|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
Vroue vervoer water by Danakil, glo die warmste plek op die Aarde. Foto’s: BRUCE LESLIE
Buite
Soedanse kus met rommel besaai
05/05/2008 08:48:59 PM - (SA)
JULLE is al gewoond aan daardie mooi TV-beelde van die strande aan Egipte se Rooisee – dis mos bikini-strande, palmbome en helderblou seewater.
Dit kan so op party van Egipte se strande lyk, maar hier waar ons nou in die Soedan is, lyk die kus baie anders aan die Rooisee.
Hier is die landskap ru en lyk die berge dramaties. Op party plekke kry jy moddervlaktes en duine wat tot teen die see strek.
Vir ons is dit weer een van daardie middae waarop ons stadig vorder.
Ons het die ou groot 130- Land Rover uit die modder gekatrol; en toe die son sak, het ons ’n verlate stukkie strand bereik.
Dit is jammer hier lê so baie rommel. Ek sien oor die honderd bottels wat op ’n stukkie strand van tien meter uitgespoel het. Party is nogal drankbottels, en ek wens van hulle is vol. Drank is hier heeltemal onwettig. Maar ons is teleurgesteld. Ons hoop om ’n mooi strandjie vir die aand te vind.
Op die meeste plekke is die skoonheid van die Rooisee maar net onder die wateroppervlak en moet jy liewer op ’n boot wees om op die koraal te gaan duik.
Onder die gewilde duikplekke is die wrak van ’n Italiaanse vragskip, die Umbria. Hy is in 1940 doel- bewus met sy 3 000 ton bomme gesink sodat die Britte dit nie in die hande kon kry nie.
Ons kry ons houtskoolvuurtjie aan die gang terwyl Mashozi en Annelie stukke vleis van ’n skaap afsny wat ons by ’n straatslagter in Port Soedan gekoop het.
Die lewer braai ons op ’n rooster as versnapering. Ons maak ’n potjie met rys en kikker dit met Nando’s se sous op. Almal kry ook ’n tweede skep, maar jy moet maar versigtig wees vir die beensplinters.
In die nag waai ’n stormwind wat dreig om die daktente van die Landies te veeg. Ons kan nie slaap nie, en in die oggend is die sigbaarheid omtrent nul.
Daar is sand in die mond, neus en oë, maar gelukkig waai die stormwind in die regte rigting en word ons aangehelp op ons roete via Kasala in die Soedan na Eritrea.
Kasala is baie anders as die woestyn. Dit is ’n dorp met vrugtebome en berge – bisarre suikerbroodrotse wat ’n mens kilometers vêr kan sien.
Dié plek is glo baie gewild by wittebroodspare. Ek blaai deur ons gidsboek en dit sê dat as ’n vrou haar ken hier wys, dit as baie eroties beskou word.
Net buite Kasala word ons by ’n padversperring weer aan ’n belaglike klomp papierwerk blootgestel. Ons word gedwing om na die dorp terug te ry vir ’n polisieklaring.
Selfs toe ons hul land probeer verlaat, maak die Soedannese dinge vir ons so moeilik moontlik. Maar ons haal uiteindelik die modder-huisies aan die ander kant van die grens in Eritrea.
Die Eritreërs is net bly om ons te sien en sê ons is die eerste Suid-Afrikaners wat só by hulle aankom.
Ons is uit die Islamitiese Soedan en is nou weer lus vir ’n drankie. Ons ry oor groot vlaktes met geel gras wat soos by die Serengeti lyk.
Dan kom ons weer by ’n dorpie. Oral waar jy kyk, is Fiat-vrag- motors en jy weet sommer die Italianers was hier.
Ek en Bruce stap by ’n ruwe plek met die naam “Hotel” in.
Skaars binne, toe begin twee kroegmeisies met hul dinge. Die meer gesette een trek Bruce se T-hemp aan en streel oor sy hare. Die ander een is groot en lyk Somalies. Sy voel aan my baard, knip vir my oog en tik ook sommer so liggies op my maag.
Ons wys na die yskas. Bier?
Die yskas is vol bruin bottels, maar hulle het geen etikette op nie.
Die twee vroue wys na plastiekstoele. Dit is duidelik hulle wil hê ons moet ’n rukkie bly.
“Hoeveel moet ons vir die bier betaal?”
Hul Engels is gebroke, en hulle antwoord: “Tien nafka vir ’n bottel.”
Bruce glimlag breed. “Ons sal ’n kas neem.”
Ek begin dadelik dollar vir nafka ruil, en ek kan al sien hoe lekker ons vanaand gaan kampeer – die tente opgeslaan, die stoele in ’n halfmaan gepak en dan, die eerste keer in ’n baie lang tyd, yskoue bier.
Maar ons wil gou van die bier proe voordat ons ry. Twee glase word vinnig gegryp, en ons skink die bier uit die bruin bottel.
Dis net gekarboneerde water, en ons teleurstelling is grensloos.
“O, bier,” sê een van die kroegmeisies met ’n grinnik. “Julle sal net in Asmara bier kry.”
Toe moes ons maar vir Asmara wag.
Maar eers gaan klim ons saam met die Rooms-Katolieke priester die 300 nou trappies van die katedraal in ’n Italiaanse styl wat in 1923 gebou is.
Ons druk almal bo in die toring tussen agt massiewe klokke in. Onder ons lê Asmara.
Vir die eerste keer sien jy ook hier is geen rommel in die strate nie. Alles lyk ordelik.
Asmara is tussen 1890 en 1940 as hoofstad van die Italiaanse kolonie Eritrea gebou. Nadat die Italianers in die Tweede Wêreldoorlog verloor het, is Eritrea van 1941 deur die Britte bestuur en later met Ethiopië verenig.
Nadat die land in 1993 onafhanklik geword het, het Asmara sy ou sjarme herwin. Dit lyk wonderlik skoon en vry ná wat ons in die Soedan gewoond was.
Daar is palmbome langs breë boulevards. Die sypaadjie-kafees is vol, en dit voel soos ’n mengsel van die kosmopolitiese Italië en Eritrea.
Die argitektuur is art deco, en dit lyk of die tyd hier stilgestaan het. Die mense is wonderlik.
Thomas Rambau van die Suid-Afrikaanse ambassade het die Hotel Lion aanbeveel. Hy het gesê dit is goedkoper as die ander en het ’n kroeg, goeie kos en selfs Captain Morgan.
Ons moet intussen vir ons plaaslike reisdokumente wag. Sonder hulle kan ons nêrens reis nie.
Die oorlog met die geswore vyand Ethiopië is die oorsaak van al die veiligheidsmaatreëls. Baie min buitelanders besoek die land, om nie eens te praat van mense wat kuslangs probeer reis nie.
Daar is ook dié dag ’n militêre begrafnis, en al die land se ministers is daar. Ons vind hulle by ’n groot wit tent langs ’n tenk-begraafplaas. Daar lê hektaar op hektaar militêre tenks.
Daar is ook ’n klomp Russiese tenks. In ’n normale land sou dit ’n skrootwerf-eienaar se droom gewees het.
Eritrea se trots is sy sege oor Ethiopië in Afrika se langste oorlog in die 20ste eeu. Dit het meer as 30 jaar geduur en meer as 65 000 lewens geëis. In 1993 het die land in ’n referendum onafhanklikheid gekies. In 1997 het dié twee lande weer begin stry nadat Eritrea besluit het om die Ethiopiese geldeenheid (birr) vir sy eie nafka te los. Van 1998 af het hulle weer gebaklei – dié slag oor ’n belaglike stukkie verlate grond bekend as die Yirga-driehoek.
Albei lande se groot trots is oënskynlik die probleem, en hulle het die goeie ou dae verwelkom waarin hulle weer duisende van mekaar se mense kon doodmaak.
Op die oomblik is daar weer ’n skietstilstand terwyl die besonderhede van die grens in ’n gespanne toestand weer uitgewerk word.
Intussen wag ons in die Hotel Lion vir ons reisdokumente. Dit sal ons toestemming gee om te reis langs die Danakil-kus, wat as een van die warmste plekke op die Aarde beskou word.
As ons nie hierdie permit kry nie, gaan ons ekspedisie misluk. Ons sal dan nie heelpad kuslangs om Afrika kan ry soos ons plan was nie.
Hou intussen vir ons duim vas. Ons doen weer aanstaande week verslag oor ons vordering terug na die Kaap.
Kingsley Holgate se rubriek Uit Verre Afrikaverskyn elke Dinsdag eksklusief in Buite.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |