|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
![]() Dit is baie moeilik om die bosloerie te fotografeer. Foto: TREVOR HARDAKER
Buite
Bosloerie het spogvere
28/04/2008 07:15:24 PM - (SA)
DAAR is heelparty voëlsoorte wat ’n mens vinnig en vlak laat asemhaal. Die blote sien van só ’n voël maak jou summier senuweeagtig dat die luggolwe wat jou veranderde asemhaling kan veroorsaak, juis daardie voël sal oortuig dat alles nie pluis is nie.
Hoeveel helder, spierwit bolle wat skielik in dowwe strepe verander, moes ek nie in my lewe ervaar nie.
Dis nou wanneer ’n opgepofte sneeubal-laksman, in die onoortref-like fase van aandag trek, skielik besluit dat hy nie sy intieme vryery met ’n buitestander wil deel nie.
Daar is min wat by die sien van die bosloerie kan kers vashou. Hier moet jou sit nie net stil wees nie, maar jy moet asemhaal asof daar op tone oor jou lippe geloop word.
Niks asem deur die neus waar jou neushare kan raas nie. En selfs dan weet ek nie van enige bosloerie wat nie uiters agterdogtig in die kalklig optree nie.
Om die waarheid te sê, jy kan maar toe-gekamoefleer wees met bosbokmis en wildekastaiingblare, en ek kan jou nog waarborg dat ’n bosloerie binne die eerste paar sekondes sy rug op jou sal draai.
Dit beteken dat daardie asemrowende skouspel van ’n diep granaatrooi bors jou selde met langer as twee of drie droë slukke na suurstof vereer.
Daardie rug, bestaande uit glansgroen vere, maak die bosloerie baie moeilik om raak te sien indien jy hom nie reeds in die oog gehad het nie. Die kop word teen 180 grade gedraai om selfbewus vir jou oor die skouers te loer.
Die poeierblou wangvelletjies aan die basis van ’n goudgeel bek is nou nie juis wat ’n mens logies as onopsigtelik sou beskou nie.
Maar op die een of ander wyse is dit ’n kombinasie wat enige voorspelbare lyne blykbaar vir die belangstellende oog doodvee.
Dis die spogkant van die mannetjie waarvoor ’n mens gewoonlik op die uitkyk is.
Daardie blosende bloedrooi is veel dieper as wat enige kunstenaar met die kwas kan weergee. Selfs fotograwe sukkel om die ware gloed hiervan op film vas te vang.
Kortom, die bosloerie se lieflike skoonheid maak van waarnemers feitlik oombliklik leuenaars. Dis nie omdat mense dié bosbewoner se prag oordryf nie, maar wel die teenoorgestelde.
Geen woorde kan reg laat geskied aan die sien van ’n bosloerie daar waar hy op ’n binnebostak neerfladder om reg in ’n kolletjie sonlig te gaan sit nie.
Fooeet-fooeet-fooeet-fooeet ’n mens op die regte plek en in die vroeë lente, kan jy maklik ’n bos-loerie optoor.
Die kuns is egter om ta ordentlik te kan bekyk sodat jy nie net deur ’n gefladder en ’n rooi flits geflous word nie.
Bosloeriemannetjies is sommer baie aggressief wanneer dit naby die paartyd kom. Hulle hou dan gereelde talentkompetisies wat uit hul eentonige ge-fooeet bestaan.
Tydens die roepery kan daar tot agt mannetjies binne sig van mekaar sit. Dit gee ’n vuvuzela-blasery soos min af.
Elke mededinger gebruik sy sangbeurt om ook stadig van sit te verander sodat sy rooiste spogvere op die bors goed na alkante afgewys word.
Die ongeduldige roepe oorvleuel mekaar gereeld en hier en daar gee ’n ou se stem in. Dis wanneer jy hoor hoedat die diep tromboon skielik ’n hees pieptrompet raak.
Of dit histerie, jeug of onbekwaamheid is wat hierdie blapse veroorsaak, weet ek nie. Wat ek myself wel kan voorstel, is dat so ’n skande moeilik vir ’n bosloerie sal wees om te oorkom. Ongeag hoe tamatierooi jou bors is, met so ’n kalkoen van ’n stem gaan jy nie die een wees wat vandag in hierdie bos afhaak nie!
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |