Webwerf   Argiewe   Foto's   Netads 
WEER » n.a. Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com

  TUIS  

  NUUS  

  MULTIMEDIA  

  SPORT  

  SKOLE  

  KAMPUS  

  SAKE  

  VERMAAK  

  OPINIE  

  BLOGS  

  FEATURES  

  MOTORS  

  SUPER14  

  VERMAAK  

  BOEKE  

  ABSA KKNK  

  NETNAWEEK  


VERSEKERING
Spaar tot 25% by OUTsuranceKliek hier vir motor-, huisinhoud- en besigheidsversekering en ons bel jou terug.
   
Boeke
Geestige skrywer van uitsiglose verse se lewe vertel
04/05/2008 07:48:31 PM - (SA)

VAN ALLE DINGEN LOS – HET LEVEN VAN J.C. BLOEM, deur Bart Slijper. Arbeiderspers, Amsterdam/Antwerpen, 2007. (Sagteband, 390 bladsye, ISBN 9 789 02956 499 1.)

IN die indrukwekkende ry biografieë oor Nederlandse literêre figure van die af­­gelope drie dekades het daar onlangs ook ’n lewensbeskrywing verskyn van J.C. Bloem, ’n digter wie se werk aan baie geslagte studente in Suid-Afrika bekend was.

In Bart Slijper se biografie word die ­leser voorgestel aan ’n skrywer wat alles vir sy digterskap veil gehad het, al het hy met sy gebrek aan daadkrag op haas alle ander vlakke in die samelewing misluk.

Die stories is legio oor die wyse waarop dié hulpelose mens sy beroep verwaarloos het wat vir sy brood en botter moes sorg.

Op ’n keer was sy geldnood só groot dat hy drie maande lank by die poskantoor gaan werk het. Toe hy daagliks eers om halfelf opdaag en daaroor aangespreek is, was sy verweer: “Vind u het zo erg dat ik later kom? Ik ga toch ook eerder weg?”

Bloem se poëtiese oeuvre beslaan maar 250 bladsye en kritici het tydens sy lewe gevind sy werk is op ’n laer vlak as dié van sy tydgenoot A. Roland Holst. Die ­waardering vir die suiwerheid van sy ­poësie het egter ná sy dood in 1966 toe­geneem, terwyl ’n verset begin groei het teen Holst se grootspraak en “orgeltoon”.

Van Bloem se Verzamelde Gedichten is met die jare 70 000 eksemplare verkoop, en van Doorschenen Wolkenranden, die bloemlesing uit sy poësie, 20 000.

Naas besonderse teksuitgawes van sy gedigte het A.L. Sötemann indringende opstelle aan sy werk gewy. Teen die ­agtergrond van sy maatskaplike ont­hegting en mislukkings op vrywel alle gebiede, behalwe dan die poësie, vra Bloem in een van sy gedigte: “Is dit genoeg: een stuk of wat gedichten, / Voor de rechtvaardiging van een bestaan?” Die antwoord lê in die hoë kwaliteit van die verse wat aan lesers van sy oeuvre beskikbaar is.

In 1946 en ’47, kort ná die beëindiging van die Tweede Wêreldoorlog, het die ­literêre gemeenskap van Suid-Afrika ­besoek ontvang van Holst en Bloem, wat albei etlike maande lank die land deurkruis het, albei om van hul verse by universiteite en ander instellings voor te lees. Ten spyte van die uitsiglose verse en die eensaamheid wat uit sy werk spreek, was Bloem ’n gemoedelike, hartlike en geestige mens. Met sy enigsins mompelende voordrag moes jy betreklik voor in ’n ouditorium sit om hom te hoor, want hy was wars van enige opsmuk en het nie sy poë­sie aan die aanwesiges probeer “verkoop” nie.

Hy het graag aan die Suid-Afrikaanse wyne en brandewyn geproe, maar omdat sy voorkeur vir Hollandse jenewer bekend was, het sy gashere gesorg dat daar altyd ’n fles beskikbaar was. Tydens sy besoek aan W.E.G. Louw op Grahamstad het hy daagliks sowat ’n fles uit sy eie voorraad genuttig. Omdat hy in dié beskaafde huishouding nie raad wis met die leë flesse nie, het hy hulle saans langs die Anglikaanse katedraal gaan neersit. “Had ik nog twee weken langer gebleven, had ik de ­kathedraal omsingeld,” was sy latere ­gelate woorde.

Einde Mei 1948 vertrek Bloem met die Bloemfontein terug na Nederland. Die in Kaapstad wonende Nederlandse digter Jan Greshoff, wat die reis help moontlik maak het, begaan die flater om Bloem reeds die aand vóór die vaart ’n bietjie geld te gee wat bedoel was vir die drie weke aan boord. Greshoff skryf: “Toen wij Jacques van zijn hotelletje afhaalden om hem naar de haven te brengen, was hij reeds een heel end buiten westen. Het schip voer af, wij wuifden op de kaai en Jacques wuifde mee. Hij stond echter aan de andere kant van de boot en bij het zwenken merkten wij hoe de goede dichter Bloem geestdriftig stond te zwaaien, pal zeewaarts waar hij ons meende te ontwaren.”

Slijper se biografie bied nou vir lesers van Bloem die geleentheid om met die man agter die verse kennis te maak.

Die oormaat jenewer herinner ­Afri­kaanse lesers aan die kwatryn wat D.J. ­Opperman oor dié Nederlandse digter ­geskryf het:

Ek wil nie vleiend skryf of name noem,

want vlugtig soos jenewer is die roem,

maar dankie sê vir een wat pyn

met skoner pyn van die gedig verbloem.

. J.C. Kannemeyer is buitengewone pro­fes­sor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch.

    
VIND
Reis & Verblyf
F1 Produkte
Internasionale Lotto
Motor Huur
Eiendomme te koop
Versekering Vir Vroue
Versekering
Dekor
Motors
ONS BEVEEL AAN
netNaweek.com
Nie seker wat om die naweek te doen nie? Kry elke Vrydag netNaweek.com, propvol nuus oor die lekkerste wat die Kaap het om te bied en wen hope pryse. Die gratis e-pos sluit inligting oor flieks, teater, restaurante, uitstallings, wegbreek-naweke en sommer enige iets wat pret is om die naweek te doen in.

Gaan na netNaweek.com om te registreer.
VIND
Reis & Verblyf
F1 Produkte
Internasionale Lotto
Motor Huur
Eiendomme te koop
Versekering Vir Vroue
Versekering
Dekor
Motors
NETADS24
Soek ‘n advertensie

Algemeen
Loopbane
Motors
Eiendomme

VIND OU SKOOLVRIENDE
Kies jou skool se provinsie:
En klik op die eerste letter van jou skool:
ABCDEFGHIJKLMN
OPQRSTUVWXYZ
ONS BEVEEL AAN
netNaweek.com
Nie seker wat om die naweek te doen nie? Kry elke Vrydag netNaweek.com, propvol nuus oor die lekkerste wat die Kaap het om te bied en wen hope pryse. Die gratis e-pos sluit inligting oor flieks, teater, restaurante, uitstallings, wegbreek-naweke en sommer enige iets wat pret is om die naweek te doen in.

Gaan na netNaweek.com om te registreer.

       
 Kontak ons | Navrae | Teken in op ons nuusbrief | Vrae oor registrasie | Adverteer | gebruikersooreenkoms |