|
|||||||||||
|
| VIND: |
![]() Boeke
Van heerlike stuitigheid tot donker ondertone
12/04/2009 07:12:28 PM - (SA)
Poësie
NUWE KINDERVERSEBOEK
Riana Scheepers en Suzette Kotzé-Myburgh (reds.)
Toe Dirk Opperman in 1959 met sy Groot Verseboek (GV) begin het, het hy ook aan jong lesers gedink met Senior Verseboek en Junior Verseboek, en later Kleuterverseboek (1957) en Klein Verseboek (1959).
Nadat sy gesondheid geknak het, het hy toegesien dat GV voortgaan; ook ná sy dood is dit voortgesit. Maar die jongspanversamelings het uit die oog verdwyn – totdat Riana Scheepers, met kenmerkende energie en vindingrykheid, besluit het om dié leemte te vul met die genoeglike, pas verskene Nuwe Kinderverseboek (NKV).
Sy is bygestaan deur medesamesteller Suzette Kotzé-Myburgh en ’n opwindende span – die boekontwerper Teresa Williams, en drie uitmuntende illustreerders: die eerste afdeling, “Vir Pikkies en Peuters en Bekkige Kleuters”, is behartig deur die gebore Pool Maja Sereda; “Vyf, Ses, Sewe, dis hoe ek Lewe”, deur Tamsin Hinrichsen; en “Amper Tien, dis hoe ek die Wêreld Sien”, deur Dale Blankenaar. Elkeen het ’n oorspronklike, verfrissende en fleurige styl, uitmuntend aangepas by die belangstelling en verbeeldingwêreld van kinders in ’n bepaalde ouderdoms- groep. In ’n werk van dié aard is illustrasies van byna ewe veel belang as teks, en ek moet eerlik sê die NKV is kort en klaar een van die mooiste kinderboeke wat ek nog in Afrikaans gesien het.
Jare gelede het ek met Chinua Achebe gesels oor literatuur in Afrika; hy het vertel van sy voorneme om hom op kinderboeke toe te lê. Ander leidende Afrika-skrywers het hulle mettertyd ook in dié rigting begewe. Dit doen ’n mens se hart goed dat SA hom (of haar) ook al meer by dié geledere skaar.
Wat ’n aangename ontdekking dat soveel voorste skrywers van ernstige én ontspanningsliteratuur in dié bloemlesing verteenwoordig is: soos Hennie Aucamp, Johann de Jager, Philip de Vos, Engemi Ferreira, Antjie Krog, Lukas Malan, Scheepers, François Bloemhof en Engela van Rooyen. Duidelik word kinderlektuur in ons geledere ernstig opgeneem en met geesdrif en toewyding beoefen.
Elke afdeling sny ’n reeks uiteenlopende onderwerpe aan – van aksieryme, beroepe, bogryme, emosies, familie, gesondheid, goeie gedrag, hemelliggame, humor, identiteit, sosiale kwessies en teenoorgestelde geslag tot voedsel, die alfabet, vreemde lande, vriendskap en weeksdae.
Af en toe lei dit tot ’n dalk te prekerige inslag, soos in “My Lyfie is my eie” (maar ’n mens besef so iets mag in ons tydsgewrig noodsaaklik wees, as die aanslag lig genoeg is). Meestal kom genoeg spel en humor by om die verse heerlik vermaaklik te hou – al word af en toe effens kleigetrap met rym of ritme wat juis vir kleintjies so belangrik is (“Badtyd”, “Seepartytjie”, “Bangbroekie”, “Maats”, “Sê nou maar”, “Hadidas”, “Jakkalsie Verjaar”, “Sirkus”) – en waarom is daar by soveel Afrikaanse digters ’n onvermoë om die limeriek loslittig genoeg te hanteer (“Twee Koeie”)? Gelukkig hanteer party, soos Fred Walters, dit wel met flair.
In elke afdeling is momente wat ’n mens lok om oor en oor terug te keer: “Oeps!” wat die lesertjie uitnooi om die hippopotamus se glips met kraaiende plesier te omskryf (“Kan jy / dink / hoe dit / moet / . . . ?”), iets wat ook in “Ietermagô” gebeur, of “Krikkelwander” met sy onverwagse wendinge, “Mamma noem my . . . ” wat die leser met vindingrykheid kielie, “Die Groot Fees” wat ’n oorspronklike stel variasies aanbied op die bekende ou liedjie, die huppelspel met kleure in “Appeltjie Wit, Appeltjie Rooi” of “Van Gog die Verkleurmannetjie”, genietlike alfabetspeletjies, lekker opsêversies soos “As Niemand Kyk nie”. Krog se “Lagdoepa”, Zanne Bosman se “Die Grootneusreus”, Ruaan Jacobs se “Draak Soek ’n Spaan”, of “Skilpad”, “My Grys Kat”, “Kameelperd”, “Al wat ek wil Hê”, “Oupa”, “Trekker Ry”, “My Droomplaas”, “Nappel en Nei”, “ ’n Jok”, “Katter Majatter”, “Oumaliefde”, “Vrugtekelkie”, “Sonder Tande”, “Die Hand vol Vere”, “Dagmusiek”, “Slimjan en die Aliens”, of “Peperjêmbek”. Verse soos laasgenoemde, “Chrissie Perform” of “Kosie se Promosie” is geslaag omdat dit by vandag se spreektaal aanpas en nie ewe sedig net by die Algemeen Beskaafde hou nie!
Verse soos Jaco Jacobs se “Tibo se Trompet”, “Jy Klim ’n Boom van onder af”, of “Spel toet sir”, of Gerrit Brand se “eensinversie” “Die Krokopil” laat ’n mens wonder waarom nie méér tipografiese of grammatikale speletjies voorkom nie? Heelparty verse kielie met ondeunde woorde en verwysings (“Goema gaai gorrelie gaat”, “Die Windpomp”, “As”). Nie altyd gaan dit om ligte spel nie: die hartseer of donker ondertoon in “Tarentaal”, “Oupa en Ouma Sit op die Stoep”, “As”, “Die Boemelaar”, “prince charles” of “Bibberkind Barney” tref omdat hulle nie nét liggies is nie. Die hele laaste handvol, van “Pasop, Pasop” tot die einde laat die bundel op ’n hoë noot eindig. Ek kan my voorstel dat ook ouers hulle in dié boek gaan verkneuter.
TAFELBERG-UITGEWERS, KAAPSTAD. (HARDEBAND, 22 BLADSYE, ISBN 9 780 62404 676 9.)
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |