|
|||||||||||
|
| VIND: |
![]() Foto:
Boeke
Random Violence - Jassy MacKenzie
14/10/2008 10:03:01 AM - (SA)
Random Violence: Jassy MacKenzie:
Die geweld in ons land spoel na die letterkunde oor.
Dié tendens is juis verlede naweek buite ons landsgrense aangeraak op ’n Antwerpse boekefees, waar die verskynsel bespreek is dat skrywers in Suid-Afrika hulle nie van die geweld in die land kan losmaak nie.
“Ou” en “nuwe” geweld is verskillend, maar onlosmaaklik deel van ons samelewing.
Dis dus nie verrassend dat verskillende skrywers uit die potensiaal van die tema put nie.
Jassy MacKenzie se sterk debuut-speurverhaal, Random Violence, begin met ’n misdaad wat na ’n “alledaagse” kaping lyk.
Dit blyk egter gou dat daar meer agter die moord skuil as wat aanvanklik vermoed word.
Haar hoofkarakters is uit die staanspoor interessant en sy steek nie hul swakhede weg nie.
Sy het ’n sterk vroulike private speurder in die persoon van Jade de Jong. Dié help haar eertydse kollega David Patel van die Suid-Afrikaanse Polisiediens om die moord te ondersoek.
De Jong het egter haar eie donker verlede, haar eie agenda en haar eiesoortige manier van doen.
Die skrywer imponeer met die diggeweefde en spannende verhaal.
Die omgewing waarin die gebeure afspeel, bied ’n eerlike en fassinerende blik op die skadukant van Johannesburg.
Daar is duidelike motiverings vir die dinge wat gebeur, maar geen geheime word verklap nie.
Daar moet van die begin tot aan die einde kopgekrap word.
Amateur-speurders gaan nie die raaisels voor die einde oplos nie.
Die skrywer is die redakteur van ’n tydskrif vir die haarsorg- en skoonheidsbedryf.
In hierdie wêreld verberg skoonheid dikwels heelwat kwaad.
MacKenzie sien duidelik deur die maskers wat mense voorhou.
Baie kan gesê word oor die eerste woorde, die eerste hoofstuk van ’n boek.
Dit kan ’n leser onmiddellik gryp of afstoot.
Die beskrywing van die “kaping” in die eerste hoofstuk laat angssweet op jou uitslaan.
Hopelik is dit net die eerste van vele speurverhale met Jade as hoofkarakter.
UMUZI, KAAPSTAD. (SAGTEBAND, 238 BLADSYE, ISBN 9 781 41520 063 6.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |