|
|||||||||||
|
| VIND: |
![]() Boeke
Binnewerkinge van SA sensuurmasjien bekyk
23/03/2009 07:56:19 AM - (SA)
Geskiedenis
THE LITERATURE POLICE – APARTHEID CENSORSHIP AND ITS CULTURAL CONSEQUENCES
Peter D. McDonald
Tydens al die jare waarin ons in Suid-Afrika gestriem is deur sensuur, is daar voortdurend oor dié kulturele plaag geskryf – meestal in artikels en briewe in die pers, soms ook gebundel, soos in JM Coetzee se Giving Offense. Maar so ’n uitvoerige ontleding soos Peter M. McDonald se The Literature Police het tot dusver ontbreek. In sy indringende ondersoek van sowel die geskiedenis van sensuur in die praktyk as die filosofiese en ideologiese grondslae daarvan, vul McDonald op briljante en dikwels verbluffende wyse daardie ontstellende leemte onder die opgaaf Apartheid Censorship and its Cultural Consequences.
Verbluffend, omdat ons gereeld, danksy volgehoue protes en analise deur swart én wit, Afrikaans- én Engelssprekende skrywers, ingelig is oor die verrottende en vernietigende uitwerking van sensuur op ons kultuurlewe. Maar die binnewerkinge van die sensuurmasjinerie is nog altyd vir ons geheim gehou. Danksy McDonald se openbaring van die versweë argiewe van dié masjinerie is dit nou uiteindelik blootgelê – en dit laat die lesende publiek met ’n gevoel wat aan Luke Watson nie onbekend sal wees nie.
Steeds is nie álles vertel nie: van die optrede van klein, mislike mannetjies soos Humphrey du Randt van die Universiteit van Port Elizabeth, wie se pogings om eerstejaarstudente te indoktrineer met leuenagtige bewerings oor die “kommunistiese aanslag” in die werk van voorste skrywers soos Nadine Gordimer en Breyten Breytenbach, uiteindelik ontmasker deur sy kollega, George Weideman, wat geweier het om lieg-en-bedrieg te veel; tot die werk van sogenaamde “literêre deskundiges” wat meegedoen het om ons kultuurlewe te knou.
Ander word wel eindelik ontmasker. Selfs ’n gerespekteerde kultuurmens soos Gerrit Dekker kom daar nie ongedeerd van af nie – al kon daar by hom nog effens om versagting gepleit word. Die volstrekte skaamteloosheid van ’n literator soos Merwe Scholtz wie se kamma-begaanheid oor die literatuur hier keer op keer deur sy eie woorde en dade kaalgat aan die breër publiek ontbloot word, laat mens verstom. Nes sy vrou, Rita: maar omdat sy ’n mindere figuur was, was haar skade ook minder. (Ten minste kan mens jou verkneuter aan McDonald se feitelike relaas oor hoe sy in ’n keurverslag oor Coetzee se Michael K so “endearingly confused” was dat sy nie kon onderskei tussen fellatio en cunnilingus nie!)
McDonald bekyk die aanloop tot sensuur in die werk van Geoff Cronjé en sy “paranoïese” komitee, totdat die nuwe bedeling in 1963 aangekondig is – van die ergste gered onder meer deur Van Wyk Louw se ingryping.
In die loop van die volgende tien jaar, dui McDonald aan, is meer as 10 000 titels verbied. Interessant is om te verneem dat niemand minder nie as Bartho Smit stilletjies self die manuskrip van Breyten se Ysterkoei voorgelê het vir ’n bevinding! Een van die neweprodukte van sensuur was juis die uiterstes waartoe dit mense gedryf het. In my onlangse memoir het ek byvoorbeeld vertel (wat McDonald nie vermeld nie) dat ek nadat Kennis van die Aand vir beoordeling voorgelê is, deur die hoofsensor Jannie Kruger aangeraai is om my eie boek aan te kla sodat ek betyds die uitslag kon verneem om Coenie Slabber in staat te stel om die bevinding in Rapport aan te kondig.)
Ook onthul hy dat Coetzee aansoek gedoen het om sensor te word, nie oor enige geheime sensuurneigings nie, maar om die bestel se eerlikheid te toets. Natuurlik is sy aansoek van die hand gewys. Ná die afsonderlike sensors onder die loep geneem is, bespreek McDonald die uitgewers wat in die proses betrek is (van David Philip en Ravan Press tot Human & Rousseau en Perskor). Dan word uitvoerig aandag gewy aan skrywers – die onverskrokke rol van Gordimer, Es’kia Mphahlele, Lewis Nkosi, Alex la Guma, Coetzee en ander, asook die posisie van Etienne Leroux, die boeiende geval van Wopko Jensma, die unieke posisie van Breyten (ongelukkig word die Skryt-sage nie volledig bekyk nie) en die skandelike lot van swart skrywers.
Die berugte Rushdiebotsing tussen Gordimer en Coetzee kom onder die soeklig (met Coetzee se uiteindelike erkenning dat Gordimer korrek opgetree het, en hy nié), asook die rol van skrywersgroepe, van Pen SA tot die Skrywersgilde.
Een gedeelte wat enigsins afgeskeep word, is die nadraai van sensuur se hoogbloei, byvoorbeeld die rol van die Hertzogprys, of Leroux se blootstelling in die VSA. Maar in sy geheel is The Literature Police ’n merkwaardige en eintlik allernoodsaaklike bydrae tot ons land se onlangse intellektuele geskiedenis. Vir enigiemand wat ons kultuur vandag in perspektief wil plaas, is die boek onontbeerlik. Ook met die oog op die toekoms, waaroor – wie weet? – nuwe sensuurwolke weer besig is om saam te pak.
.Oxford University Press, Kaapstad. (Hardeband, 416 BLADSYE, ISBN 9 780 19928 334 7.)
.André P. Brink is ’n Kaapse skrywer.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |