Webwerf   Argiewe   Foto's   Netads 
685 dae tot afskop
2010
WEER » Kaapstad 12º/16| Worcester 13º/18| George 12º/23| Port Elizabeth 16º/25 Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com

  TUIS  

  NUUS  

  MULTIMEDIA  

  SPORT  

  SAKE  

  VERMAAK  

  OPINIE  

  BLOGS  

  FEATURES  

  MOTORS  

  FEATURES  

  BUITE  

  LEEFSTYL  

  MOTORS  

  GESONDHEID  

  LANDBOU  

  BY  


VERSEKERING
Spaar tot 25% by OUTsuranceKliek hier vir motor-, huisinhoud- en besigheidsversekering en ons bel jou terug.
Die sleephelling by Kleinbaai waar die haaibote elke dag die kus verlaat.Foto: JONATHAN LESTRADE
Die sleephelling by Kleinbaai waar die haaibote elke dag die kus verlaat.   Foto: JONATHAN LESTRADE
Buite
Haaikykbedryf in kollig
12/05/2008 09:03:37 PM - (SA)

DIE tragiese dood van drie oorsese toeriste op ’n haaikyk-uitstappie naby Gansbaai aan die Overbergse kus het weer die kollig op die wenslikheid van hierdie oënskynlik hoogs winsgewende toeriste-aktiwiteit laat val.

Gansbaai, die Overstrand en Overberg trek vir die land groot voordeel uit hierdie bedryf, wat die afgelope 14 jaar – tot onlangs – sonder voorval letterlik duisende toeriste in hierdie adrenalien-ervaring laat deel het.

Haaikyk-aktiwiteite trek nuuskieriges, belangstellendes en skrikkeriges om hierdie majestueuse diere in hul natuurlike omgewing van nader te gaan bekyk – hetsy net vanaf die oppervlak en die veilige platform van ’n spesiaal ontwerpte haaikykboot of (vir die meer waaghalsiges) vanuit ’n staalhaaihok wat die besoeker toelaat om die haaie in hul natuurlike habitat onder die water dop te hou.

Maar hoekom nou juis die Gansbaai- en Kleinbaai-gebied? Die antwoord hierin lê opgesluit in die nabyheid van Dyer-eiland, ’n eiland van ongeveer 20 ha sowat 5 km van die kus tussen Kleinbaai en Pearly Beach en sowat 12 km suidoos van die bekende Danger Point.

Die eiland is in 1806 vir die eerste keer deur ene Samson Dyer, ’n swart Amerikaner wat robbe vir ’n Amerikaanse maatskappy doodgeslaan het, bewoon.

Die eiland, wat tans deur Kaapse Natuurbewaring (CapeNature) bestuur word, huisves ook een van die grootste broeikolonies van die Kaapse pikkewyn (Spheniscus demersus), tesame met tientalle ander seevoëlspesies.

Ongeveer 2 000 pikkewyn-broeipare is op die eiland. Die naasliggende Geyser Rock is ’n rotsagtige eilandjie van ongeveer 3 ha wat een van die grootste kolonies van Kaapse pelsrobbe (Arctocephalus pusillus) huisves – tot 55 000 robbe word op die hoogtepunt van die kalfseisoen daar aangetref.

Dit is tussen Dyereiland en Geyser Rock, in die sogenaamde shark alley, waar Carcharodon carcharias, in die volksmond bekend as die groot witdoodhaai, op jag is.

Maar mnr. Wilfred Chivell, eienaar van Marine Dynamics en Dyer Island Cruises en een van die geregistreerde haaikyk-ondernemers met ’n konsessie om toeriste per boot na Dyer-eiland en die omgewing te bring, meen die naam skep die verkeerde persepsie van dié diere.

“Ons moet eerder praat van withaaie, soos die Engelse weergawe tereg great white sharks is. Die idee dat dié haaie mense as prooi sien, is heeltemal verkeerd en ’n wanvoorstelling van hul rol in die natuur. In die see is hulle wel omtrent boaan die voedselketting, maar hulle is nie mensejagters nie; die feit dat ek feitlik my hele lewe lank al in die omgewing duik en visskiet, is lewende getuienis daarvan,” het hy gesê.

Nietemin trek hierdie deel van die Overberg groot ekonomiese voordeel uit die bedryf, en op die ou end baat die hele land.

Die besigste tyd vir die haaikykbedryf is die laat winter en die lente – van Augustus tot November.

Dit oorvleuel dan ook met die koms van die suidelike noorkapper-walvisse na die streek, wat op sigself baie besoekers lok.

In ’n onlangse ekonomiese ondersoek is bevind dat maandeliks tot 4 200 toeriste na Gansbaai stroom om uitsluitlik haaikyktoere te onderneem.

Danksy die agt geregistreerde en gelisensieerde aanbieders onderneem bykans 35 000 mense jaarliks hierdie toere.

“Die impak van die geld wat toeriste in die Overstrand-gebied bestee as hulle na die withaaie kom kyk, is betekenisvol,” sê Chivell.

“Die haaiboot-operateurs se bedryfskoste is derduisende rande aan brandstof, toerusting, die versiening van hul bote en voertuie, permitgelde, administratiewe infrastruktuur en salarisse van hul personeel.

“Dit beloop jaarliks meer as R14 miljoen. Aan brandstof alleen bestee die ondernemers meer as R25 000 per maand, en teen die huidige brandstofpryse is dit aansienlik meer.”

Volgens Chivell bestee die toeriste nie net geld aan die tarief wat hulle vir die haaikyk-uitstappie betaal nie, maar ook aan allerhande ander aktiwiteite.

“Direkte kaartjieverkope beloop in die omgewing van R35 miljoen per jaar. Voeg daarby die ongeveer R6 miljoen vir vervoerkoste vanaf Kaapstad, nog R6 miljoen wat aan gastehuise en verblyf bestee word, ongeveer R4 miljoen by restaurante en ’n verdere ongeveer R9 miljoen wat aan aandenkings en ander aankope in plaaslike winkels bestee word.

“Dan is ’n bedrag van ongeveer R60 miljoen per jaar nie te vergesog nie,” het hy gesê.

Hy meen dat haaikykers van oorsee, maar ook van elders in die land, wat in die Overstrand oorbly, jaarliks tussen 10 000 en 15 000 bednagte beset, wat vir die gasvryheidsbedryf ’n reuse-inkomste verseker.

“Ons bestee ook geld buite die gebied om ons dienste te adverteer. Dit sluit in betrokkenheid by uitstallings, advertensies in die gedrukte media, sowel as brosjures en internet-advertering.

“Die blootstelling wat die haaikykbedryf egter wêreldwyd op die televisie asook in tydskrifte en koerante aan die Overberg verleen, is van onskatbare waarde,” het Chivell verduidelik.

’n Vergelykende studie het getoon dat die haaikykbedryf op Mosselbaai sowat R1,24 miljoen per jaar verdien en dié van Valsbaai sowat R1,3 miljoen per jaar.

“Ons is egter nie ’n bedryf wat net uit die natuurlike omgewing voordeel trek nie; ons ploeg ook baie geld terug om ’n volhoubare natuurlike hulpbron te help beskerm.

“Talle mariene bewaringsprojekte is deur ons geïnisieer en word steeds deur ons ondersteun,” het hy bygevoeg.

“Hieronder is die projek Faces of Need, waardeur ons broeiskerms vir die bedreigde Kaapse pikkewyne op Dyereiland vestig, ’n skoonmaakprojek, die beklemtoning van die bewaring van die Groot Vyf van die see-omgewing, die verlening van hulp aan beseerde seediere, waaronder seevoëls en robbe, en walvis-navorsing. So was ons byvoorbeeld van die eerste mense wat opgemerk het dat die suidelike noorkapper-walvisse wat jaarliks na die Suid-Afrikaanse kus kom om te paar en te kalf, ook ’n sekere voedingsgedrag openbaar.

“Ons was van die eerste mense wat opgelet het dat walvismis hier gevind word. As ons dit in die water opmerk, word die posisie, tyd en omstandighede aangeteken en neem ons monsters wat dan in die VSA ontleed word,” het Chivell gesê.

“Ons help ook met die identifisering van walvisse en dolfyne deur die neem van individuele foto’s vir latere kategorisering en uitkenning deur mariene bioloë met wie ons saamwerk,” het hy bygevoeg.

Die haaikykbedryf van Gansbaai ondersteun die Nolwandle-projek wat verantwoordelike toerisme en die opleiding van lede van voorheen benadeelde inwoners van Gansbaai en omstreke ondersteun. Die projek word deur die Britse hoëkommissariaat ondersteun, en vroue word opgelei om artefakte te maak wat dan weer aan toeriste verkoop word.

Plaaslike inwoners dien ook as bemanning en gidse op die bote, terwyl drie Ph D-studente wat navorsing oor seevoëls en dolfyne in die omgewing doen, ook bygestaan word.

Die bedryf, wat deur die onlangse tragedie onder die soeklig geplaas is, het reeds sowat 14 jaar gelede hier begin, en die voorval was die eerste in sy soort.

“Menings oor fratsgolwe, wat waarskynlik veroorsaak het dat die betrokke haaiboot omgeslaan het, is vol teenstrydighede, maar een ding is seker: Hulle kom wel voor,” het Chivell gesê.

    
VIND
Werksgeleenthede
Gesondheids- produkte
Reis & Verblyf
Internasionale Lotto
Eiendomme te koop
Versekering Vir Vroue
Motor & Huis Versekering
Dekor
ONS BEVEEL AAN
netNaweek.com
Nie seker wat om die naweek te doen nie? Kry elke Vrydag netNaweek.com, propvol nuus oor die lekkerste wat die Kaap het om te bied en wen hope pryse. Die gratis e-pos sluit inligting oor flieks, teater, restaurante, uitstallings, wegbreek-naweke en sommer enige iets wat pret is om die naweek te doen in.

Gaan na netNaweek.com om te registreer.
VIND
Werksgeleenthede
Gesondheids- produkte
Reis & Verblyf
Internasionale Lotto
Eiendomme te koop
Versekering Vir Vroue
Motor & Huis Versekering
Dekor
NETADS24
Soek ‘n advertensie

Algemeen
Loopbane
Motors
Eiendomme

VIND OU SKOOLVRIENDE
Kies jou skool se provinsie:
En klik op die eerste letter van jou skool:
ABCDEFGHIJKLMN
OPQRSTUVWXYZ
ONS BEVEEL AAN
netNaweek.com
Nie seker wat om die naweek te doen nie? Kry elke Vrydag netNaweek.com, propvol nuus oor die lekkerste wat die Kaap het om te bied en wen hope pryse. Die gratis e-pos sluit inligting oor flieks, teater, restaurante, uitstallings, wegbreek-naweke en sommer enige iets wat pret is om die naweek te doen in.

Gaan na netNaweek.com om te registreer.

       
 Kontak ons | Navrae | Teken in op ons nuusbrief | Vrae oor registrasie | Adverteer | gebruikersooreenkoms |