Webwerf   Argiewe   Foto's   Netads 
640 dae tot afskop
2010
WEER » n.a. Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com

  TUIS  

  NUUS  

  MULTIMEDIA  

  SPORT  

  SAKE  

  VERMAAK  

  OPINIE  

  BLOGS  

  FEATURES  

  MOTORS  

  FEATURES  

  BUITE  

  LEEFSTYL  

  MOTORS  

  GESONDHEID  

  LANDBOU  

  BY  


VERSEKERING
Spaar by OUTsurance.  Kliek hier vir huisinhoud-, besigheids- en motorversekering.
   
Buite
Verblyf in Overberg is plesierig
05/05/2008 08:44:28 PM - (SA)

Daar is deesdae baie mense wat met hul talent op die platteland gaan woeker, het Eben Human op sy dagbesoek aan die Overberg gevind.

HOEKOM sal twee mans Ysland verlaat om ’n gastehuis in Greyton te bedryf of jongmense hul rug op die stad keer om hul eie bier by ’n gastehuis in Napier te brou?

Sewe gastehuise in die Overberg het aan ons pryse geskenk vir die natuurfoto-kompetisie en daar is besluit om by hulle te gaan kuier en vir hul ondersteuning dankie te sê.

Dit was ’n pad wat my na Greyton, Caledon, Napier, Bredasdorp, Struisbaai, Kaap Agulhas en Stanford sou voer.

Baie mense raak moeg van die gejaagdheid van ons groot stede en word al hoe meer deur die rustiger leefwyse op die platteland aangetrek.

Villi Gudjonsson en sy vriend Boi Thorvardarson het uit Reykjavik, die wêreld se mees noordelike hoofstad, na die Wes-Kaap gereis en hul vakansie baie geniet. Daar was twee plekke wat hul aandag getrek het: Barrydale en Greyton.

“Ons het na die eiendom op Greyton gekyk, maar dit het vir ons ’n bietjie vervalle gelyk,” het Villi verlede week vertel toe ek vroegoggend by hom opdaag en hy my ’n koppie koffie aanbied.

Daar is baie foto’s geneem en eers toe hulle terug in Ysland dit ’n bietjie bekyk het, het hulle begin besef die plek het baie potensiaal.

“Daar is ’n groot deurpad by Barrydale. As jy Greyton wil besoek, moet jy willekeurig wegbreek. Dit is ’n doodloopstraat en ’n bestemming op sy eie,” het Villi hul keuse verduidelik.

Albei Yslanders is baie lief vir die plaaslike wyne – nog ’n goeie rede om jou permanent in die Wes-Kaap te vestig. “Dis moeilik om ’n slegte wyn hier te vind,” het Villi opgemerk.

Villi het woonstelle in Ysland besit, maar hy het verduidelik dat die hoë lewenskoste een van die groot redes was waarom hulle liewer in Suid-Afrika wou kom woon.

Die Greyton Lodge (028 254 9800; www.greytonlodge.co.za) se oorspronklike gebou is in 1882 opgerig as winkel wat later die plaaslike polisiekantoor geword het. Daar is ’n mooi binnehof en ’n swembad.

“Ek speel nie self klavier nie. Jy word dikwels verras met mense wat hier agter die klavier inskuif,” het Villi gesê.

My volgende stilhouplek was by Dianne Quinne se Marsh Rose (028 212 3832, 083 789 4282) op Caledon. Haar gastehuis is nog ’n ou huis met ’n mooi uitsig oor Caledon in die rigting van die kus.

Dianne kom oorspronklik van Durban en het voorheen ’n restaurant in Greyton bedryf. Hier weet jy dat jy lekker etes kan verwag.

Die Suntouched Inn (028 423 3131, 082 462 2304; www.suntouchedinn.co.za) in Napier is Dinsdae gesluit, maar ek het Craigan Millar daar gekry. Hy het sy hande vol gehad, want sy babaseun Calvin was olik en sy vrou, Angela, nie daar nie.

Maar die vriendelike Craigan, met Calvin op die arm, het my vinnig van die slaapkamers van sy herberg gewys.

Aan die agterkant is parkeerplek en blyplek vir rugsak-reisigers. Daar is ’n potspeltafel en bord vir pyltjies naby die kroeg – goeie tekens dat hier saans lekker gekuier kan word.

My oog het iets van Napier-bier gevang. Craigan het toe heel beskeie vertel hoe hy sy eie bier ontwikkel het.

Dit was al laat genoeg in die dag om een van die biere te proe en die lager het al my verwagtinge oortref. Craigan waarsku dat nie twee van sy brousels presies dieselfde is nie – dalk ’n goeie rede om meer keer by hom aan te doen.

Daar is restaurantgeriewe waar jy pizza, pasta en slaaie kan geniet en ’n galery waar fotograwe uitstal. Dis nou ’n plek vir kreatiewe jongmense.

Petro Vivier kom oorspronklik van Heidelberg en haar Voorhuis-gastehuis (028 425 2252, 082 928 7610) se vooraansig in Bredasdorp se middedorp is baie misleidend.

Dit is eers wanneer jy binne is en agter in die binnehof uitloop dat jy ontdek hoe groot die plek is en hoe pragtig dit gerestoureer is.

Die geboue dateer van 1841. Daar is ’n voorste deel wat deel van ’n algemene handelaar se winkelruimte was en agter is van die kamers waar voorheen perde op stal gehou is.

Met groot sportbyeenkomste soos die Cape Epic en die Voet-van-Afrika-marathon is die Voorhuis lank voor die tyd volbespreek. Die kamers het elk ’n televisiestel en hier kan jy vir ’n groot plaasontbyt aansit.

Louis Nell se Kaap Agulhas-gastehuis (028 435 7975, 083 458 2638) is groot en dit is veral toeriste wat Afrika se suidelikste punt besoek wat graag by hom kom bly en die pragtige uitsig oor die see geniet.

Louis het voorheen by diamantmyne in Namibië en Botswana gewerk voordat hy en sy vrou vir hul aftrede van Boksburg na die Overberg getrek het.

Harald Hamann se Mermaid-gastehuis (028 435 7975) op Struisbaai is nog ’n groot dubbelverdieping met ’n uitsig oor die see.

Harald se ouers het ’n restaurant by die Eros-lughawe in Windhoek bedryf en later met beeste in die Khomas-hoogland geboer.

Ons het gesels oor hoe die Namibiërs kort ná onafhanklikheid die ou Suidwes-lied met oorgawe by ’n rugbytoets in Windhoek gesing het. Die volgende oomblik het Harald sy CD van Heino uitgehaal en ons het na die Suidwes-lied geluister.

Daar is aan Harald vertel van die Namibië-bylae wat vandag saam met Buite verskyn en nie lank daarna nie het hy my vir sy groot seekosbord genooi.

Die bord bestaan uit drie soorte vis, calamari, mossels en garnale. Wat ’n fees!

Die Mermaid het ook konferensiegeriewe vir klein groepe en kan rugsak-reisigers slaapplek bied.

Dit was net moeilik om my van die Mermaid weg te skeur. Dit is binne loopafstand van winkels en die hawe en naweke kan jy ook jou sport televisie dophou.

Die Springfontein-wynplaas en gastehuis (028 341 0651, 083 253 8482) by Stanford is nog ’n plek waar ’n mens graag gaan kuier.

Christo Versfeld is hier die wynmaker en hy en sy vrou, Nikki, maak seker dat jy ’n aangename verblyf sal geniet.

Daar is in 1998 25 ha wingerde digby die see aangeplant. Hier moet jy jou besoek met ’n wynproe begin.

’n Dag is net te kort om al hierdie blyplekke behoorlik te waardeer. Daarvoor het jy ’n hele paar naweke nodig waarna jy lank voor die tyd al baie na kan uitsien.

    
VIND
Buitelewe
Werksgeleenthede
Gesondheids- produkte
Reis & Verblyf
Eiendomme te koop
Versekering Vir Vroue
Motor & Huis Versekering
ONS BEVEEL AAN
netNaweek.com
Nie seker wat om die naweek te doen nie? Kry elke Vrydag netNaweek.com, propvol nuus oor die lekkerste wat die Kaap het om te bied en wen hope pryse. Die gratis e-pos sluit inligting oor flieks, teater, restaurante, uitstallings, wegbreek-naweke en sommer enige iets wat pret is om die naweek te doen in.

Gaan na netNaweek.com om te registreer.
VIND
Buitelewe
Werksgeleenthede
Gesondheids- produkte
Reis & Verblyf
Eiendomme te koop
Versekering Vir Vroue
Motor & Huis Versekering
NETADS24
Soek ‘n advertensie

Algemeen
Loopbane
Motors
Eiendomme

VIND OU SKOOLVRIENDE
Kies jou skool se provinsie:
En klik op die eerste letter van jou skool:
ABCDEFGHIJKLMN
OPQRSTUVWXYZ
ONS BEVEEL AAN
netNaweek.com
Nie seker wat om die naweek te doen nie? Kry elke Vrydag netNaweek.com, propvol nuus oor die lekkerste wat die Kaap het om te bied en wen hope pryse. Die gratis e-pos sluit inligting oor flieks, teater, restaurante, uitstallings, wegbreek-naweke en sommer enige iets wat pret is om die naweek te doen in.

Gaan na netNaweek.com om te registreer.

       
 Kontak ons | Navrae | Teken in op ons nuusbrief | Vrae oor registrasie | Adverteer | gebruikersooreenkoms |