|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
![]() Mashozi (links) en Annelie het by Tobroek blomme op die graf van ’n onbekende Suid-Afrikaanse soldaat geplaas. Foto: OUTSIDE EDGE-EKSPEDISIE
Buite
Ons bring hulde aan SA soldate
24/03/2008 08:00:57 PM - (SA)
ONS het Tobroek aan die kus van Libië bereik waar die Sahara en die Middellandse See ontmoet.
Dit is laatmiddag, en ’n koue wind waai oor die woestyn. Die lug is grys en die atmosfeer somber.
Voor ons is ’n monument waar in Afrikaans en Engels ’n huldeblyk geskryf is aan die dapper soldate van die 1ste Suid-Afrikaanse Divisie wat in die Tweede Wêreldoorlog in November en Desember 1941 in gevegte hier gesterf het. Libië was toe ’n Italiaanse kolonie.
Die Suid-Afrikaners was die enigstes wat as vrywilligers hier geveg het toe Tobroek groot nuus was.
Ons het tussen die grafstene gaan stap en gekyk na die name: Van Reenen, Van Rensburg, Van Staaden, Van Niekerk en Van der Merwe, Bates, Macintyre, Adams, Ehlers en Gillespie, Moleke, Mosifane, Ndhlovu, Goqo, Cohen, Rosenthal.
Op elke grafsteen is ook die woorde “eendrag maak mag”, wat ’n springbokkop omsoom.
Dit moet die vorige nag gereën het. Tussen die grafstene wat mooi versorg is, was ook vars hondespore.
Annelie en Mashozi het ’n groot bos veldblomme tussen die ou Griekse en Romeinse bouvalle van Cyrene gepluk.
Later was ons op ’n ou Italiaanse pad na die Knightsbridge-begraafplaas by Acroma, net wes van Tobroek.
Altesame 3 670 mans en een vrou het hier gesterf. Onder hulle was Britte, Australiërs, Kanadese, Indiërs, Nieu-Seelanders en Suid-Afrikaners.
Tussen die grafte van manskap Claasen en korp. C.J. van Vuuren is nog ’n eenvoudige graf. Op ’n klip onder ’n springbokkop staan: “’n Soldaat van die oorlog van 1939 tot 1945. Bekend aan God.”
Ons staan ’n minuut stil voor hierdie onbekende soldaat se graf, en die vroue plaas hul blomme en ’n Suid-Afrikaanse vlaggie aan sy voetenent.
Daar is ’n knop in elkeen van ons se keel terwyl die spatseltjie kleur ons somber omgewing effens ophelder.
’n Entjie weg blaf ’n hond van die platdakhuis van ’n Arabier. Die huis is van modderstene gebou, en agter die muur om die woning wei skape en bokke.
Ons stap stadig deur die begraafplaas. Op een grafsteen staan dié woorde van die digter Laurence Binyon:
They shall grow not old as we that are left grow old; Age shall not weary them, not the years condemn; At the going down of the sun and in the morning –We will remember them.
Die Suid-Afrikaners het ’n prominente rol in die oorlog in Noord-Afrika gespeel en baie tot die Geallieerdes se welslae bygedra.
Die Britse weermag was in Egipte om die Suezkanaal te beskerm, wat die see-afstand van Europa na die Ooste aansienlik verkort.
Die Geallieerdes wou Noord-Afrika ook as basis gebruik vir ’n aanval op wat Winston Churchill, die Britse premier, die “sagte mag van Europa” genoem het: Italië.
Adolf Hitler het egter nog troepe in Noord-Afrika ontplooi, en een van die beste generaals in die oorlog, Erwin Rommel, het die Afrika-korps gelei.
In Maart 1941 het Rommel die Geallieerdes aangeval, en teen Mei was hulle tot in Egipte teruggedruk. Net in Tobroek het hulle uitgehou teen die man wat hulle die Woestynjakkals genoem het.
Tobroek het geval, en die Duitsers het 35 000 troepe gevange geneem. Dit was ’n wipplankstryd hier in die genadelose woestyn, en die Geallieerdes moes lank spook om finaal die oorhand te kry.
Terwyl ons die begraafplaas in die wind en stof verlaat het, was ek diep geraak deur die Suid-Afrikaners wat hul name hier in die glorieblaaie van die geskiedenis van die oorlog kon verewig.
Ek het ook ’n slag teruggekyk na die blomme en ons landsvlaggie. Dit was byna donker toe ons weer in die Land Rovers geklim het om verder kuslangs om Afrika te ry.
Twee dae later het ons Libië gegroet en vir oulaas vasgekyk in ’n massiewe advertensiebord met kol. Moeammar Ghaddafi se gesig. Hy het ’n sonbril op en tuur oor die horison van die Sahara.
By Saloem in Egipte, naby Libië se grens, het ons nog oorlogsgrafte gevind. Daar is een van ’n manskap F. Walters, en ek het ’n naamgenoot gevind: J.J. Holgate van die Royal Durban Light Infantry. Hy het op 13 Desember 1941 in die ouderdom van 32 jaar gesterf.
Die militêre museum op El Alamein het nog ou pantserkarre, tenks, troepedraers en ’n Spitfire. Suid-Afrikaanse vlieëniers het ook hier ’n rol gespeel.
Naby die ingang van die Statebond-begraafplaas is ’n monument op die plek waar die Suid-Afrikaanse troepe uitgespan het. Ook aan hierdie afgestorwenes toon ons ons meegevoel met blomme en ’n vlaggie by die graf van ’n onbekende soldaat.
Nou wag die antieke stad Alexandrië op ons. Dit het sy ontstaan in 332 v.C. aan Alexander die Grote te danke.
Kan julle glo ons is nou al byna ’n jaar op pad sedert ons verlede April by Kaappunt kuslangs om Afrika met die Outside Edge-ekspedisie begin het?
Aanstaande week vertel ons julle weer hoe ons vorder.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |