|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
![]() Foto:
Boeke
‘Hoge’ en ‘populêre’ literatuur naatloos byeen in lofwaardige roman
20/04/2008 05:15:54 PM - (SA)
’N TAPISSERIE MET KLEIN DIERE, deur Erika Murray-Theron. Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad, 2008. (Sagteband, 212 bladsye, ISBN 9 780 62404 618 9.)
VAN naby en van ver bring Gerhardt, ’n geskeide alleenloper, sy familielede op ’n kusdorp byeen – karakters wat mekaar se geselskap eintlik net in die magiese sfeer van die roman sou verduur.
Want soos die sewe doodsondes, het elkeen sy besonderse vorm van boosheid: Daar’s die dominerende en eiewyse kunstenares-cum-matriarg, Dorothea, wat haar gesin op ’n kritieke tydstip in die steek gelaat het, en haar seniele broer, Eben, wat nie respek gehad het vir ander se regte of lewe of liefde nie.
Daar’s ook Dorothea se vier kinders: moralistiese Maryn; die taktlose drama queen Juliana; Driessen, wat soos sy pa sy hande in ander se geld gesteek het, en Sias, wat niemand probeer plesier nie.
Om nie te vergeet van die dooies, wat soos in soveel ander familieromans nie die lewendes met rus wil laat nie: Alet, wat selfmoord gepleeg het, en Laas, met sy algehele gebrek aan oordeel wat steeds ’n lang skaduwee oor sy nageslagte werp.
Maar dit is nie ’n gewone familiesaamtrek dié nie. Uit die staanspoor is dit duidelik die familielede is die “slagoffers” van ’n roman, wat soos vir ’n opvoering byeengebring word. Die groot regisseur is Gerhardt, wat later blyk ook “die skrywer” te wees – maar eintlik Erika Murray-Theron, wat op haar vernuftige manier die ragfyn drade van haar storie inmekaarweef.
Soos in enige goeie opvoering (of roman), is daar reeds in die eerste tonele tekens van spanning wat oplaai. Dis nie verniet dat Dorothea (’n wewer met internasionale aansien) vertel van ’n tapisserie wat sy gesien het deur ’n ander wewer, Margrethe Agger, van ’n vulkaan in Ysland nie: Al is hy heeltemal bedek met ’n yskap, kan hy enige tyd tot uitbarsting kom.
Omdat dit reeds van kleins af sy hartsbegeerte was om so ’n vulkaan te sien, het Gerhardt, die ewige koekeloerder, seker gemaak dat hy die spreekwoordelike voorste sitplek het. Soos dit ’n goeie skrywer betaam, moet hy egter ook sy storie “stook”. Hy begin dus reeds vanaf die eerste bladsye letterlik dryfhout versamel vir die “moerse groot vuur” wat die familie uiteindelik op die strand sal maak. Hierdie vuur is vir almal, selfs vir Gerhardt, ’n katarsis, omdat die karakters teen dié tyd nakend voor mekaar staan – ontdaan van geheime en gelouter deur hul verhale.
Intussen word die takelwerk van rafels en los drade tussen die karakters stukkie vir stukkie verweef tot ’n geheel wat nie net die verlede blootlê nie, maar ook moontlikhede vir die toekoms ontgin. Want soos Agger, wat woede weggewerk het terwyl sy haar tapisserie van ys en vuur geweef het, het elke karakter ook nader aan ’n soort waarheid beweeg. Soos wat Gerhardt op bladsy 176 oor sy verhaal, wat einde se kant toe staan, sê: “Dis nie hoe dit gebeur het nie. Maar dit is waar.”
In hierdie roman, in 2007 met die Sanlam-Insig-romanprys bekroon, wys Murray-Theron weer eens haar diepe begrip vir die komplekse verhoudings tussen bloedverwante. Sy skets haar karakters met deernis; sy kry dit telkens reg om stereotipes vry te spring, en sy vra “groot vrae” sonder om moralisties te wees: Is dit moontlik om aan die “bedreigende mag” van die verlede te ontsnap? Wat ís kwaad, en wanneer kan jy vir ’n daad aanspreeklik gehou word?
Dié vrae word ligweg gevra, en Murray-Theron stel, soos in die verlede, haar uitsonderlike vermoë ten toon om die leser enduit te boei. Sy bou ’n brug tussen “hoge literatuur” en “populêre literatuur”, sodat daar byna ’n naatlose oorgang tussen die twee is. Inderdaad ’n prestasie in ’n tyd waarin “gewild” en “toeganklik” dikwels as minderwaardig beskou word.
Dié tapisserie het egter ook sy haakplekke, en vir hierdie leser het dit gevoel of die familie-intriges hier na die einde se kant soms net effe dik vir ’n daalder word. Die opeenstapeling van sondes, dramas en onthullings neig plek-plek na die melodramatiese, en selfs al word ons telkens deur “die skrywer” herinner dis net ’n storie, sou ’n effe meer geloofwaardige ontknoping groter impak gehad het.
Die ingrepe deur “die skrywer” is ook nie oral ewe suksesvol nie, en soms, net soms, wonder jy of Murray-Theron hom nie juis ingebou het omdat sy bewus was van sekere gebreke nie. Veral wanneer hy op bladsy 175 bieg “dat ’n kritikus dalk die ontknoping van party drade soetsappig of te maklik sal vind”.
Maar dis geringe klagtes, en in die geheel gesien is ’n Tapisserie met Klein Diere ’n lofwaardige poging deur ’n skrywer aan die kruin van haar vermoë.
Die uiteindelike maatstaf is tog of dit ’n roman is wat jou laat aanhou lees – en dit is iets wat selfs die mees iesegrimmige kritikus tot op die laaste bladsy sal doen.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |