|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
Die Nubiese woestyn in die Soedan – wyd en verlate. Ons mikpunt was Port Soedan. Foto’s: OUTSIDE EDGE-EKSPEDISIE
Buite
Deur die dor wadi’s na Port Soedan
28/04/2008 07:13:34 PM - (SA)
AS ons op ons Outside Edge-ekspedisie kuslangs om Afrika geweet het wat ons nou weet, sou ons seker nooit die Nubiese woestyn in die Soedan probeer oorsteek het nie.
Dit was ’n bietjie gek, veral ook omdat ons my sewejarige kleinseun, Tristan Kingsley Holgate, saamgeneem het.
Ross het die grootste verantwoordelikheid gehad. Sy oë bly vasgenael op die Garmin GPS op sy Land Rover se paneelbord. Hy moet ons lei deur die eindelose wadi’s soos hulle die droë rivierlope hierlangs noem.
Ons ry deur ’n ruwe maanlandskap. Daar is vlymskerp rotspunte tussen die duine en groot gruisvlaktes waar mense selde reis.
Die meeste spore in die Nubiese woestyn lei na die suide en volg die ou spoorlyn wat die Brit lord Kitchener jare gelede van Wadi Halfa na Khartoem en Omdurman gebou het tot waar die Blou- en Wit-Nyl saam begin vloei.
Kitchener wou genl. Gordon gaan help wat deur die Mahdi vasgevang was, maar hy was te laat.
Die Cook’s Traveller’s Handbook for Egypt & the Sudan, wat in 1929 gepubliseer is, het Gordon se nederlaag soos volg beskryf: “Die derwisje het die paleis bestorm waar Gordon aan die bokant van die trappe gestaan het en in antwoord op sy vraag: ‘Waar is jul baas, die Mahdi?’ het hul leier hom met ’n spies deurboor. Hy het vooroor geval en is op die trappe afgesleep. Sy kop is afgekap en gestuur na die Mahdi in Omdurman.”
Die Mahdi het sy spyt uitgespreek oor Gordon se dood. Hy het gesê hy sou verkies het dat hy lewend gevange geneem moes word en hy sou hom dan graag tot die Moslem-geloof wou bekeer.
Die slagting wat in Khartoem plaasgevind het, was ongekend selfs vir die Soedan.
Maar ons reis gaan ons ver weg neem van die spoorlyn wat lei na Khartoem . . .
Ons reis is meer oos en suidoos. Dis ’n uitdaging van 1 000 km om Port Soedan en die Rooisee te bereik.
Ná vyf dae wil ons byna tou opgooi. Ons diesel en water is besig om min te raak en ons bande word op die rotsagtige oppervlak gesny asof hulle deur haaitande gekarnuffel word.
Moes ons nie maar liewer van ons plan afwyk en reg suid draai terug na die spoorlyn nie? “Dit sou vrek jammer wees as ons dit moet doen,” het Ross opgemerk.
“Ons het so hard gewerk om so ver oos te ry en om nou tou op te gooi . . .”
Die ou groot Deon Schürmann wat ’n entjie saam met ons toer, het ’n voorraadopname gedoen. “Daar is nog twee-en-’n-half kanne water en 12 liter gebottelde drinkwater. Dit is ons heen-en-weer-ryery om ons pad te vind deur die berge wat ook ons diesel vreet,” het hy met ’n bekommerde frons op sy voorkop gesê.
Almal voel ’n bietjie terneergedruk. Reg voor ons is ’n nou gaping tussen die berge deur – ’n droë rivierbedding, maar dit gaan noord en in die rigting van die Egiptiese grens. Dis nie waarheen ons wil gaan nie.
“Kom ons probeer dit,” sê Ross wat altyd baie optimisties is. Ek sê dis oukei en ons sit die Landies in hul laagste rat om deur hierdie gaping te swoeg.
Ons sien ’n paar nomade met hul kamele. Ek stop langs ’n vrou wat haar toegewikkel het met ’n tjalie. Haar gesig lyk leeragtig en daar is ’n goue ring deur haar neus.
“Port Soedan?” vra ek. Sy skud haar kop.
“Suakin?” vra ek dan, verwysende na die antieke Arabiese slawehawe net suid van Port Soedan.
Sy skud haar kop heftig op en af en wys in die rivierbedding op.
“Shukran. Dankie.”
Die GPS wys egter dis reg noord, heeltemal die verkeerde rigting. Die rivierbedding loop eers noord, draai dan noordoos en uiteindelik oos terwyl dit al nouer raak tussen die heuwels.
Toe wag daar vir ons die verrassing van ’n leeftyd. Daar is ’n klein nuwe pad deur die berg.
“Die rigting is nou wonderlik,” kom Ross se stem oor die radio.
Ons wip en skud oor ’n rotsagtige pad, maar voor ons dam daar skielik ’n paar geboue en watertenks op en ons hoor die klank van ’n kragopwekker.
Ons hoop net nie dit is militêre mense nie en dat ons al weer in die moeilikheid is nie. Dan kan hulle ons dalk net weer dwing om terug te draai.
Maar die geluk is dié slag aan ons kant. Dis ’n maatskappy wat vir goud prospekteer.
Ons word yskoue drankies aangebied en ons waterkanne word weer volgemaak.
“Hou maar net aan om hierdie paadjie te volg. Oor twee dae is julle in Port Soedan,” verduidelik ons weldoeners.
Dit was ’n ongelooflike gelukskoot. Dit was hierdie prospekteerders wat die pad deur die berg gemaak het.
Dit was egter nie ’n maklike pad nie en steeds ’n groot gedoente om te vorder deur die bergagtige landskap en woestyn.
Daardie aand, terwyl ons langs die kampvuur sit, ry daar ouens met groot Afro-haardosse en swaarde op hul kamele stil by ons verby.
Hulle lig net ’n hand om te groet en verdwyn dan in die donkerte.
“Wolkoppe,” fluister klein Tristan terwyl sy gedagtes heeltemal op hol gaan.
Later die aand sit ons vir Ross ’n Nubiese tulband om terwyl Tristan al in sy tentjie is. Ross het ’n panga in sy hand en ’n koplamp verlig sy gesig.
Ek skud Tristan se tentflappe en fluister aan hom: “Wolkoppe. Hier is wolkoppe in die kamp.”
Grootoog loer Tristan deur die muskietnet.
Dis toe dat Bruce uit die bos kom en skreeu: “Salam alekum! ”
’n Rukkie later gaan verduidelik ons aan Tristan dit was maar net Ross en dat ons net ’n bietjie gek geskeer het. Ons wou regtig nie hê hy moes nagmerries kry en sleg slaap nie.
Ek is egter seker die knapie gaan die wolkoppe van die Nubiese woestyn nooit vergeet nie.
Twee dae later rammel ons verweerde Landies Port Soedan binne, wat al in 1905 deur die Britte tot stand gebring is. Beeste, bokke, kamele, katoen en sorghum word hier uitgevoer.
Ons gaan teken in by ’n ou afgeleefde hotel. Die beddens is skoon en daar is storte.
Ek sou kon moord pleeg vir ’n bier, maar hier is dit onwettig.
Suid van Port Soedan is die Suakin-eiland wat omhul is deur mites en legendes. Die naam Suakin beteken “land van Jinn”.
Terwyl ons hier foto’s geneem het, het die militêre mense ons skielik gegryp.
Dinge het net begin warm raak en ons sou regtig diep in die moeilikheid gewees het as ons nie ’n brief van Wimpy van der Vyver van die Suid-Afrikaanse ambassade in Khartoem byderhand gehad het nie.
Ons land se departement van buitelandse sake het ons deurgaans nog baie goed ondersteun en ons dikwels uit die moeilikheid gehelp.
Uiteindelik is alles goed wat goed eindig. Dié slag is dit mnr. Mohamed, kurator van die antieke hawe, wat ons vredesrol teken.
Nou lê Eritrea voor. Ons ruik al die huis en vertel volgende week meer oor ons vordering kuslangs terug na die Kaap.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |