|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
Chinese op fietse en bromponies in die reën in Nanjing, ’n stad met 8 miljoen inwoners. Foto’s: RIANA DE LANGE
Buite
China: supermoondheid van die toekoms
28/04/2008 07:15:56 PM - (SA)
ALMAL weet China het baie mense – 1,2 miljard – maar eers wanneer ’n mens stede soos Sjanghai (sowat 18 miljoen inwoners) en Nanjing (8 miljoen) besoek, besef jy wat “baie mense” is.
Hulle loop, ry op fietse, vervoer hul kinders op fietse, ry op brom- ponies, in motors, taxi’s, busse en treine.
Wanneer dit reën, is daar skielik ’n kleurryke massa van reënjasse wat fietsryer, kind en die fiets se dramandjie voor teen die druppels beskerm.
Selfs vroue wat duidelik nie meer so jonk is nie, trap fiets met self- gemaakte waentjies agteraan waarop enigiets van eende en vrugte tot boumateriaal en gasbottels vervoer word.
En as jy gedink het dis onmoontlik om fiets te ry, ’n sigaret te rook én op die selfoon te praat . . . wel, dit ís moontlik – in China.
’n Mens maak nie veel uit van padreëls nie. Lyk na ’n geval van waar daar ’n gaatjie is, druk jy in, ongeag in watter rigting jy beweeg. Een reisgenoot het opgemerk hy sal nooit op sy eie per motor in China êrens kom nie, want hy is half ordentlik en sal ander bestuurders ’n kans gee.
’n Mens vergaap jou aan die hoë geboue wat soos hare op ’n hond se rug staan. Dis modern en kontemporêr en baie van die geboue het ’n besonderse ontwerp en veral dak, wat sorg vir ’n interessante stadsprofiel.
Parke en tuine is skaars. Van die nuwer woonstelgeboue (so vyf geboue bymekaar) het ’n parkie en speelplek vir die kinders in die middel van die geboue.
Sjanghai, wat as ’n vissersdorpie ontstaan het, is vandag polsend en besig, en ná sononder skyn daar oral ligte. Die hoogste gebou is tans in aanbou en sal uiteindelik sowat 490 m hoog wees.
Pudong is die nuwer deel van Sjanghai aan die oostekant van die Huangpu-rivier. Pudong kon net ontwikkel word indien ’n manier gevind kon word om die rivier oor te steek, en vandaar die indrukwekkende Nanpu-brug.
Dit is in die 1990’s gebou en meer as 8 km lank. In 2006 het sowat
120 000 voertuie per dag oor die brug gery, het ons gids vertel.
Pudong is ook die tuiste van die bekende Oriental Pearl Tower, ’n televisietoring met sy kenmerkende pilare en bolvormige strukture. Dit staan meer as 468 m die lug in en is saans ’n spel van lig saam met verskeie ander wolkekrabbers in die omgewing.
Die Pearl Tower is mooi sigbaar van “The Bund”, die oorkantste rivieroewer waar die geboue ’n duidelike teken is van die Europese tydperk in Sjanghai se geskiedenis.
’n Tonnel onderdeur die Huangpu-rivier en waentjies soos dié van ’n kabelspoor neem ’n mens van The Bund na Pudong. In die tonnel word jy deur flikkerende ligte en ’n bont laservertoning begroet.
’n Chinese mark is ’n moet vir enige Westerling.
Dis waar jy enigiets koop van donkerbrille, horlosies, sportskoene en bagasie met bekende handelsname, maar van verdagte oorsprong, tot syprodukte, pêrels, juwele, porselein en speelgoed. En Starbucks-koffie.
Kibbel gerus oor ’n laer prys, maar as dit nie jou sterkpunt is nie, gaan jy nie goedkoop wegkom nie.
Was dit nie vir ons Chinese gashere nie, sou ons groep nie winskopies gekry het nie, want taal en kommunikasie bly ’n probleem.
In die sakewêreld is daar meer mense wat hulself in Engels kan help, maar andersins gaan dit moeilik. Een van ons reisgenote het 20 minute gesukkel voordat iemand in die restaurant verstaan het sy wil brood hê!
Al die vooraf waarskuwings oor die vreemde kos berei ’n mens nie werklik daarvoor voor nie. Ons is met elke ete onthaal en het nooit kos van ’n spyskaart bestel nie. Die restaurant sit gemiddeld 20 geregte van sy keuse tydens ’n ete voor.
Die garnale, rys, knoffel- bedruipte oesters en Peking Duck (voorgesit met kop en al) was gunstelinge, maar ’n mens moet gewoond raak aan die waterige sop met allerlei seekos, perlemoen, paling en eienaardige stukkies vleis daarin.
Van die bekender geregte was krap, radyse, olywe, ham, beesvleis en groente.
Groente en vrugte is altyd beskikbaar en lekker. Ek het kennis gemaak met ’n lotus-vrug en “dragon fruit” (spierwit vesel met klein swart pitte daarin en ’n pienkrooi skil).
China is ’n land van bouwerk en hyskrane, want die oogmerk is om binne die volgende paar jaar nog 200 miljoen Chinese te verstedelik. (Johannesburg het sowat 5 miljoen mense.) Tans woon net 400 miljoen Chinese in groot stede, terwyl die res in landelike gebiede ’n bestaan maak op lappies grond van gemiddeld 0,5 ha.
Maar oral is mense aan die werk. In een hotel was daar twaalf assistente agter die ontvangstoonbank; in ’n restaurant was een persoon se werk om die borde aan te gee vir die kok wat die eiers bak.
Baie Chinese werk tot laatnag. Selfs ná middernag was daar mense wat kos vanuit hul piepklein koswaentjies op verskillende plekke in Nanjing verkoop. Haarsalonne, skoenwinkels en blommewinkels was ook tot daardie tyd van die nag oop en het klante gelok.
Kortom: China is fassinerend, en een besoek – hoe kort ook al – is genoeg om jou te laat besef waarom hierdie land wel oor twee dekades die grootste ekonomie ter wêreld kan hê.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |