|
|||||||||||
|
| VIND: |
Boeke
Fyn net van woord wýd gespan in ‘Verseboek’
07/12/2008 09:04:40 PM - (SA)
Poësie
GROOT VERSEBOEK
André P. Brink (redakteur)
Daar is ’n paar soorte mense wat elke nuwe en belangwekkende bloemlesing, soos die Groot Verseboek inderdaad is, met gespitste aandag lees.
Die eerste – en angstigste – lesers, is diegene wat direk betrokke is by die bundel, digters groot en klein (iemand soos ek). Hierdie digters, dié wat nog leef, lees hul eerste desperate lees sommer net daar in die boekwinkel, om te kyk hóéveel gedigte, en wátter gedigte uit hul weergalose oeuvre in die Groot Kanon opgeneem is.
Hierdie lesers se ingenomendheid of teleurstelling met die bloemleser se keuse bepaal gewoonlik hul uitspraak oor die bloemlesing se gehalte. Beslaan die skrywer se gedigte veelvuldige bladsye, nee kyk, dan is dit ’n wonderlike bundel en die samesteller ’n mens met ’n indrukwekkende letterkundige kwosiënt. As die opname maar skraal is, ’n enkele, benerige gediggie of selfs net ’n koeplet uit ’n nuwe digbundel . . . nou, ja, dan is die samesteller ’n charlatan wat geen aanvoeling het vir die fyn net van die woord nie.
Hierdie resensie is nie vir digters nie, hulle weet reeds alles.
Die tweede falanks lesers van bloemlesings is letterkundiges en akademici (iemand soos ek). Hulle is die wyse manne en vroue met letterkundige grade en die jarelange sweet van seminare, studeerkamers en studente-lering. Dit is hulle wat diep en innig lees en uitsprake maak oor die fyn en gevaarlike praktyk van samestelling.
Oor die praktyk van bloemlesing is daar al ad infinitum geskryf. Elkeen wat hom al daaraan gewaag het om ’n versamelbundel saam te stel, of dit nou poësie of wátter ander genre is, weet dat dit enorme letterkundige integriteit, kundigheid en waagmoed verg. En dikwels ook jare se monikkewerk.
Afhangende van die bloemlesing se doelwit, moet die bloemleser soos ’n jongleur verskeie gegewe in balans hou én boonop die eindresultaat vir die leser substansieël en verleidelik maak. André P. Brink ís so ’n kunstenaar-gimnas. Soepel en sensitief fokus hy op die estetiese, die historiese ontwikkeling, betroubare verteenwoordiging én die plotselinge verrassings van ons verbluffend veelsydige Afrikaanse poësie; elke aspek word na bo gegooi en gewys.
Maklik was dit nie, ten minste drie boekdele het hy nodig gehad om sy keuse te maak. En vaderdankbaar het hy nie elke gepubliseerde digter, ter wille van politieke korrektheid, opgeneem nie.
Volledige verteenwoordiging van elke aspek van die poësiesisteem is ’n onbereikbare droom, en hiervan is Brink deeglik bewus. Sy doel met die Groot Verseboek was om die kanon te open, nie om dit te sluit nie. Soos hy tereg in die voorwoord (Deel 1) sê: “ . . . ’n bloemlesing (is) nooit meer as ’n keuse nie, elke keuse kon ook anders gelyk het.”
Dié resensie is nie vir letterkundiges nie, jy kan hulle niks leer nie.
Die derde groep lesers is die gewone ou, die liefhebber van poësie, hy of sy wat steeds verwonderd staan voor die skoonheid, gepastheid en direkte werklikheid van ’n gedig (iemand soos ek). Dit is hierdie leser wat miskien die waardevolste leser van ’n bloemlesing is, die een wat nie ál die digbundels in Afrikaans kan koop nie en hom nie aldag steur aan die seurderige menings van letterkundiges nie. Hierdie resensie is vir hulle, wat nog soos ’n kind met groot oë en oorgawe aan ’n gedig wil lees. Of vir diegene wat opgehou het om poësie te lees omdat hulle gedink het die Afrikaanse digters is óf ontoeganklike, godverhewe estete, óf bitterbek politieke dissidente.
Brink se Groot Verseboek, die drieledige, gebruiksvriendelike, blik-verpakte weergawe van 2008, is een van daardie soort boeke waarsonder die gewone mens eenvoudig nié kan klaarkom nie. Hoekom nie? Omdat dit ál die boeke in-een is wat jy ooit sal nodig hê.
Dis ’n nostalgiese herinneringsgeskrif: gaan lees met heimwee die verse van ons eerste digters; luister na hul vroeë weergawe van Afrikaans soos in die dierbare “Di steweltjies fan Sanni” en Marais se bittermooi “Winternag”. Die boek is ’n naslaanwerk, want, ja, dit ís H.A. Fagan wat “Nkosi Sikelel’ i-Afrika” geskryf het, en Langenhoven ís in 1932 dood. Nie net naslaanwerk nie, sommer ’n algehele ensiklopedie is dit, omdat jy lees uit pure nuuskierigheid én omdat jy die kennis vir belangrike take, soos om te leef, daaruit moet bekom. Romantiese liefdesbundel is dit, lees Van Wyk Louw en Esterhuizen, én gloeiwarm seksgeskrif, lees Hambidge en Krog.
Die biblioteek-in-een is nog nie klaar nie, want ’n klassieke resepteboek is hierdie blik vol boeke óók, iets soos Kook en Geniet waarna elke desperate vrou terugval as daar verdriet is in haar kombuis; gaan lees Ina Rousseau en Tom Gouws (veral sy pragtige “martinus versfeld”). Elke jonkvrou wat blouniks weet van huishou en liefhê en lewe, gebruik dit maar gerus as ’n huis-handleiding, Tilla Diedericks wys jou hoe.
Die Groot Verseboek is ’n geskiedenisboek óók, wat vertel van hierdie skrynende, lieflike land se kom en gaan en al sy mense: oorlog en vrede, vigs en verkrag, forced removal en die wonderwerk van 1994. Dit is taalgeskrif, van “Dopper Joris en zijn Zijltje” tot die variante van Griekwa en Kaaps en al die tale van hierdie land se “ordinary” mense.
Dit is ’n mediese handleiding, wat jy in die tyd van nood en angs gryp en sommer daar op die gang se vloer sit en lees en tjank, dit is bybel vir troos en leer, dagboek vir elke dag, en uiteindelik, eerstens, laastens, lieflike, oorweldigende, digte digbundel. Poësie. Die allermooiste, allerverskriklikste, allerwydste, allerliefste van ons taal.
Vergeet van brandstofpryse wat sak en rentekoerse wat daal; Groot Verseboek is die grootste winskoop wat jy vanjaar sal kry. Maak dié krismisblik oop en eet jou trommeldik aan al die smulgoed.
TAFELBERG, KAAPSTAD. (SAGTEBAND, 1424 bladsye ISBN 9 780 62404 715 5.)
RIANA SCHEEPERS is ’n letterkundige en skrywer van wellington.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |