|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
Grootrivier se poort oos van die Baviaanskloof. Foto’s: THEUNS VAN DER WESTHUIZEN
Buite
Kloof se mooi oorskadu uitdagings
21/04/2008 08:47:32 PM - (SA)
“EK wonder wat dié rit gaan inhou, want ’n vriendin praat net van vreesaanjaende passe en afgronde,” sê een van ons reisgenote toe ons die Klein-Karoo in ’n konvooi van tien viertrekvoertuie verlaat.
Vier dae later praat niemand meer oor passe en afgronde nie. Daar is te veel ander dinge wat jou aandag verg in dié kloof, vallei, landstreek, mega-natuurreservaat en wêrelderfenisgebied.
Die groen bord by die westelike ingang tot die Baviaanskloof verduidelik dis net 138 km padlangs tot by Kondomo, die laaste kampplek van Oos-Kaap Natuurbewaring in die ooste van die park.
Dis egter 138 km met ’n verrassing om elke draai in ’n mega-park van meer as 187 000 ha.
Reservaat, landerye, wildernis-gebied, inheemse bosse, fynbosplate, sukkulente Karoo, bergplato’s, nou rotsklowe en boerderygebied wissel mekaar af. Alles dra by tot ’n ongelooflike verskeidenheid. Suikerkan, dekriet en vetplant staan langs mekaar waar jy die kloof met die Nuwekloofpas binnegaan.
Ons gids, Douwe Vlok van die firma The Journey, verduidelik dat sewe van die land se agt plantbiome in die Baviaanskloof gevind word.
Verder aan – wanneer ons die Bo-Kloof deur is en na die Onder-Kloof afsak – sien jy hoe waar dit is. Hier staan geelhout en doringboom binne reikafstand van mekaar in die byna ongerepte wildernis.
Die idilliese skoonheid is egter in baie opsigte ’n dekmantel vir ’n harde, ongenaakbare kloof.
Boetie en Henriëtte Terblanché van die plaas Rietrivier vertel oor ’n bak kaiings en brood met korrelkonfyt in hul plaaskombuis van swaarkry en lekkerkry in die Bo-Kloof.
Hulle vertel van die kerkbasaar, veeboerdery, toerismeplanne en uitbreiding van die natuurreservaat.
In ’n sykloof, skuins verby die plaashuis, kan jy gaan uitspan in ’n grothuis wat onder bakkranse geskep is. Daar is die Makkedaat-grot, Alwynbak en ’n paar ander.
Dis ook hier waar Douwe reël dat Hans Joemat, veldkind en wysgeer, jou op ’n staptoer neem. Hy vertel watter plante jy vir byna elke denkbare skeet kan gebruik.
Dis renosterbos kou vir sooibrand, tee van die blare van ysterhout vir griep, die sap van sewe blare van die wolfdoring vir steek-in-die-oor – en moenie vergeet om droë kirky te gebruik om jou vuur aan te steek nie.
“Dit brand erger as Blitz.”
Toe ons vra wat daar nog is, sê hy droogweg: “As ons als moet raakloop, sal ons net hier stilstaan.”
Hy stop by die uitwerpsel van ’n wilde dier.
“Dis ’n jong rooikat-mannetjie wat twee aande gelede hier was. Die kat het nie lank terug nie ’n klipspringer gevang – kyk die hare in sy mis”, verduidelik Hans.
Gevra oor die talle spookstories en legendes van gruwele in die Baviaanskloof, is hy kortaf: “Spoke is mos net in jou kop.”
Ná dié besoek is daar nog Speekhout, waar Peter en Michelle van Niekerk jou met hul bonsai-versameling betower. Peter het onder meer ’n qwarriebos wat na raming tussen 200 en 300 jaar oud is.
Speekhout het, nes feitlik elke plaas in die kloof, verblyfplek vir toeriste.
Ons kamp op die plaas Bo-Kloof by Quintis en Anina Bezuidenhout, gaan kyk rotstekeninge op Beaconsnek, en gaan stap in ’n kloof tot diep in die maag van die berg.
Die kloof is plek-plek so nou dat jy met gespreide arms aan albei rotswande kan raak. Op ander plekke staan reusewildevybome, lelies en varings in rotskamers.
Bo jou koggel en dreig ’n trop bobbejane teen loodregte kranse van tot sowat 100 m hoog.
By ons kampplek baljaar blou-ape teen die rooi kranse en sweef twee witkruisarende op die lugstrome.
Dié plaas, waar die skape deur ’n Anatoliese hond opgepas word, word soos verskeie ander as ’n “luiperdvriendelike plaas” aangedui.
Dit beteken dat luiperds nie hier gejag word nie, maar met die honde en ander hulpmiddels verhoed word om die veestapels te plunder.
Die sukses hiervan word bewys toe ’n luiperd op pad na Geelhoutbos tussen die voertuie van ons konvooi deurspring.
Die opgewondenheid is groot oor die luiperd, koedoebulle en kalwers, visvangers, visarende, waterlelies, aalwyne, proteas, erikas, broodbome teen onbereikbare hange, ’n likkewaan wat oor die pad skarrel, bobbejaantroppe, ribbokke en die moontlikheid om ’n swartrenoster of buffel te sien.
Langs die pad sien jy die huis waar die skrywer P.H. Nortjé as jong seun gewoon het.
Verder op Zandvlackte, die huis waar een van Suid-Afrika se eerste ministers, adv. J.G. Strijdom, sy eerste treë gegee het, en waar die Strijdoms volgens oorlewering ’n fabriek vir velskoene van bobbejaanvel begin het.
Oorkant die pad staan die kerkie waar wyle eerw. Allan Hendrickse sy eerste gemeente gehad het, beduie Douwe.
Talle waterstrome, waarvan sommige die tuiste van skaars rooivlerkies, maak die rit nog interessanter.
Die plantbiome vloei inmekaar, nes die geplooide rotsplate wat met die seismiese druk van eeue skilderagtig gekartelde kranse, poorte en berge gevorm het.
By Rooihoek duik ons van ’n spierwit sandstrand af in die tan- ninegekleurde rivierwater om af te koel, en toe kom ons by die “vreesaanjaende afgronde en passe”.
Die Holgatpas laat verskeie reisigers op die tande kners. Dis styl, rof en die afgronde ís hoog. Party mense wil dit met die Sanipas in Lesotho vergelyk. Dit moet verkieslik met ’n viertrekvoertuig gepak word.
Die aand oornag ons op Bergplaas. Rustige, stil berghut wat Oos-Kaapse Natuurbewaring vir voetslaners geskep het. Rooihartebeeste wei om die blyplek.
Almal gesels, vertel grappies en wonder oor die volgende dag. Die afgronde vergete.
Hiervandaan is dit afdraande na Kondomo en Patensie, waar die toer met ’n ysingwekkende 4x4-rit in die berge bokant die Kougadam afgesluit word.
*As jy in ’n grot of onder ’n bakkrans wil uitspan, tree in verbinding met Henriëtte Terblanché van Cave Accommodation by 044 923 1291. * Kamp by Quintis en Anina Bezuidenhout op Bo-Kloof – 044 923 2192. * As jy in ’n boomhuis wil bly of tussen die bosse wil kamp, besoek Peter en Michelle se bonsai-kwekery op Speekhout – 044 923 1056. Reël jou besoek deur The Journey by 021 912 4090 of info@ thejourney.co.za. Besonderhede by www.thejourney.co.za. Hul volgende toere in die Baviaanskloof is van 1 tot 5 September, 1 tot 5 Oktober en 3 tot 7 November.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |