|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
|
|
||||||||
![]() By
MONDUITSPOEL: ‘Mix-up’oor porno op MXit
REINHARDT BUYS 18/08/2006 10:57:22 PM - (SA)
‘n Debat oor kaal boude, die media, selfone, hoofseuns en hul moeders – met ‘n sydelingse verwysing na minder belangrike dinge soos die Grondwet en verantwoordelikheid. VOLGENS IT-kenners is dit tans die innoverendste tegnologie in Suid-Afrika. Volgens ander “bedreig dit onskuldige jong lewens”. Dit is só gewild, ouers dink dit is verslawend. Die meeste mense wat ouer as 25 is, weet nie wat dit is nie, maar 1,5 miljoen jongmense kan nie daarsonder klaarkom nie. Die tegnologiekenner Ramon Thomas van Netucation verwys daarna as “een van die grootste plaaslike suksesstories tot nou toe”, maar Antoinette Basson, sielkundige by die Rolprent-en-publikasieraad, noem dit “die grootste probleem” wat jongmense aan pornografie blootstel. Dit is nou MXit - die plaaslike killer app wat ’n brug tussen selfoon-SMS en die internet gebou het – dit is SMS op ’n rekenaar en instant messaging op ’n selfoon. En dis goedkoop. Spotgoedkoop. . . teen minder as 1c per boodskap is dit 50 keer so goedkoop as SMS. En dit het die land aan die praat – nie net die 1.5 miljoen jongmense wat daagliks meer as 100 miljoen boodskappe stuur en ontvang nie, maar ook hul ouers, onderwysers, bloggers, joernaliste en selfs Carte Blanche. En soos politiek, godsdiens en rugby, is gevoelens oor MXit wyd uiteenlopend. Aan die een kant is dit innoverend, bemagtigend en ’n suksesverhaal en aan die ander kant gevaarlik, verslawend en problematies. DRIE weke gelede waarsku Huisgenoot en You ouers teen die “nuutste tegnofoefie (sic) waaraan duisende tieners verslaaf raak”. Ouers vertel hoe geskok hulle was oor die inhoud van boodskappe wat hul tieners van ander MXit-gebruikers ontvang het. Een pa merk op dat “die meisies deesdae net so agter die seuns aan is as wat seuns agter die meisies aan is”. Met ander woorde, MXit bemagtig vroue. Daar word ook vertel van tieners wat berading moes ontvang nadat hulle glo seksueel deur MXit-boodskappe verneder is. Hoekom die vingers na MXit wys, is moeilik om te verstaan. Soos selfoonverskaffers en selfs die poskantoor, bied MXit slegs ’n kommunikasiediens aan. Is selfoonmaatskappye verantwoordelik vir SMS’e van ’n seksuele aard? Is die poskantoor verantwoordelike vir briewe wat vernederend is? Aikôna. Kort ná die Huisgenoot- en You-artikel bied Devi Govender ’n Carte Blanche-program oor Mxit aan – Smut on Small Screens. ’n Veertienjarige meisie vertel hoe sy iemand in een van die MXit-kletskamers ontmoet het. Ná ’n oor-en-weer-ge-SMS het sy haar persoonlike selfoonnommer vir die vreemdeling gegee. Die persoon wat haar enkele sekondes later geskakel het, was egter glo allermins minderjarig. Na bewering. Met ander woorde, MXit is ’n skuilplek vir pedofiele omdat gebruikers skuilname gebruik en dus kan voorgee hulle is iemand anders. Dit is inderdaad waar dat internet-kletskamers, kitsboodskapdienste soos MSN Messenger en ander anonieme gespreksforum deur ongewenste elemente misbruik kan word om tieners seksueel uit te lok. Juis daarom dat hierdie dienste onderhewig is aan streng gebruiksreëls, waarvan die belangrikste reël is dat ’n persoon nooit persoonlike inligting aan vreemdes moet verklap nie. Jongmense, soos die 14-jarige waarvan Carte Blanche vertel, wat eenvoudig die goue reël van “kitsklets” verontagsaam, maak nie net teikens van hulself nie, maar sorg ook daarvoor dat kletskamers ’n aantreklike opsie vir pedofiele bly. Solank daar iemand is wat bereid is om reëls te breek, sal daar vir pedofiele ’n rede wees om dit te misbruik. So onlangs as verlede naweek beweer ’n sielkundige van die Rolprent-en-publikasieraad op die voorblad van die Sunday Independent dat MXit die groot sondebok is wat jongmense aan seksuele inhoud en selfs kinderpornografie bekend stel.
DIE stelling is nie net ongegrond nie, maar ook tegnies onmoontlik. MXit is tot teksboodskappe beperk en kan nie vir video of selfs foto’s tussen gebruikers benut word nie. Dalk is dit waar dat meer jongmense meer pornografie van die internet aflaai en dit deur SMS-boodskappe versprei, maar dit het absoluut niks met MXit te doen nie. Tensy, natuurlik, die pornografie tot 200-karakter-teksboodskappe beperk is. ’n Bekende hoërskool in Oos-Londen het ook onlangs ’n nuusbrief aan ouers gestuur waarin hy opmerk sommige tieners het erken hulle is aan MXit verslaaf.
DAAR’S natuurlik ’n fyn lyn tussen gewild en verslawend in hierdie konteks. Soos die term hier en deur Huisgenoot / YOU gebruik word, sal mens seker kan argumenteer dat sommige mense aan Egoli, Idols of selfs die Huisgenoot verslaaf is. MXit se kantore op Stellenbosch het na bewering dreigbriewe ontvang ná afloop van die Carte Blanche-program en die maatskappy se reputasie ly ongekende skade as gevolg van die beweerde assosiasie met tiener-verslawing, aanlyn- seksuele uitlokkers en kinderpornografie – almal kwessies met sterk negatiewe stigmas waarmee geen professionele maatskappy geassosieer wil wees nie. Die nagenoeg 3 miljoen ouers van tieners wat MXit gebruik, vra tereg wat die werklike feite is. Is tegnologie, en meer spesifiek Mxit, die sondebok of lê die probleem eerder by tieners wat die tegnologie om verkeerde redes gebruik of dalk by hul ouers, wat uit blote onkunde alle elektroniese kwaad aan MXit toeskryf? IS die kritiek teen MXit geldig en betroubaar of is dit die moderne weergawe van plate agteruitspeel? ’n Amerikaanse koerant noem dit “the curse of any rapidly growing, hugely popular and disruptive technology”, met verwysing na MySpace. MySpace is tans een van die gewildste dienste op die internet. Gebruikers kan ’n sosiale netwerk rondom ’n profiel skep en boodskappe stuur, musiek deel en selfs foto’s publiseer. Maar soos in die geval van MXit is dit nie die voordele en bekostigbaarheid wat media aandag kry nie, maar eerder die handjievol probleme en verleenthede (of eerder beweerde probleme en verleenthede). MySpace het onder dieselfde kritiek as MXit deurgeloop. Selfs erger. ’n Veertienjarige en haar ma het onlangs ’n hofgeding begin om $14-miljoen van MySpace te eis. Die tiener is glo aangerand deur ’n persoon wat sy op MySpace ontmoet het. ’n Mens wonder of die ma en dogter ook sou dagvaar as die paartjie mekaar in ’n MacDonald’s-kitskosrestaurant ontmoet het? Die kritiek en sensasie het so ver gevorder dat die Amerikaanse senaat onlangs ’n wet aanvaar het wat MySpace in enige openbare biblioteek of openbare internet- toegangspunt verbied. Die meer as honderdmiljoen MySpace-intekenare sal dus voortaan net vanaf private rekenaars op hul gunsteling-internetdiens kan inteken. MXit is Suid-Afrika se MySpace. In ’n poging om die feite van die sensasie en wolf-wolf-stories te skei, moet ’n mens eerstens verstaan wat MXit is en wat dit nie is nie. MXit is ’n diensverskaffer wat dit moontlik maak om teksboodskappe tussen selfone en rekenaars teen ’n fraksie van huidige SMS- koste te stuur. MXit is nie ’n inhoudsverskaffer nie. MXit skep en versprei geen inhoud nie. MXit is nie die internet op ’n selfoon nie. Soos die poskantoor briewe aflewer, lewer MXit teksboodskappe van gebruikers. Net so min as wat die poskantoor weet wat in elke brief geskryf staan, weet MXit wat die inhoud van elkeen van daardie 100 miljoen daaglikse teksboodskappe is. En net soos wat die poskantoor nie vir skadelike en onwettige briewe aanspreeklik gehou kan word nie, kan MXit nie vir sulke boodskappe pa staan nie. Inteendeel, diensverskaffers soos MXit word deur wetgewing verbied om boodskappe te onderskep en te monitor. Dit is die polisie se werk. ENIGE beweerde verband tussen MXit en pornografie is onsin X feitlik en tegnies onmoontlik. Wat wel waar is, is dat MXit-kommunikasie anoniem is. Alle gebruikers het skuilname en dit kan misbruik word deur ouer persone wat voorgee dat hulle tieners is. Wat die MXit- kritici miskyk, is dat ander tegnologie soos SMS’e, telefoongesprekke, e-pos en internet- kletskamers ook anoniem is en dus ook deur misdadigers misbruik kan word om met jongmense kontak te maak. Selfs die gespreksforums op Huisgenoot, You en Carte Blanche se onderskeie webruimtes is anoniem! Anonieme kommunikasie het voordele sowel as nadele. Dink byvoorbeeld aan ons strafregstelsel wat op anonieme leidrade gegrond is. Daar is goeie redes waarom baie mense nie hul ware identiteit aan hul anonieme kommunikasie wil koppel nie. Hulle kan bang wees vir negatiewe reaksie van hul werkgewer, ouers of selfs vriende. Die reg om anoniem te kommunikeer, laat verklikkers (whistleblowers) toe om gevalle van korrupsie en magsmisbruik aan die media en polisie te verklap. In sommige gevalle is anonieme kommunikasie die enigste manier vir tieners wat swanger is of wat seksueel misbruik word, om raad en hulp te vra. Die suksesvolle verhoor van baie misdadigers het as ’n anonieme boodskap begin. Die Amerikaanse hooggeregshof het in 1995 die geleentheid gehad om te besluit of daar wel iets is soos ’n reg om anoniem te kommunikeer. Die belangrikste paragraaf in die McIntyre v Ohio Elections Commission-uitspraak lui soos volg: “Protections for anonymous speech are vital to democratic discourse. Allowing dissenters to shield their identities frees them to express critical, minority views. . . Anonymity is a shield from the tyranny of the majority. . .. It thus exemplifies the purpose behind the Bill of Rights and of the First Amendment in particular: to protect unpopular individuals from retaliation. . . at the hand of an intolerant society.” Om anonieme spraak te verbied of te verhinder, omdat dit dalk deur pedofiele misbruik kan word, sal baie meer skade as goed doen. Die eerste slagoffers sal vryheid van spraak en privaatheid wees. Pedofiele en molesteerders is ’n wrede werklikheid van ons samelewing – in winkelsentrums, in skole, in kerke, in openbare toilette en op die internet. Een oplossing is om ons jongmense weg te hou van winkelsentrums, skole, kerke en die internet. ’n Beter oplossing is om hulle van die gevare in te lig en om hulle toe te rus om dit raak te sien en self te vermy. TOEVALLIG is die resultate van die enigste langtermynstudie oor aanlyn-misdade teen kinders ook vandeesweek bekend gemaak. Die Crimes Against Children Research Centre van die Universiteit van New Hampshire het ’n opname onder 1 500 tieners vergelyk met die resultate van ’n soortgelyke opname vyf jaar gelede. In die studie is nie net bevestig dat tieners minder e-pos gebruik en meer teksboodskapdienste soos MXit nie, maar ook dat minder tieners tans deur pedofiele uitgelok word as vyf jaar gelede (19% teenoor 13%). Nuwe tegnologie soos die internet het voordele en nadele. Hoewel pornografie om een of ander rede die meeste aandag in die media kry, is daar ook ander gevare – blootstelling aan oormatige geweld, rassisme, haatspraak, laster, dreigemente, teistering en instruksies om bomme van huishoudelike skoonmaakmiddels te maak. Die aflaai en deel van musiek in stryd met outeursregwetgewing, wat bitter gewild onder Suid-Afrikaanse jongmense is, is net nog ’n voorbeeld van ’n aanlynjeug- oortreding. Hieroor lees mens bitter min in die media. ’n Mens moet ook in gedagte hou dat daar ’n groot verskil is tussen kinderpornografie (wat in omtrent elke land onwettig is) en kinders wat na pornografie kyk. Daar is net so ’n groot verskil tussen gevaarlike inhoud wat aan ’n onskuldige kind opgedwing word en nuuskierige kinders wat doelbewus daarna soek of vra. ’n Tiener wat die skuilnaam “Hornyteen16” gebruik, kan nie verskriklik verras wees as iemand ’n ongewenste boodskap aan haar rig nie. Dieselfde argument geld ’n tiener wat flink genoeg is om ’n selfoon te kan gebruik, maar nogtans die uitdruklike reëls en waarskuwings om nie persoonlike inligting met vreemdes te deel nie, verontagsaam. Die Grondwet en ’n hele paar stukke wetgewing is daarop gerig om jongmense teen misdrywe soos seksuele uitbuiting en kinderpornografie te beskerm. Maar daar is ’n verskil tussen pornografie wat aan onskuldige tieners beskikbaar gestel word en tieners wat doelbewus daarna soek. Net soos wat daar ’n verskil is tussen kinderpornografie en pornografie wat deur tieners self geskep en versprei word. IN Maart 2006 is die hoofseun van ’n Welkomse hoërskool skriftelik gewaarsku nadat hy eksplisiete naakfoto’s van homself aan ander skoolkinders gestuur het. Hoewel die jongman tegniese gesproke kinderpornografie geskep en versprei het, kan mens kwalik verwag dat hy tien jaar agter tralies moet gaan sit. Die studie van Crimes against Children Research Centre bevestig ongelukkig hierdie tendense. Die aantal tieners wat uit eie wil pornografiese webruimtes besoek, het van 5% tot 13% gestyg. Aanlyn-teistering het ook die afgelope 5 jaar met 50% toegeneem. Voorbeelde daarvan is dreigende boodskappe en boodskappe wat verneder en verkleineer. Die debat oor wat kinders mag sien en hoor, is niks nuuts nie. Die Griekse filosoof Plato het sy idees van ’n perfekte wêreld in Die Republiek beskryf. Volgens hom moet musiek, kunswerke en letterkunde gesensor word omdat dit “jong en onnadenkende mense” aan “vreemde gedagtes” kan voorstel. Net daardie idees wat “uithouvermoë en militêre bravade” beklemtoon, moet toegelaat word. Plato was dus nie so slim soos wat baie van ons dink nie. NIEMAND kan argumenteer dat jongmense nie teen skadelike materiaal, aanlyn en andersins, beskerm moet word nie. Die verantwoordelikheid word gedeel tussen ouers, die staat en tegnologie-diensverskaffers. Soos jongmense ouer word, begin hulle ook toenemend in die verantwoordelikheid deel – onder andere om by die gebruiksreëls te hou en om nie self aan die skep en verspreiding van skadelike materiaal skuldig te wees nie. Hierdie verantwoordelikhede word prakties en eenvoudig op die Microsoft-webruimte verduidelik. Daar is videomateriaal, handleidings en selfs wenke hoe om aanlyn- seksuele uitlokking te hanteer. Die materiaal is beskikbaar by: http://www.microsoft.com/athome/security/children/default.mspx. Grondwetlike regte soos vryheid van spraak, privaatheid en die reg op inligting impliseer ewe belangrike verantwoordelikhede – vir jongmense, hul ouers en diensverskaffers soos MXit. Maar dit is nie eintlik waaroor hierdie artikel en die afgelope maand se debat rondom MXit gaan nie. Waaroor dit eintlik gaan, is persvryheid. Huisgenoot, You, Carte Blanche en die Sunday Independent het elke week die reg om miljoene mense se opinies te beïnvloed. Daardie reg impliseer geweldige verantwoordelikhede: om akkuraat, onpartydig en regverdig oor belangrike maatskaplike kwessies te berig, om nie sensasie ten koste van die waarheid te bevorder nie, om albei kante van ’n saak te stel, om iemand wat aangeval word, die reg op repliek te gee en om nie materiële elemente van ’n debat te verswyg nie. Hoe kan ons verwag dat jongmense regte soos bekostigbare tekskommunikasie met verantwoordelikheid gebruik as ons bekendste tydskrifte, TV-programme en koerante dit nie kan of wil doen nie? Aikôna. • Die skrywer is ’n kuber-prokureur van Kaapstad.
|
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |