doelwit wees om na te streef.”
Hy verduidelik: “Ons weet natuurlik daar’s ’n groot gaping tussen die statistiese rol van Afrikaans in die land en die soort program wat ’n mens tans by die KKNK teëkom: Die meerderheid moedertaalsprekers is mense van kleur, en Afrikaans is die mees gesproke taal in die land naas Zoeloe. Dit beteken dat die tweede- en derdetaal-ervaring van Afrikaans nog ’n baie geringe verteenwoordiging het by die fees of elders.”
Tog gee hy toe: “Jy kan doen wat jy wil om die programsamestelling inklusief en verteenwoordigend te maak, maar die werklikheid is dat die toegang tot die feeste grootliks op ’n streekbasis deur ekonomiese faktore bepaal word.”
Selfs belangriker: “’n Mens kan enige bepaalde projek oorlaai om op ’n manier nasionaal verteenwoordigend te wees, maar as jy dit nie laat uitkom by ’n gehoor nie, is dit betekenisloos.”
Saartjie Botha knik. “Middelklasmense kan nie bekostig om na die fees te gaan nie. Dis duur om daar te kom, en dis duur om daar te bly. Jy kan nie vir ’n gehoor dikteer nie. Hulle koop die kaartjies, en jy moet in hul behoeftes voorsien.”
Sy aarsel. “Ek dink daar’s baie politieke druk op die feesbestuur, en dis ’n fout; die fees moenie polities wees nie. Die voorsitter van die direksie, (prof.) Russel Botman, het verlede jaar op die nasionale radio gesê die eerste plig van die fees is om gehore te integreer.”
Sy skud haar kop heftig. “Hy kan dit nie sê nie, dis onverantwoordelik. Al daai goed is sekondêr, Die eerste belang is die kunste. As die fees die kunste dien, sal dit goedgaan met die kunstenaars.”
)))
MAAR soms sien die kunstenaars sommer na hulself om. Die akteurs Oscar Petersen en David Isaacs het nou al ’n gewoonte daarvan gemaak om saam met Sandra Temmingh KKNK toe te gaan – al lok hulle allermins die skares waaraan hulle gewoond geraak het met hul lokettreffer, Joe Barber. En al het van Temmingh se swart akteurs in die verlede al onder kwaai rassevooroordeel deurgeloop, meen Petersen Oudtshoorn het ook al aan hom die ander kant van die munt gewys.
Hy beklemtoon elke woord: “Ek het besef it’s not up to them to decide to engage, dis vir my om te besluit om te engage. En as ek prejudice het, dan het daai plek vir my die flipside gewys.”
Hy skep asem. “As jy kyk na Emo (Adams) se nuwe CD, sê dit proudly op die cover: ‘ t all, dark en Afrikaans’. Dis ons, dis ek! So ek sal nie meer na enige fees gaan vol excuses nie. Rassiste is oral, en as hulle op Oudtshoorn is, láát hulle daar wees! Ek’s óók daar. Ek encourage mense om soontoe te gaan; en of die fees hulle wil hê of nie, hulle moet push en hulle f—n stuff doen. Dit makie saak of ons ondersteun word of nie. Die feit dat ons daar is, is wat belangrik is.”
Isaacs val hom oudergewoonte in die rede. “Ons kan nie buitekant staan en kritiseer as ons nie engage nie. Dis hoekom ons spesifiek werke doen soos dié saam met Sandra wat anders is as wat ons gewoonlik doen.”
Petersen: “Ons kan afford om experimental te wees, maar daar’s baie coloureds wat dink hulle kan nie.” Hy snork. “Hulle sal f—n Kanna Hy Kô Hys toe f—n hóéveel keer nog doen – rêrig! Maar ons probeer vir mense wys daar’s ander options; doen nuwe dinge, probeer eksperimenteer. Ek gaan dalk soontoe en verdien k—kgeld, maar we’re going there to have some f—ing fun in spite of wat almal sê, want ons skep onse eie realiteit.”
Maar of jy jou eie realiteit skep of nie, soos Temmingh sê: “Ons vergeet alte maklik in hierdie land ons kom uit verskillende agtergronde.” Sy stel dit versigtig: “Die grootste fout wat iemand soos Mandela gemaak het, was om te sê ons is ’n nasie. Ons is nog glad nie ’n nasie nie. Ons is verskillende bevolkingsgroepe wat moet léér om saam een ding te word.”
Tussenin kan feeste maar net probéér om inklusiewer te wees, die Boere en Britte kan probéér om dit buite hul laers te waag, en die dramaturge kan probéér om met nuwe tekste vorendag te kom terwyl die teater na sy asem snak.
Petersen knik: “Liberation is ’n persoonlike ding. Jy kan nie almal wil mass liberate nie.”
En dan onthou hy hoe een van sy swart akteursvriende, Mbulelo Grootboom, verlede jaar amper in een van die feestente bygekom is oor sy “100% Boer”-T-hemp. Hy glimlag. “Daai ou wat hom wou m—r – miskien skrik hy môre wakker met twee angel wings op sy skouer, verstaan jy? Dis vir almal ’n proses.”
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |