Webwerf   Argiewe   Foto's   Netads 
WEER » n.a. Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com

  TUIS  

  NUUS  

  MULTIMEDIA  

  SPORT  

  SKOLE  

  KAMPUS  

  SAKE  

  VERMAAK  

  OPINIE  

  BLOGS  

  FEATURES  

  MOTORS  

  SUPER14  

  VERMAAK  

  BOEKE  

  ABSA KKNK  

  NETNAWEEK  


VERSEKERING
Spaar tot 25% by OUTsuranceKliek hier vir motor-, huisinhoud- en besigheidsversekering en ons bel jou terug.
Boeke
Kampbelewing veelvlakkig belig
27/04/2008 08:45:20 PM - (SA)

WILHELMINA – KAMPKIND OP JAVA, deur Mariël le Roux. Protea Boekhuis, Pretoria, 2007. (Sagteband, 277 bladsye, ISBN 9 781 86919 162 7.)

DIE boek Wilhelmina – Kampkind op Java vertel die verhaal van Will van Halewijn se belewenis van ’n konsentrasiekamp saam met haar moeder en sussies. Dit speel veral op Java af. Die vader is ’n skeepsbouer in Roemenië en die gesin vlug na Indonesië met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog.

Die besetting van die eiland deur die Japanners bring ’n wending in hul lewe met die gepaardgaande ellende wat so ’n situasie inhou. Die uiteindelike emigrasie is na Suid-Afrika, en die leser beleef die oorvertelling van die verhaal aan Mariël le Roux.

Die boek is besonder mooi uitgegee met ’n foto op die omslag van die kampkind. Hirosjima en Nagasaki en die atoombom­me is die een oorlog; daar is egter ook die Javaanse opstand teen die Hollandse oorheersing. En Wilhelmina is Nederlands.

Die dubbele oorlog word verder bemoeilik wanneer die vader terugkeer, onbewus van die werklike ellende wat beleef is omdat hy tydens die oorlog in Simonstad was. Die groter oorlog word gesinkopeer met ’n binne-oorlog van verdere onsekerhede.

Dié roman aktiveer vir hierdie leser Alice Miller se The Drama of Being a Child – The Search for the True Self (Virago, 1987), en in welke mate die geskonde kind, deur stem te gee aan verdrukking, tot genesing kom.

Deur die verhaal aan ons te bied, word nie alleen ’n belangrike en relevante letterkundige teks gelewer nie, maar word dit ’n dokument van oorwinning en vryheid vir Wilhelmina.

Hierom die begin van die teks waarin sy bely dat sy moes vrede maak met die oorlog wat haar geknyptang het.

Dit is ’n bekende kode van die belydenisroman om ’n verhaal aan ’n ander te vertel wat dit dan as ’n soort dokument vir die leser aanbied.

Daar is sewe kussingslopies volgestop met klere en linne, die werklikheid van die Rooi Kruis en die onrustighede wat só ’n bestaan inhou.

Daar is ’n Japanse soldaat wat Nederlands kan praat, en hulle word teruggeneem om hul besittings te gaan haal. Dit blyk egter dat hul huise in Perak beset is en dat hulle niks mag wegneem nie.

Hulle is die flapkeppe met lemgewere – gestereotipeer, ontmenslik. Waargeneem deur die oë van ’n kind.

Horlosies moet volgens Tokio-tyd gestel word en daagliks is daar nuwe reëls en regulasies.

Verbod op BBC en Radio Nederland. ’n Afsluiting van die buitewêreld.

Japanse geld word toiletgeld genoem; dis waardeloos.

Die prosa in hierdie gedeeltes is dringend en verraai iets van die ontsteltenis van die waarnemer. Dit is duidelik ’n knoop in die psige soos Lacan hierdie soort trauma beskryf.

Soerabaja is die kamp vir die vroue en kinders, met hoë heinings van hakiesdraad. Ons sién die hakiesdraad en heinings.

Met subtiele implikasies oor wat mans aan vroue kan doen. Die ma waarsku immers dat mans se onheil broei in die nag . . . Daar is vele anekdotes oor hoe die vyand uitoorlê word en die oorlewingstaktieke is geloofwaardig.

Die verveling van oorlog en die uitdaging van die vyand (deur hulle in die oog te kyk), kom eweneens aan bod. Moenie ’n soldaat in die oog kyk nie. Oppas vir verkragting.

Daar word skoolgehou, in klein groepe, om die kinders besig te hou, en met Juffrou Bot wat hulle vertel wat aangaan. Interneringskampe bestaan, en die smokkel van kos en klere na die gevangenes.

Die verraaiers neem deel om besig te bly en ter wille van vergoeding.

Rooirissies, grondbone, eendeiers en ander kossoorte word beskryf, en hoe die kos gemaak word, sodat die leser amper ’n filmiese wêreld beleef. Blikkieskos en lewertraan.

Die gevaar van tifus bestaan, soos die verdwyning van jong seuns . . . Die mure is dun, die humeure word kort.

Nagte word in onsekerheid omgesweet.

In die kursiefgedeeltes, met erge emosionele pyn, beleef ons die hede. Het vriende die oorlog oorleef? Hier word beskryf hoe gesinne van mekaar geskei word en hoe haar moeder hulle altyd bymekaar gehou het. Twee vragmotors kon verskillende bestemmings bereik.

Die verhaal word in ’n sober prosa aangebied sodat die emosionele impak des te groter word vir die leser. (Daar is ook humor, soos die omkeer van ’n pot op ’n Japanner wat probeer inkom.)

Hierdie stuk geskiedenis het my nog altyd gefassineer. Besoeke aan die museums in Hirosjima en Nagasaki gee uiteraard ’n ander kant van die munt, nes Pearl Harbour.

Maar die mens, die klein onskuldige kind veral, wie se lewe oorweldig en verander word deur ’n oorlog, dis waaroor hierdie verhaal handel teen die agterdoek van ’n groot omwenteling in die geskiedenis en sy skending van menseregte.

Op die agterplat word vertel dat ’n mens nie maklik hierdie boek kan neersit nie. Dit was hierdie leser se ervaring van dié dokumentêre fiksie. Alles gebeur op twee vlakke: ’n verhaal vertel aan ’n ander; twee oorlog-situasies en ’n voortdurende beweeg tussen die hede en die verlede.

. Joan Hambidge is professor in kreatiewe skryfwerk en Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Kaapstad.

    
VIND
Reis & Verblyf
F1 Produkte
Internasionale Lotto
Motor Huur
Eiendomme te koop
Versekering Vir Vroue
Versekering
Dekor
Motors
ONS BEVEEL AAN
netNaweek.com
Nie seker wat om die naweek te doen nie? Kry elke Vrydag netNaweek.com, propvol nuus oor die lekkerste wat die Kaap het om te bied en wen hope pryse. Die gratis e-pos sluit inligting oor flieks, teater, restaurante, uitstallings, wegbreek-naweke en sommer enige iets wat pret is om die naweek te doen in.

Gaan na netNaweek.com om te registreer.
VIND
Reis & Verblyf
F1 Produkte
Internasionale Lotto
Motor Huur
Eiendomme te koop
Versekering Vir Vroue
Versekering
Dekor
Motors
NETADS24
Soek ‘n advertensie

Algemeen
Loopbane
Motors
Eiendomme

VIND OU SKOOLVRIENDE
Kies jou skool se provinsie:
En klik op die eerste letter van jou skool:
ABCDEFGHIJKLMN
OPQRSTUVWXYZ
ONS BEVEEL AAN
netNaweek.com
Nie seker wat om die naweek te doen nie? Kry elke Vrydag netNaweek.com, propvol nuus oor die lekkerste wat die Kaap het om te bied en wen hope pryse. Die gratis e-pos sluit inligting oor flieks, teater, restaurante, uitstallings, wegbreek-naweke en sommer enige iets wat pret is om die naweek te doen in.

Gaan na netNaweek.com om te registreer.

       
 Kontak ons | Navrae | Teken in op ons nuusbrief | Vrae oor registrasie | Adverteer | gebruikersooreenkoms |