|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
Die eetplek Il Leone het ’n huislike maar stylvolle voorkoms.
Features
’n Stukkie Italië in Groenpunt
08/05/2008 07:40:24 PM - (SA)
IN die donker strate van Groenpunt skyn Il Leone se ligte warm en verwelkomend.
Dié Italiaanse restaurant is geleë in ’n pragtige Victoriaanse dubbelverdiepinggebou met ’n stoep wat rondom loop. Ek kan my net indink hoe lekker ’n mens in die somer hier sal kuier.
Dit is een van die min eetplekke waar ek, sommer so met die intrapslag, onmiddellik tuis voel.
Dié gevoel het baie met die vriendelike diens te doen, maar ook met die eetplek se dekor: Die indruk is een van warm hout en sagte lig. Amper huislik dog uiters stylvol.
Die aandag verskuif na die spyskaart. Vanaand is ek en my metgesel, Rembrandt, lus vir lekker hartlike kos, en dít is juis waarvoor Il Leone die afgelope jaar of wat ’n reputasie gekry het: onpretensieuse maar eg Italiaanse hartskos.
Die keuse van voorgeregte geskied taamlik maklik.
Ek besluit op die caprese-slaai met buffel-mozzarellakaas. Teen R75 is dit baie rande vir ’n voorgereg, maar dit is die eksotiese kaas wat die prys opjaag. Roomsag en met ’n baie subtiele smaak, is dit, wat my betref, een van die lekkerste kase op aarde. Dit word voorgesit met skywe tamatie, basiliekruidblare en ’n spatsel olyfolie – ’n eenvoudige maar baie geurige gereg.
My tafelmaat se keuse het geval op die carpaccio van beesfilet (R55).
Aanvanklik was die indruk dat die vleisie nie na veel smaak nie, totdat ons besef het dat die stukkies vleis nie gerook is soos ’n mens so gereeld by dié gereg aantref nie, maar rou is. Met ’n draaisel growwe sout kom dit tot sy reg en gaan dit goed af saam met die handevol roket en die skaafsels parmesaan, sampioene en seldery wat die res van die gereg uitmaak.
By die hoofgeregte is dit amper onregverdig moeilik om net een gereg te mag uitsoek.
Aangesien ons in ’n Italiaanse restaurant is, besluit Rembrandt op die sagne pezze (R75). Dié gereg bestaan uit vars, tuisgemaakte pasta wat in ’n ragu-sous opgedien word. Ons kelnerin verduidelik dat laasgenoemde bestaan uit skaapvleis wat ure lank in ’n sous opgekook word.
Met die koue weer aan’t kom het ek deesdae ’n liefde vir risotto, en Il Leone bied vier keuses aan die eter.
Ek wik en weeg tussen die porcini- en die seekosrisotto (R120), en besluit uiteindelik op laasgenoemde. (Ook aan die duur kant, ja, en hiermee word Rembrandt se tergerige aanname dat ek altyd die duurste gereg op die spyskaart bestel, seker maar bevestig. Ai!)
Ter verdediging: Daar is baie soorte seekos in dié potjie, waaronder garnale; ’n mens kan dus nie verwag om met R50 weg te kom nie.
Indien laasgenoemde prys egter beter by jou begroting pas, sou jy in hierdie eetplek geen probleem hê nie, want daar is volop pasta-geregte wat in hierdie pryskategorie val.
Te drinke het ons sommer ’n bottel rooi saamgebring, en hy vaar alte wel saam met die borde wat uiteindelik gebring word.
Hier voor my wemel die risotto van die seekos: Volgens die kelnerin word daar 80 g van elk van die bestanddele bygevoeg: stukkies witvis, klein garnale, lieflike sagte calamari en ’n paar mossel-menere. Dit is ’n effens ryk maar heerlike gereg, ideaal om die eerste winterkoue te beveg.
Oorkant die tafel gaan dit eweneens goed; die mening is dat die vleissous ’n bietjie smaak kort, maar dat die pasta droomsag is.
Ons smul goed voort, en in my agterkop begin ek reeds die volgende besoek beplan. Want op die voorgereg-spyskaart is die belofte van pangebraaide porcini-sampioene (R65) met knoffel, kruie en witwyn, wat blykbaar al legendariese afmetings in die stad aangeneem het.
’n Ander gereg wat die oog tref, is die panzotti (R62) onder die hoofgeregte. Dit bestaan uit pasta-pakkies gevul met artisjok en ricotta-kaas, opgedien met ’n botter-en-salie-sous.
Terwyl ons nou oor ’n vegetariese gereg praat: Dié spyskaart bied volop keuses vir diegene met ’n vegetariese voorkeur.
Van die taamlik groot nagereg-spyskaart laat kom my metgesel vir hom ’n porsie tiramisu (R35), op aanbeveling van die kelnerin, asook ’n espresso (R9).
Ek volstaan met ’n (uitstekende) cappucino (teen R11) en rond só ’n baie genoeglike ete af.
Tot volgende keer, dan.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |