|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
By
Woensdagaand om seweuur
21/03/2008 08:42:24 PM - (SA)
WOENSDAG AANDE was biduuraand in die klipkerk op ons dorp.
Dit het om seweuur begin, en dit was altyd min of meer dieselfde klompie wat daar was: oom Andries en tant Sannie, oom De Wet en tant Rina, tant Hester, oom Hansie, en die weduwees tant Berdina, tant Sus, tant Baby; en nog ’n paar ander.
Die bidure is maar skraps bygewoon, en miskien was dit maar goed so, want die Here, dink ek in alle opregtheid, het klaar Sy hande vol gehad met al die klagtes, smekinge, versugtings, versoeke, aanwysings, aanbevelings en goeie, menslike raad wat Hy elke Woensdagaand van ons dorp af ontvang het.
Oom Andries het selfs week na week vir Hom gevra om tog namens Suid-Afrika by die destydse Verenigde Volke Organisasie – die VVO – in te gryp: “O, dierbare, almagtige Vader, ontferm U tog oor die manne en vroue wat Suid-Afrika se saak in die VVO se raadsale daar in die vreemde stel. Laat U nabyheid daar geld en gee hulle die krag dat hulle soos ’n Daniël in die leeukuil ons vyande kan oorwin.”
EK sal jok as ek sê ek is vrywillig saam met my pa en ma na daardie bidure toe.
Hoe het die grootmense destyds gesê? Kinders word gesien en nie gehoor nie.
Wel, ek is elke Woensdagaand gesien waar ek agter my ma die kerk instap, met my Bybel – een van daardie met die ritssluiters – in die hand.
ONS het altyd op dieselfde plek gesit: Die agtste ry van voor af, in die middelblok. Almal het altyd op dieselfde plek in die kerk gesit.
Op oom Andries en tant Sannie se plek in die derde ry van voor het permanent twee bont kussings gelê. Dowe oom Bontjors se kussing het op die heel voorste bank gewag, op die punt, by die gehoorapparaat wat soos ’n telefoon daar gehang het.
Oom Hansie, weer, het sy kussing saamgebring, so ’n plat groene, met ’n Springbok-wapen op, wat al dof gesit was, want hy het die kussing ook saamgeneem wanneer hy rugby op die De Beers-stadion in Kimberley gaan kyk.
Ek wonder steeds hoekom het my ma en die ander tantes pepermente of sen-sens gesuig voor die biduur begin. Hulle het dit andersins nooit gedoen nie.
Wou hulle seker maak hul asem ruik lekker wanneer hulle met hul Maker praat?
Dominee het op biduuraande nie op die preekstoel geklim nie. Hy het ook nie ’n toga gedra nie. Hy het ’n kort boodskap van die kateder voor die preekstoel gebring, dan het hy gesê: “Ons gee nou geleentheid vir gebed.”
Dan het die uur van bid begin.
Oom Andries, die hoofouderling, het altyd eerste op sy Clarke-skoene orent gekom: “Almagtige God en hemelse Vader, ons staan vanaand hier voor U . . .”
Oom Andries het namens almal gou vir die Here ’n kort opsomming gegee wat die afgelope week op die dorp gebeur het: die reënval-situasie, wie siek is en wie nie meer siek is nie, hoe die bouwerk aan die nuwe pad vorder, “en Here, die perskes en die appelkose kom ook nou mooi aan, wees U die sonlig wat op hulle skyn”.
Ná oom Andries het oom Hansie gewoonlik opgestaan, terwyl almal met geboë hoofde gesit het. Buite die kerk het miskien ’n uil geroep of ’n hond geblaf of ’n Ford Anglia voor oom Uys se hotel weggetrek.
Oom Hansie het met die Liewenheer gesels, asof die Liewenheer sommer hier naby op Kuruman gewoon het: “Liewenheer, ek sê vanmôre vir my vrou Martie. Ek sê vir haar: Mamma, ons moet vir die Here vra – ons moet vir U vra om ons tog te help om ’n nuwe bakkietjie in die hande te kry. Die Vader weet, liewe Heer, daai ou Datsuntjie van my is nou gedaan van die grondpaaie hier by ons . . .”
In die rugbyseisoen het oom Hansie ook graag “vir ons rugbyspelers” gebid – veral vir die Griekwa-rugbyspan. Ons span.
Daarom was dit nie vir ons so ’n groot verrassing toe Griekwas die Blou Bulle teen alle verwagtinge in 1970 se Curriebeker-eindstryd geklop het nie, want ons was die Woensdagaand voor die wedstryd in die biduur. Ons het oom Hansie hoor pleit.
En dan, ná oom Hansie, het oom De Wet regop gekom. Dit was asof oom De Wet in sy gebede vir oom Andries-hulle wou herinner aan die Gans Andere, want oom De Wet het gekonsentreer op die nietigheid van ons hier op ons dorpie: “Wat is die mens dat U aan hom dink, o, Heer? Hoe ondeurgrondelik U weë, hoe onnaspeurlik U dade . . .”
Dan, terwyl oom De Wet nog aan die gang kom, het dowe oom Bontjors doof opgestaan, met sy bulderstem, salig onbewus van oom De Wet: “Ure, dae, maande, jare, U is in beheer van alles, o, Heer . . .”
Vir ’n rukkie het oom Bontjors en oom De Wet dan in duet gebid, totdat oom De Wet later maar stilgebly en weer gaan sit het.
Die weduwees het nie gebid nie, nie hardop nie. Tant Hester het wel gebid, sittend: “U is die pottebakker, o, Heer, ek is die klei. Vorm my en maak my . . .”
HULLE het vir baie dinge gebid, hierdie ooms en tantes: die VVO, die manne op die grens, die manne en vroue in die staatsdiens, die sendelinge in kommunistiese lande en in Japan en Malawi.
Hulle het selfs vir ons vyande gebid – en vir Charles Jacobie wat die volgende week op ons dorp sou optree.
Nederig en opreg het hulle gebid, terwyl die swaeltjies in hul neste onder die kerkgebou se balke slaap, terwyl die vlerkmuise in kringe in die donker vlieg, en die wind deur die peperbome fluit, en die rook laag oor die township op die rant van die dorp hang.
Ek dink soms aan daardie Woensdagaande.
Ek dink aan daardie aande.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |