|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
![]() Christus verskyn uit die Heilige Graal in die 13de eeuse graalroman Queste del Saint Graal.
By
Nagmaalsbeker: Heilige Graal en Steen
21/03/2008 08:53:37 PM - (SA)
TEEN die einde van die 12de eeu het ’n Fransman Robert de Boron ’n gedig geskryf wat die graallegendes van daardie tyd in ’n heel nuwe rigting gestuur het: Waar die fokus op die ridders, veral dan van Arthur se Ronde Tafel, en hul soektog na ’n mitiese graal, bron van materiële en geestelike heil slegs diegene suiwer van hart beskore, geval het, het De Boron die graal self sy fokus gemaak.
L’Estoire dou Graal het die geskiedenis van die graal na die Bybelse en Apokriewe Evangelies teruggeneem.
Die graal het nou Die Heilige Graal geword, die bak waarin Christus sy hand saam met dié van Judas tydens sy Laaste Avondmaal gesteek het en só sy verraaier uitgewys het. (Matt. 26:23).
DE BORON se Geskiedenis sou later bekend word onder die naam van die eerste deel daarvan: Joseph d’Arimathie. Hierin word verhaal hoe ’n volgeling van Christus, Josef van Arimathia, die bak van die Laaste Avondmaal gebruik het om Christus se bloed op te vang nadat Longinus sy lans in Christus se sy gesteek het.
Josef het Christus van die kruis gehaal en hom begrawe, maar is aangekla omdat hy die lyk sou “gesteel” het. Christus het hom in die tronk besoek en die Graal aan hom gegee. Elke dag het ’n duif ’n hostie in die Graal laat val en Josef só aan die lewe gehou.
Christus het hom onderrig in die betekenis van die Paassimbole wat tydens die Heilige Mis, sy Dood en Opstanding ter redding van die sondige mens, sou oproep. Onder meer lê Hy aan Josef uit dat die Avondsmaalbak – die Heilige Graal – ’n sakrament, ’n teken ter herinnering aan die steengraf (klipgraf, uitgekap in ’n rotswand) waarin Josef hom neergelê en waar Hy uit die dood opgestaan het, sal wees. Graal en graf funksioneer dus ikonografies wedersyds verwysend.
De Boron se Geskiedenis het ’n merkwaardige invloed op die ou (heidense) graallegendes gehad: Die ridders se soektog het nou spesifiek die soektog na die Heilige Graal van die Laaste Avondsmaal geword, die doel eenwording met die (Christelike) God, dus suiwering van die gees wat later as ’n (geestelike) Verligting beskryf sou word. Slegs diegene wat die naaste liefhet soos die self, maar God bo alles, kon die Heilige Graal “verwerf”.
Die Graal (oud-Frans: graal/grael = bak) is later ook as beker/kelk voorgestel. Die nagmaal behels dan ook die eet van brood (uit die bak), simbolies van Christus se gekruisigde liggaam, en die drink van wyn (uit ’n beker/kelk), simbolies van Christus se bloed wat as boete-verlossing van die sonde van die mens gestort is.
Dat die ridders se graaltogte van die Arthuriese romans ’n definitiewe Christelike onderbou in die laat 12de, vroeg 13de eeu verkry het, skryf letterkundiges en historici toe aan die Kruistogte wat vanaf die eerste Kruistog in 1095 met tussenposes regdeur die 12de eeu tot die negende Kruistog in 1271-’72 geduur het. Dié togte had ten doel die “redding” van die Heilige Land en spesifiek die Heilige Graf uit Moslem-hande.
BESONDER interessant is die Arthuriese verhaal Parzifal (1200-’10) geskryf deur die Frankoniese ridder en digter Wolfram von Eschenbach (c. 1170-1220). Von Eschenbach beskryf die Graal hierin as “lapsit exillis”. Kenners van die Arthuriese verhale is van mening dat die “lapsit” na “lapis” – steen/klip – en “exillis” na “ex celis” – uit die hemel – verwys. “Lapit exillis” beteken dus “Steen uit die hemel.”
Von Eschenbach gee nie ’n duidelike omskrywing van hierdie steen nie, maar beskryf die krag/mag van die steen om die feniks tot as te verbrand, maar terselfdertyd “bring die asse die feniks nuwe lewe.”
Dit voed die vegters wat daaromheen vergader is voortdurend en beskerm almal wat dit aanskou teen die dood: Die persoon bly dieselfde ouderdom wat hy/sy was die oomblik toe die steen die eerste keer gesien is. Slegs diegene wat gedoop is, kon die Graal sien.
Die feniks is uiteraard ’n eeue-oue simbool van wederopstanding/wedergeboorte. In konteks ’n duidelike heenwysing na die Kruisdood en Opstanding van Christus.
Waarom, egter, die Graal as ’n steen beskryf? Navorsing dui op vele moontlike verklarings: Daar bestaan, byvoorbeeld, ’n prosa-weergawe van De Boron se Joseph d’Arimathie wat direk verklaar “die houer (Graal) verwys na die steen”, bedoelende die steen wat voor Christus se grafopening geplaas is. (De Boron se Graal is ’n ryklik met edelstene versierde bak.)
In konteks van Von Eschenbach se verhaal gesien, is die steen ook die “filosoof se steen”, die eliksersteen van die Alchemiste wat as die bron van alle lewe beskou is. Die Heilige Elikser is gebruik om gewone materie (prima materie) tot sy perfekte essensie te transformeer. Die implikasie, sou dié verduideliking aanvaar word, is duidelik: Die Alchemistiese steen/elikser verwys na die dood (grafsteen) van Christus waardeur die gelowige sterfling getransformeer is tot onsterflike, gered uit die sondige natuur (dood) tot die ewige lewe in die Nuwe Jerusalem, een met God, waarin die essensie van die mens, geskape na die beeld van God, geopenbaar word.
DAAR is ’n baie ou Hermetiese verhaal wat vertel dat engele ’n smarag wat van die voorhoof van die duiwel afgeval het toe hy uit die hemel verban is en in die afgrond gewerp is, geneem het en daaruit die Heilige Graal geskep het. Die implikasie is dat die bloed van Christus wat in die Graal opgevang is, selfs Lucifer van sy sonde sou kon verlos.
Die (groen) smarag word by uitstek as ’n simbool van transformasie en onsterflikheid gesien. Die Romeine het dit met Venus geassosieer, dus met evolusionêre hernuwing wat in die lente in die natuur plaasvind.
Voorstellings van die kruis veral uit die Middeleeue het dan ook dikwels smaragstene aan die vier punte van die kruishout om die herlewing, deur die kruisdood bewerkstellig, te verbeeld.
Gesien bogaande, is dit aanloklik om Von Eschenbach se steen as ’n smarag te sien: In sy verhaal laat hy die kluisenaar Trevrizent aan Parzival vertel dat op elke Goeie Vrydag ’n wit duif uit die hemel kom en ’n hostie op die Heilige Steen plaas. (Vergelyk De Boron se gedig.)
Dit bied ’n treffende heenwysing na die Heilige Gees, waarvan die duif simbool is, wat ná Christus se opstanding na die aarde gestuur is om die mens deur die geloof na ’n nuwe lewe in Christus te lei.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |