|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
’n Erg beseerde luiperd wat dalk deur ’n leeu gekarnuffel is. Foto’s: EBEN HUMAN.
Buite
Kruger kan om elke draai verras
28/04/2008 07:14:26 PM - (SA)
AS jy ’n natuurliefhebber en jongman in Pretoria is, waardeer jy ’n maat met ouers op Skukuza.
Dis aan daardie rylopery saam met so ’n maat op ’n Vrydagaand wat ek gedink het toe ek onlangs daarna kon uitsien om twee blyplekke in die Kruger-wildtuin se konsessiegebiede te besoek.
Ons het destyds laataand op Witrivier beland en by die polisiekantoor gaan slaapplek vra waar die vriendelike konstabel vir ons ’n sel gaan oopsluit het.
Daardie Saterdagmiddag het ek op ’n hengeluitstappie langs die Sabierivier in die wildtuin gegaan.
Ons het net so ’n entjie verby ’n troppie buffels stilgehou, toe trek die hengelaars almal hul hemde uit. “As leeus of ander wilde diere jou jaag, moet jy nie iets hê wat aan doringtakke haak nie,” het my nuwe vriende verduidelik.
Nou, verbeel jou: op jou volgende besoek aan die Kruger-wildtuin klim jy uit jou motor en stap rustig af na die rivier om te gaan visvang. Dit is wat ons dié dag daar naby Skukuza gedoen het.
Toe ons die rivier bereik, wou ek weet waar die krokodille is. “Hulle is nie in hierdie deel van die rivier nie,” was die gerusstellende antwoord.
Ons was gelukkig om die uitstappie te oorleef – ’n jaar later is ’n hengelaar ten aanskoue van sy maats in dieselfde omgewing deur ’n krokodil gevang. Sy lyk is nooit gevind nie.
Die fyner besonderhede van hierdie fatale uitstappie, het ek met my afgelope toertjie volledig by Ria van der Nest van die Laeveld-toerismekantoor op Witrivier gehoor. Sy het destyds op Skukuza gewerk en die betrokkenes geken.
Maar watse verrassings sou die Kruger-wildtuin dié slag vir my kon lewer?
Dié Vrydagaand was my slaapplek in ’n konsessiegebied by die Numbihek – baie na aan Skukuza.
Hier is die luukse Kambeni-tentkamp – met restaurant- en kroeggeriewe – wat baie deur oorsese toergroepe besoek word.
Die groot voordeel daarvan om hier te bly, is seker dat jy vroeg in die oggend vir ontbyt kan gaan aansit. Dan ry jy net ’n kilometer tot by die Numbihek en bevind jou in die groter deel van die wildtuin. In dié konsessiegebied het ek reeds ’n witrenoster gesien.
My volgende slaapplek sou die Shishangeni Lodge naby Krokodilbrug wees.
Die eerste uur in die wildtuin was teleurstellend, met min tekens van voëls of diere. Tot naby die Malelanehek was dit byna dieselfde storie en dit is eers op pad na Krokodilbrug dat ek ’n paar motors kon sien wat ’n dier volg.
Dit was ’n luiperd – sy kop was lelik beseer. Dalk het ’n leeu hom bygekom of dalk was hy in ’n geveg met ’n ander luiperd betrokke.
Die gehawende luiperd het nie gelyk of hy lank sou oorleef nie.
Dit is nie lekker om so ’n dier te fotografeer nie. Hy was ’n paar keer net enkele meter van my en het my dan verwese aangegluur asof hy hulp gesoek het.
Daar is nie ’n restaurant by die Krokodilbrughek nie, maar wegneemetes en bier was wel beskikbaar. Hier is ’n uur vertoef voordat daar enkele kilometer verder in die rigting van Mosambiek gedraai is na ’n konsessiegebied wat Shishangeni en sy twee susterkampe, Shonga en Shawu, huisves.
Hier was baie meer diere en voëls te sien: minder as 5 km van Shishangeni stap ’n groot mannetjiesleeu net sowat 20 meter voor my oor die pad. Al wat ek daarna van hom kon sien, was sy stertkant, terwyl hy wegstap in die veld sonder om ’n enkele keer om te kyk.
Stephan Kritzinger, bestuurder van Shishangeni, het my verwelkom en ’n rukkie later was ek in my gerieflike kamer.
Ek het vinnig van my klere ontslae geraak. Die stort was buite en aan die agterkant, maar net toe ek die kraan wou oopdraai, kom sit daar ’n klomp byevreters op ’n nabygeleë tak.
Binne oomblikke is ek na my kamer en keer terug met my kamera om die byevreters te fotografeer. Nogal verbasend hoe kwesbaar ’n mens voel in so ’n ontblote posisie - al het jy die beskerming van ’n elektriese heining vir nog ’n eerste in die Kruger-wildtuin.
Die aandrit saam met my gids, Juluka Chauke, het heelwat meer opgelewer: buffels, olifante, kameelperde en renosters en selfs ’n seekoei wat baie ver van die water in die donker gewei het.
Op die oggendrit van die volgende dag het ons weer al dié diere gesien – dié slag met ’n bonus: ’n jagluiperd wat in die oggendson hoog in die mik van ’n boomstomp gesit het (sien voorbladfoto).
Vanuit sy hoë uitkykpunt het die jagluiperd sy twee maats, wat besig was om ’n rooibok te bekruip, dopgehou. Hy het lank doodstil gesit met net sy kop wat hy af en toe in ’n ander rigting gedraai het.
Ons het ’n entjie aangery om die ander twee jagters dop te hou vir die aksie wat sou kom.
’n Rukkie later het die jagluiperd vanuit die hoë uitkykpos grond toe gespring en skuins oor die veld begin nael. Die ander twee het ook oomblikke later begin nael in ’n poging om die rooibok te vang.
Dit was ongelukkig te vroeg en die rooibok het weggekom. Dit kon hierna ure duur voordat hulle weer so ’n kans sou kry.
Die verblyf by Shishangeni was baie aangenaam. Die diens en kos was goed, maar jy moet bereid wees om meer as R3 000 per aand op te dok as jy jouself hier wil bederf.
’n Laaste toegif in die konsessiegebied was ’n buffel wat met sy modderbad besig was. Hy was rustig en het soos ’n stout seuntjie vir my geloer.
Die Kruger-wildtuin bly altyd ’n opwindende bestemming. ’n Mens weet nooit watter verrassing om die volgende draai op jou wag nie.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |