|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
![]() Nico Panagio FOTO: BONGIWE GUMEDE, BEELD
Features
Leer soos hy leef
08/05/2008 07:39:34 PM - (SA)
NICO PANAGIO lag net so gemaklik op die gras onder ’n boom terwyl sy twee honde hom met modderpote betrap as voor die kamera of op die verhoog.
Ons gesels in ’n parkarea in Fourways, waar Nico en sy vrou, Christi, nou woon, sodat hul twee weimaraners, Diego en Gia, kan rondhardloop. Panagio het die honde agter in sy swart Landrover Freelander om hulle in Pretoria by sy ouers te gaan aflaai.
Dít is hoe Panagio se lewe op die oomblik lyk: heeltyd besig met verskeie dinge.
“’n Mens kan nie net met een ding besig wees nie,” sê hy. “As jy vryskutakteur is, moet jy jou oë oophou vir enige geleentheid.”
Panagio is ’n vryskutakteur sedert hy 7de Laan aan die einde van 2006 verlaat het. Hy was onlangs in Ella Blue op M-Net te sien en is ook pas klaar met die toneelstuk Kroes in Kaapstad saam met Kim Engelbrecht. Hy doen televisie-advertensies en tree op as seremoniemeester by geleenthede.
“Dit is baie onvoorspelbaar,” sê hy. “Hulle kan my vanoggend bel met iets wat ek vanaand moet doen. Maar dit is lekker.”
Panagio is ook aanbieder op die program Top Billing. “Dit is ongelooflik lekker. Ek het al buitengewone dinge gedoen en buitengewone mense ontmoet – eintlik is hulle net gewone mense wat glo dat hulle buitengewone dinge kan doen.”
Dit is moeilik om oor te skakel van toneelspel na aanbieder-wees, sê hy. “As die kamera rol, voel jy jy moet ’n rol vertolk. Maar jy moenie. Dit is ongelooflik moeilik om jouself te wees voor die kamera, ’n mens raak selfbewus.
“Jy moet vinnig dink. En jy moet die persoon waarmee jy ’n onderhoud voer gemaklik laat voel, want hy is gewoonlik senuagtig.”
Hy geniet wat hy die “kollektiewe kreatiewe proses” noem – om saam met die regisseur en kameraman te werk om die beste produk te verseker.
En hy gebruik elke geleentheid om te leer. “Op stel is ek alewig agter die kamera. Ek het al bietjie klank gedoen en wil ook leer om redigeerwerk te doen. Jy moet verstaan hoe al die afdelings werk.”
Hierdie kreatiewe proses is ook wat televisiereekse en flieks vir hom so lekker maak.
“Sepies is lekker, maar kloustrofobies. Daar is min spasie om in te speel. In flieks of reekse skiet jy tot twee uur, of selfs tot ’n dag, aaneen toneel. In ’n sepie neem een toneel ’n halfuur, want dit is massaproduksie en hulle moet heeltyd lewer.
“Ek hou daarvan dat jy by flieks, reekse en in die teater inklim, jou karakter alles gee en dan’s jy klaar.
“In ’n sepie raak jy moeg vir ’n karakter, want daar’s net soveel fasette wat jy aan een karakter kan gee. Jy kan nie goeie George Kyriakis nou skielik boos maak of in ’n komiese karakter verander nie.”
Hy word steeds af en toe as “George” aangespreek, maar dit gebeur al hoe minder.
“Dit pla my glad nie. George was ’n groot deel van die begin van my loopbaan as akteur. Ek het baie respek vir 7de Laan en wat ek daar geleer het.”
Panagio geniet ook die ander nuwe aspek van sy lewe nadat hy en Christi, wat Karien Momberg in 7de Laan speel, in 2006 getroud is.
“Die getroude lewe is ongelooflik. Mense het gesê dit sal moeilik raak of dat dit net ’n stuk papier is en geen verskil maak nie.
“Maar daar is ’n groot verskil. As julle sê julle word een in die oë van God – dit is die waarheid.”
Hulle wil definitief kinders hê. “Dinge moet net eers bietjie rustiger raak. Dit is op die oomblik moeilik om romantiese tyd te maak.”
Maar hulle kry goeie oefening, want die honde het baie aandag nodig, sê hy.
Die paartjie het voorheen gesê dat hulle ongeveer twee jaar voordat hulle getrou het, opgehou het om voorhuwelikse seks te beoefen. “Dit is iets wat ons lewe verander het en wat ons graag wou deel.
“Ons het goeie terugvoer gekry. Baie mense het gesê dat dit baie vir hulle beteken het. Ek is seker daar was negatiewe opmerkings, maar ons het dit nie ervaar nie. Dit sou ons ook nie gepla het nie, want ons het dit nie gesê om daarby baat te vind nie. Ons het toe reeds daarby baatgevind.
“Mense besef nie seks is ’n ongelooflik emosionele ervaring nie. Dit is ’n geskenk van God.
“Ek sê altyd vir ouens as hulle bereid is om met ’n meisie seks te hê, moet hulle ook bereid wees om die pa van haar kind te wees en hulle moet bereid wees om dood te gaan weens vigs.”
Panagio glo bekendes het ’n verantwoordelikheid en mag wat hulle kan gebruik. Hy en Christi is beskermheer en -vrou van die Louis Botha- en Jakaranda-kinderhuis in Pretoria.
“Ons is baie lief vir kinders en as ons hul lewe kan verander, sal dit wonderlik wees.
“Ek het al baie foute gemaak; ek sê nie enigiemand moet leef soos ek nie. ’n Mens leer soos jy leef.
“Maar as ek iemand kan help om een van die foute wat ek gemaak het te vermy, sal ek dit doen.”
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |