|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
By
Uitsigloosheid & hoop
21/03/2008 08:43:20 PM - (SA)
AFRIKANERS het hoop verloor. Hoop op ’n beter lewe in die nuwe Suid-Afrika. Volgens die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge het reeds meer as 20% van die wit mense die land verlaat (Rapport, 17 Februarie 2008). Dié feit strook ook met praktiese ervaring. Byna elke Afrikaner wat nog in Suid-Afrika woon, het ’n vriend of ’n familielid in die buiteland. Enige gemeenskap wat op so ’n groot skaal van sy bekwaamste mense verloor, moet nie daaraan twyfel dat hy ’n ernstige bestaanskrisis beleef nie.
Die uitsigloosheid wat Afrikaners tans beleef, kan direk teruggevoer word na die dramatiese ineenstorting van hul hoofstroom-instellings aan die begin van die 21ste eeu en die gebrek aan strategiese en morele leiding van Afrikanerleiers die afgelope 20 jaar.
Onder Afrikaners is dié uitsigloosheid die laaste paar weke versterk nadat die bom oor die sogenaamde Reitz-DVD gebars het. Onmiddellik ná die bekendmaking van dié DVD het verskeie vooraanstaande Afrikaners kollektief hiervoor verantwoordelikheid aanvaar, hul openlike skaamte uitgespreek en verskoning gevra.
Gewone Afrikaners was verstom dat soveel van wit rassisme gemaak word, terwyl swart rassisme waarskynlik nie die voorblad van ’n koerant sal haal nie. Dit het verder bygedra tot die groeiende morele armoede onder Afrikaners.
OM Afrikaners nuwe hoop te gee en die emigrasiestroom te stop, het Afrikaners dringend nuwe leiding nodig. Maar nuwe leiding sonder visie en ’n plan loop uiteindelik op niks uit nie. Dit is die les van die afgelope 20 jaar.
Aan die einde van die tagtigerjare was daar hoofsaaklik drie politieke bewegings binne Afrikanergeledere. Die Konserwatiewe Party (KP) onder leiding van dr. Andries Treurnicht, die Nasionale Party (NP) onder mnr. FW de Klerk en ’n liberale beweging onder leiding van dr. Frederik Van Zyl Slabbert.
Nie een van hierdie partye of bewegings kon die toets van die tyd deurstaan nie. Die KP, wat hom beywer het vir die behoud van apartheid, se lig het eerste verdof. Tyd en realiteit het hom ingehaal.
Die NP het gedink dat indien hy polities hervorm en aanpas, die algemene posisie van wit mense in wesenlike opsigte dieselfde gaan bly. NP-leiers was sterk voorstanders van magsdeling en het daaroor onderhandel. Van magsdeling het niks gekom nie, en die party wat dit voorgestaan het, bestaan nie meer nie.
Ook die liberaliste wat volstoom geveg het om apartheid uit die weg te ruim, het hul fut verloor. Al het Suid-Afrika ’n sogenaamde model-grondwet, raak misdaad buite beheer, sit ons met ’n nuwe elite wat die een voordeel ná die ander inpalm, ’n ineenstorting van munisipale dienslewering oral in die land en ’n regering wat openlik ’n beleid van stille goedkeuring teenoor Zimbabwe volg.
Die “dapper manne” wat in 1987 die moed gehad het om in Dakar met die ANC te gaan praat, bevind hulle vandag in die politieke woestyn. Hul teleurstelling is goed deur Chris Louw verwoord toe hy verlede jaar ná die twintigjaar-reünie van die Dakar-gesprek geskryf het: “Hoe is dit moontlik dat nie ’n enkele van ons destydse gespreksgenote in die ANC Die Burger se Dakar-konferensie as belangrik genoeg ag om dit by te woon nie?” (Die Burger, 21 Julie 2007.)
HIERDIE gebrek aan leiding en strategiese visie het ook ’n direkte impak op die onderhandelinge voor 1994 en die daaropvolgende grondwet van 1996 gehad.
Die Afrikaner-onderhandelaars wou nie ’n grondwet met ’n sterk federale karakter, wat die nodige demokratiese leefruimte en selfstandigheid vir minderhede sou kon gee, beding nie. Die gevolg was ’n grondwet met ’n sterk sentralistiese aard, wat hom vatbaar maak vir die diktatuur van die meerderheid en verkiesings verskraal tot blote “rasse-sensusse”. Elkeen in die land kan weliswaar nou stem, maar wat beteken jou stem as dit geen werklike verskil kan maak nie?
Hermann Giliomee stel dit duidelik dat gewone meerderheidsregering nie in 1994 die enigste opsie was nie en dat demokrasie wêreldwyd in baie vorme voorkom. Hy haal Donald Horowitz aan wat in 1991 gesê het “ . . . die soort meerderheidsregering wat in Brittanje en die VSA aangetref word, in ’n land soos Suid-Afrika slegs een soort rasse- of etniese oorheersing vir ’n ander verruil” (Die Afrikaners, bladsy 594).
Die ANC-onderhandelaars was baie uitgeslape en het geweet waaroor om te onderhandel. ’n Anekdote uit Slabbert se onlangs gepubliseerde boek illustreer hierdie punt duidelik: “Cyril het my vertel die oomblik toe Roelf dié beginsel (van meerderheidsregering) namens die regering se onderhandelingspan aanvaar, het hy (Cyril) gevra vir ’n verdaging van 15 minute ‘sodat ons opsy kon gaan na ons eie kamer en kon uitbars van die lag’.” (Duskant die Geskiedenis, bladsy 49.)
NA my mening moet ’n nuwe visie en plan uit twee dele bestaan. In die eerste plek moet Afrikaners hul morele selfvertroue herwin. As gemeenskap kan hulle nie kollektief verantwoordelikheid aanvaar vir elke wandaad wat ’n mede-Afrikaner pleeg nie. Rassistiese optrede deur Afrikaners is die uitsondering, en geen geloofwaardige Afrikanerleier of instelling lewer ’n pleidooi vir ’n rassistiese of diskriminerende samelewing nie.
Die openbare mening en magsmiddele is op ’n ongelyke grondslag teen Afrikaners opgestel. Elke geleentheid sal gebruik word om Afrikaners aan 350 jaar van onderdrukking te herinner.
Hierdie morele aanvalle kan alleenlik met ’n morele argument beantwoord word – ’n morele argument wat in die eerste plek Afrikaners hoop gee, wat in die tweede plek hul bydrae tot die heil en sukses van Suid-Afrika verwoord en in die laaste instansie internasionaal verdedigbaar is.
Hierdie morele argument moet gebou word op die feit dat Afrikaners oor verskeie eeue heen, hoewel van Europese afkoms, inheems aan Afrika geword het. Dat hulle geen ander vaderland as Suid-Afrika het nie en kragtens internasionale ooreenkomste en verdrae daarop geregtig is om hul taal en kultuur te kan uitleef en beskerm.
Vanuit ’n gegronde morele basis sal Afrikaners in staat wees om saam met ander gemeenskappe op gelyke voet ’n nuwe droom vir Suid-Afrika te bedink – die droom van ’n ander nuwe Suid-Afrika as die een wat tans sy beslag kry; ’n nuwe “nuwe Suid-Afrika” gevestig op ’n federalistiese grondslag; ’n grondslag wat vir die kultuurverskeidenheid van die land voorsiening maak en genoeg magte na gemeenskappe afwentel wat dit vir hulle moontlik maak om selfstandig te handel.
Die tweede gedeelte van die visie en plan is dat Afrikaners verantwoordelikheid vir hul eie toekoms moet aanvaar. Die vorm wat Afrikaners se toekoms aanneem, is direk afhanklik van hul vermoë tot selfstandige handeling en kollektiewe politieke bedinging.
Hierdie punt word deur Danie Goosen, voorsitter van die FAK, onderstreep wanneer hy vra: “Het dit nie tyd geword dat die Afrikaners op ’n kollektiewe grondslag ernstige oorweging gee aan die moontlikheid om binne die bestaande grondwetlike bedeling dorp- en stedelike ruimtes te skep waarbinne hulle op ’n selfstandige wyse inhoud aan ’n gedeelde lewe kan gee nie? Stede word vandag opnuut ervaar as ruimtes waarbinne gemeenskappe op ’n demokratiese grondslag kontinuïteit aan hulself kan gee. As dit elders kan gebeur, waarom nie ook onder Afrikaners nie?” (Voorgrond, Desember 2007, bladsy 19.)
’n Goeie voorbeeld van selfstandige handeling is die inisiatief wat die vakbond Solidariteit geneem het met die oprigting van sy tegniese kollege, Soltech. Sonder om vir optrede deur die regering te wag het die vakbond die ondernemingsgees aan die dag gelê om ’n instelling te skep wat jongmense in Afrikaans oplei en bemagtig.
VERREWEG die meeste van die Afrikaners het geen behoefte aan ’n rassistiese toekoms nie en verlang nie na apartheid terug nie. Hulle is bereid om meer as hul kant te bring om van Suid-Afrika ’n sukses te maak.
Dan moet dit egter op die grondslag van wedersydse erkenning wees – erkenning aan die een kant van die geregverdigde strewes van die meerderheid van die swart mense om vir hulself ’n nuwe toekoms te skep, maar aan die ander kant ook erkenning aan Afrikaners om vir hulself, soos enige ander minderheidsgroep wêreldwyd, instellings, ruimtes en plekke te skep waar hulle hulle kan uitleef. Soos Carel Boshoff IV dit op ’n keer gestel het: “ ’n Minderheid kan alleenlik tot sy reg kom indien hy ook oor ruimtes en instellings beskik waar hy ’n meerderheid is.”
Afrikaners sal egter nie langer kan toelaat dat ’n klompie morele kruisvaarders die openbare mening onder hulle dikteer nie. Hulle wat trots dié boodskap uitdra: “Ons is Afrikaners en ons is skaam.” Hulle wat reeds etlike jare die begrip Afrikaner onder verdenking plaas (wie is die Afrikaner?), die non-woord Afrikaanses uitgedink het (gebruik iemand dit nog?) maar by die eerste geleentheid waar Afrikaners in ’n morele konsentrasiekamp ingejaag word onbeskaamd vir hul Afrikanerskap opstaan.
Om Afrikaners wat wil emigreer te probeer oortuig om te bly met die sentimentele retoriek “ons vir jou Suid-Afrika” is onverantwoordelik. Duidelikheid oor die visie en plan is ’n voorvereiste.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |