|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
![]() Vicky Davis
Features
‘Ek gaan vir oudisies, stap in die berg, sit op Facebook’
09/05/2008 09:15:58 AM - (SA)
OP die oomblik kan sy by Kunstekaap gesien word as Kate in Kringe in die Bos, en tussendeur werk sy druk aan die draaiboek van André P. Brink se Orgie, wat hopelik binnekort verfilm word.
SUSANNE BEYERS het met haar gepraat oor:
Die lewe ná 7de Laan
Ná twee jaar by 7de Laan was dit tyd om te gaan, om die onbekende vryskutwêreld weer aan te pak.
Dis nogal lekker om in die Kaap te vryskut, want almal is besig met “projekte”. Daar is ’n hele bedryf van mense wat gedurig in en uit produksies beweeg, daar is dus altyd iemand om mee strand toe te gaan of mee te kuier. Eintlik voel dit of niemand regtig hier wérk nie, in teenstelling met Johannesburg, waar mense spesifieke verpligtinge het.
Om vryskutfiks te wees, verg ’n ander ritme. ’n Mens kan nie té bekommerd raak oor die toekoms nie, want dan sal jy jou uitmergel. Ek kyk maar positief daarna – as “room to move”, jy weet.
Vyf jaar in die bedryf:
Ek was genadiglik altyd aan die gang sedert ek in 2003 met my honneursgraad in drama klaargemaak het.
Daar was nog altyd ’n ietsie – tekste, kortverhale, kinderstories, joernalistiek – ek was darem nie totaal afhanklik van speel nie. Die MA in kreatiewe skryfkuns onder leiding van Marlene van Niekerk waarmee ek begin het, sal ek graag weer eendag by wil uitkom, maar dit was te moeilik terwyl ek by 7de Laan in Johannesburg was.
Toe ek op skool was, het ek gedink dat my lewe op 26 gevestig sou wees – nou voel dit vir my asof ek maar eers begin om ’n idee te kry van waarheen ek op pad is.
Kreatiewe konneksies:
Ek, Jan Ellis en Hein Vos (ja goed, ek wás by beide romanties betrokke) werk saam aan Orgie. Dis maar soos dit gaan: Waar mense saam kreatief is, kan verbintenisse maklik ontstaan. Maar die projek bly groter as die persoonlike – ons is nog almal lief vir mekaar!
Mentors:
Johan Lategan – my én Nina Swart se drama-onderwyser op skool – en Abduragmaan Adams, wat op Stellenbosch vir my klasgegee het en my al in ’n vroeë stadium aangemoedig het, was my mentors.
Daaglikse dinge:
Ek gaan vir oudisies, stap in die berg, gaan see toe, kuier ’n bietjie by my pa en ma – Douglas en Louise – in Somerset-Wes en sit vir ure op Facebook.
Vars gesiggies:
Daar is natuurlik gedurig nuwe, jong talent op die horison, maar ek glo dat as jy goed is, jy werk sal hê. Werk met wat jy het, deal daarmee dat jy ouer raak.
Privaatheid:
Ek laat nie sommer enigiemand in my binneste inkom nie. Ek haat skynheilige verkeer, maar as ek eers vriende met jou is, is ek baie lojaal. I’m a dark horse, but I’ve got your back . . .
Nesskop:
As ek die regte persoon ontmoet en dit reg vóél, sal ek wil trou en kinders hê, maar dis maar ’n onvoorspelbare storie, die liefde. Op die oomblik bly ek rustig saam met twee vriende in ’n huisie in die Tuine. Maar ja, natuurlik raak ek ook soms needy en alleen.
Dink, doen en droom:
Ek dink te veel, sou meer wou doen en hou van droom.
Begeertes:
’n Apple-skootrekenaar vir my verjaardag, baie geleenthede vir reis, deurlopende vervullende werk en om eendag “No Regrets” by my begrafnis gespeel te kan hê.
Haar hart se punt:
Haar hart se punt:
Behalwe vir my werk, dink ek nie my hart hét op die oomblik ’n punt nie – dis die probleem. Sê maar dis onder konstruksie!
*Kringe in die Bos kan tot 17 Mei in die Kunstekaap-teater gesien word.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |