|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
![]() Al Pacino vertolk die hoofrol in die fliek 88 minutes.
Features
Spanning oor telefoniese vonnis
08/05/2008 07:41:14 PM - (SA)
’N FEES van klassieke Russiese rolprente, ’n aksie-avontuur, ’n riller van Stephen King, ’n oorlogsromanse met Shirley MacLaine . . . dit klink na die regte verskeidenheid vir die naweek se fliekvermaak.
*Die dramatiese City of Men handel oor twee jong mans se lewe in ’n favela (’n informele woonbuurt) in Rio de Janeiro. Laranjinha en Acerola moet sin maak van die eerste probleme van ’n volwasse lewe.
Acerola het ’n tweejarige kind, en met ’n vervelige werk as nagwag mis hy die vryheid van sy jong lewe. Laranjinha is ’n haan onder die henne, maar mis die vader wat hy nooit geken het nie. Voor hulle 18 word, neem hulle ’n eed: Laranjinha gaan sy pa soek en Acerola gaan iets aan sy liefdeslewe doen . . . Toe breek daar egter ’n grootskaalse dwelmoorlog in hul buurt uit.
*Die aksie-avontuur 21 handel oor ’n klompie slim studente wat uithaler-kaartspelers is en naweke die dobbelbase in Las Vegas bekommerd het. Hulle word gelei deur die eksentrieke wiskunde- en statistiekprofessor Micky Rosa (Kevin Spacey).
Deur ’n ingewikkelde stelsel van seine kommunikeer die klompie met mekaar en slaag só daarin by die dobbeltafels om te wen. Een van hulle word egter deur die leefstyl van geld en glorie verlei.
Ander spelers is Jim Sturgess, Kate Bosworth en Laurence Fishburne. Die ouderdomsperk is 13 weens geweld.
*The Mist is gegrond op ’n novelle deur die skrikmeester Stephen King. Dit handel oor Bridgton, ’n dorpie wat op ’n dag omhul word deur ’n onheilige mis waarin monsters skuil. Die regisseur is Frank Darabont, bekend om Shawshank Redemption en The Green Mile.
Spelers sluit in Thomas Jane, Marcia Gay Harden en Andre Braughe.
’n Ouderdomsperk van 16 jaar word aanbeveel weens kru taal en geweld.
*Al Pacino vertolk die hoofrol in die rolprent 88 minutes. Dit handel oor dr. Jack Gramm, ’n professor wat ook as ’n forensiese psigiater vir die FBI werksaam is. Hy ontvang ’n doodsvonnis per telefoon – hy word ingelig dat hy net 88 minute het om te leef.
Nou moet dr. Gramm alles in sy vermoë doen om die moontlike skuldige op te spoor: Dalk ’n voormalige minnares, ’n reeksmoordenaar, ’n student wat te na gekom is . . . Die lys is eindeloos. ’n Ouderdomsperk van 13 word aanbeveel weens geweld.
*Die Oscar-bekroonde regisseur Richard Attenborough, bekend om Ghandi en Shadowlands, is die skepper van die nuwe liefdesverhaal Closing the Ring. Shirley MacLaine, Christopher Plummer, Misha Barton en Pete Postlethwaite is hierin te sien.
Die prent speel oor twee kontinente en meer as vyftig jaar af. Die verhaal begin in 1941 toe Ethel Ann Roberts die hart van drie jong mans gesteel het – Teddy Gordon, Jack Etty and Chuck Harris.
Ethel het net oë vir Teddy, maar die oorlog breek uit, en ná ’n tragedie trou sy met Chuck. Tog hou die lewe nog vele verrassings vir haar in.
*Uit die hande van die regisseur Jihan El-Tahri kom die bekroonde dokumentêre rolprent Cuba: An African Odyssey. Dit is ’n kroniek van die invloed van Kuba op die politieke landskap in Afrika. Die prent het die Oliver Masson-prys ontvang en El-Tahir is verlede jaar as beste regisseur op die Montreal-rolprentfees vereer.
’n Russiese rolprentfees is tot 15 Mei in die Labia-teater in Kaapstad aan die gang. Werke van regisseurs soos Elem Klimov en Andrei Tarkovsky is te sien. Onder die prente is Agony, wat handel oor die monnik Raspoetin; ’n prent oor die Tweede Wêreldoorlog getiteld Come and See; die wetenskapfiksieprent Stalker van Tarkovsky; asook The Rider named Death, ’n historiese riller gegrond op The Pale Horse.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |