|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
![]() Robert CalderisiFoto: M. PALMER
Boeke
Skerp kritiek op hulp aan Afrika
04/05/2008 07:50:14 PM - (SA)
DIT was nooit sy idee om aan ’n konserwatiewe gehoor skietgoed te gee om Afrika te veroordeel nie. Hy wou eerder krities kyk na ontwikkelingshulp aan Afrika, waarom dit nie werk nie en wat gedoen kan word, sê die voormalige Wêreldbank-woordvoerder Robert Calderisi.
Calderisi werk al sedert die sewentigerjare in verskeie Afrika-lande, vernaamlik vir die Wêreldbank, en het uitstekende kennis van die situasie in plekke soos die Ivoorkus, Tanzanië, Tsjad en die Sentraal-Afrikaanse Republiek.
In sy boek The Trouble with Africa – Why Foreign Aid isn’t Working is hy wel skerp krities oor Afrika-regerings wat geld misbruik, hul burgers uitbuit en klaarblyklik armoede gelate aanvaar.
Hy raak ook aan die baie omstrede kwessie van hoe Afrika-kultuur tot Afrika se verval bygedra het.
“Respek vir die ouer geslag het bygedra tot die kontinent se mislukkings. Afrikane aanvaar diktatorskap en korrupte verkose amptenare as hul lot,” voer hy byvoorbeeld aan in sy boek.
Hy maak ook die omstrede stelling: “Armoede in Afrika is meer ’n Westerse as ’n Afrika-probleem. Die meeste Afrika-regerings beskou armoede as so natuurlik soos die wind en die reën, eerder as iets wat hulle kan verander.”
Op ’n besoek aan Suid-Afrika ’n tyd gelede het Calderisi, wat in Kanada woon, egter ontken dat sy boek vergelyk kan word met die veelbesproke Negrologie van die Franse joernalis Stephen Smith. Dié omstrede boek, wat in Afrikaans vertaal is, voer aan Afrikane moet die leeueaandeel van die skuld kry vir Afrika se mislukkings, en die boek is wyd in Afrika as rassisties bestempel.
Calderisi dring daarop aan dit gaan oor beleid, eerder as ’n inherente onvermoë van Afrikane.
“Ek raak wel die kwessie van kultuur aan, maar ek vergelyk dit met my eie agtergrond. Ek is van Italiaanse afkoms en baie mense het in die vyftiger- en sestigerjare gesê Italië en Spanje word teruggehou deur sogenaamde tradisionele waardes. Hulle het wel daarin geslaag om aan te pas en deel te word van die moderne wêreld.”
Die grootste deel van Calderisi se boek handel oor die $25 miljard (om en by R190 miljard) aan buitelandse hulp wat die laaste paar jaar maar bitter min gedoen het om Afrika-lande se ekonomieë te verbeter. Hy plaas net soveel blaam vir wat in Afrika verkeerd gegaan het op diegene wat “uit ’n misplaaste skuldgevoel” geld uitdeel aan diktators en regerings wat wanbestee en in die proses as ’t ware verhoed dat Afrika verander.
“Hulp aan Afrika is gegrond op ’n reuse-misverstand,” meen Calderisi – nogal ’n sterk stelling van iemand wat dekades lank hierby betrokke was.
Weens die Westerse skuldgevoel, wat hy erken “nie noodwendig ’n slegte ding is nie”, word hulp lukraak uitgedeel sonder dat dit werklik sy doel bereik om armoede uit te wis en lande ekonomies op te hef.
Calderisi stel onder meer voor dat bilaterale buitelandse hulp (van een regering aan ’n ander) heeltemal gestaak moet word en internasionale hulp onder baie streng voorwaardes slegs aan demokratiese regerings met werkbare ekonomiese stelsels uitgedeel word.
Calderisi glo verder Afrika se heil lê uiteindelik in die heropbou van die landbou-sektor. Dit hou die grootste potensiaal in vir groei, werkskepping en om afhanklikheid van hulp stop te sit.
Hy verskil radikaal met die protesgangers in Europa en elders wat gereeld in massa-betogings teen “Westerse uitbuiting van Afrika” kla dat ryk lande se landbou-subsidies onregverdig is en dat dit Afrika verhoed om sy landbouprodukte winsgewend uit te voer.
“Afrika het sy markaandeel aan sterker mededingers in Asië en Suid-Amerika verloor. Dit is nie weens landbou-subsidies nie.
“Die Ivoorkus was in een stadium die wêreld se grootste produsent van pynappels. Hy het die mark verloor omdat die regering produsente gedwing het om regeringsbeheerde skepe en kratte te gebruik . . . Dit is beleidsrigtings wat Afrika kniehalter.”
Net so het Maleisië die produksie van palmolie van Ghana oorgeneem.
Indien wanbesteding en korrupsie uitgeskakel word, kan dié markte weer teruggewen word.
“Lande moet hul eie hulpbronne, eerder as hulp, gebruik om te groei.”
Calderisi meen lande soos Mosambiek, Uganda, Zambië, Botswana en Benin is voorbeelde van ekonomieë wat “kerngesond” is en ’n interne dinamiek het.
Maar wat as dié lande môre in oorlog of ekonomiese verval gedompel word? Sal die ekonome wat optimisties na ’n handjievol “suksesverhale” kyk, dan van deuntjie verander?
Calderisi betwyfel dit; hy glo dié lande se “fundamentele aanwysers” is wel reg.
Maar wat dan van ’n land soos Kenia, wat almal gedínk het stabiel is: ’n sterk ekonomie, ’n paradys vir toeriste en beleggers?
Calderisi meen die sogenaamde stabiliteit in Kenia was ’n hersenskim, en die Kenia onder die voormalige president Daniel arap Moi het gely weens wydverspreide korrupsie en ernstige etniese verdeeldheid.
“Dit sou baie moeilik wees om ’n argument te bou dat Kenia die laaste paar jaar die regte ding gedoen het.”
Daar was al sterk tekens van ’n dreigende krisis in Kenia in 2005, toe ’n meerderheid stemgeregtigtes president Mwai Kibaki, Moi se opvolger, se plan vir ’n referendum verwerp het, sê Calderisi.
Beteken dit daar is baie lande in Afrika wat só op die oppervlak suksesvol lyk, maar in werklikheid ernstige, diepgaande probleme het?
Dit is ongelukkig so, erken Calderisi.
“In baie lande in Afrika heers net ’n baie bedrieglike kalmte. Dit is waar van plekke soos Togo en elders. Dit kan enige oomblik ontplof.”
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |