|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
Boeke
Gesukkel met feite maak aksie effe tam
20/04/2008 05:07:54 PM - (SA)
FLIGHT 103, deur Sam Green. Random House, New York, 2007. (Sagteband, 304 bladsye, ISBN 9 781 84605 270 5.)
SAM WOOLFMAN probeer te hard om die nuwe Jack Ryan of Ethan Hunt te wees. Hy is ’n afgetrede Mossad-agent wat hom in Londen bevind, waar hy besig is om te werk aan ’n werklike lewe waarin hy ’n antiekware-handelaar is. Maar dan ontplof ’n bom op ’n vliegtuig oor die sluimerende Skotse dorpie Lockerbie, en nie net is die hel los nie – Woolfman se lewe sal nooit weer dieselfde wees nie. Al weer.
Sam Green, die skuilnaam van die skrywer Juval Aviv, se tweede Sam Woolfman-boek is nie soseer ’n teleurstelling nie – hy probeer net te hard om die fiksie en die feite met mekaar te laat klop. Hoewel Woolfman ’n fiktiewe karakter is, is die Lockerbie-lugramp ’n werklikheid, en die boek probeer om een van die vele teorieë daaroor te ondersoek. Aviv se agtergrond as ’n offisier in die Israeliese weermag sou soveel beter benut kon word.
Hoekom moet ’n mens deur 320 bladsye werk, met tye worstel, om agter te kom dat die man wel kan skryf, maar dat jy eerder sy agtergrondkennis sou wil verneem in elk van die aparte genres? Dit werk nie altyd om feite met fiksie te probeer balanseer nie.
Hierdie werk is nie The Da Vinci Code nie, en die teorie is in elk geval nie so interessant – of leen dit tot soveel omstredenheid – nie, en daarom bly dit iewers in die slag. Die storie is nie ’n algehele mislukking nie, en tokkel tog wel hier en daar ’n aksiebelaaide snaar. Maar indien dit aksie sonder skroom is waarna die leser soek, is daar heelwat ander keuses wat uitgeoefen kan word.
. Ernst Swart is ’n skrywer by tvplus.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |