|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
|
|
|||||||||
![]() Boeke
Smullekker vertellings oor motchies, oemies, voetvroue en imams
JOAN HAMBIDGE 21/08/2006 06:57:52 AM - (SA)
ROSA’S DISTRICT 6, deur Rozena Maart. David Philip, Kaapstad, 2006. (Sagteband, 232 bladsye, ISBN 978 0 86486 690 5.)
KRISLAAM! Dis ’n boek dié oor die Bo-Kaap en Distrik Ses. Dis ’n lekker boek oor die motchies en oemies. Jy kan lees van snoek en slangetjies. Daar’s ook koesisters en brijani. En bollas en boeber! Selfs boerewors en bobotie! Oor die lekker en die Eina! Jy lees hier van die ou dae, toe alles nog “gestamp and gechap” was, oorlat jy bruin is. En die lewe was soms deurmekaa. Jy kan hier lees van die hopelots, hoere en imams. En Lieberstein. Soms lees jy van die kadoematjie en ’n voetvrou wat kinders in die lewe help bring. Daar is lewe en dood en hierom ook Kee Feit teen die agtergrond van Tafelberg. Dit behoort vir die leser tot sover duidelik te wees dat hierdie boek van Rozena Maart ’n mens inspireer om al die kodes en gebruike te probeer begryp. Die boek heet Rosa’s District 6, en verskyn op dieselfde tyd as Zoë Wicomb se Playing in the Light en Rayda Jacobs se My Father’s Orchid (laasgenoemde twee uitgegee deur Umuzi). Die skrywer woon in Ontario, is as skrywer bekroon vir haar kortverhaal “No Rosa, no District Six”, en is ook ’n digter (Talk about it!). Dus ’n feministiese ekspat-skrywer wat die verlede in Distrik Ses karteer. ’n Dubbele outsiderskap. Die boek bevat verskillende vertellings met ’n puik glossarium. In die eerste verhaal word die kind aan die woord gestel in ’n praatstyl, en die leser word gewaarsku: Hier sal ’n verbeeldingryke aan die woord wees! En die kind sien ongerymdhede raak, wat onder meer wentel om twee ou tantes se passie vir mekaar in ’n bad. Die verhaal eindig meesterlik, met ’n kind wat gaan speel en terugkeer, soos verwag, uit die verbeeldingswêreld terug na roetine. En die leser begryp die transformasie wat plaasgevind het in die kind se gemoed. Dit is duidelik uit “The Bracelet” dat hierdie boek veral op die internasionale leser gerig is met oorduidelike verwysings en verduidelikings ten opsigte van kleur, rassisme en klassisme binne die gemeenskap self, waar die “Uppersiders” se hovaardighede deur die Distrik-Sessers bespot is. In hierdie vertellings word kos kleurryk en smullekker beskryf: ’n mens kan die brijani en frikkadelle ruik. Die skrywer gebruik kos, en die rituele rondom eet, om sosiale gewoontes en kodes weer te gee. ’n Gebed, onder meer, waarin die politieke onsekerhede aangeraak word in die roepe na Bo om dit uit te sorteer. Wat besondere vermelding verdien, is die uitwys van die gay-lewe in hierdie bestaan en die gebruik van “gail” of gay-taal. In die slotvertelling word twee onthullings gesinkopeer, en ek ken min verhale wat jou so in die maag tref soos hierdie een: die poging om gay-wees te onthul, word deur ’n ander, groter politieke werklikheid getroef, naamlik naamsverandering en om te kon oorleef in ’n blank-besete Suid-Afrika. Hierdie vertellings, soos ander romans wat tans verskyn, herontdek die sogenaamde “slawe-verlede” met trots. Die gay-outing is dus ’n metafoor van die politieke erkenning van die ouers in die verhaal: ’n mens is uiteindelik presies net wat jy is. “Ai, Gadija” analiseer die verskillende rolle van die vrou in so ’n kultuur met ’n gay meisie en hoe veral die vroue-gemeenskap haar aanvaar: geleerdheid en konvensie word hier teenoor mekaar geplaas. Die vertellings is soms wydlopig en woordryk. En die kleine Rosa is die waarnemer: sy skryf alles op in haar boekie. Sy is ’n sensitiewe buitestander. Dis ’n versameling verhale wat ’n mens terugneem na die oeuvre van I.D. du Plessis, en ek dink hier spesifiek aan “In die Slamse Buurt”, wat eindig met: “ ’n Halfvergete melodie / van hartseer en verlange.” Of “Kaalvoet Klonkie” en my allergunsteling-Du Plessis-gedig, “Katrina”. Lees hierdie vertellings. Soms ’n kortverhaal, soms amper ’n novelle, en saam gelees ’n ryk tapisserie van mense uitgelewer aan die politiek van die tyd in ’n erg diskriminerende samelewing. Die outeur het hier grootgeword en die leser wéét, ten spyte van die fiksionele aanbieding, dat die egtheid of lewensgetrouheid die boek belangrik maak. Rosa, die Chambers-egpaar, Auntie Latief, Mama Zila, Auntie Flowers .. . (Hoekom dan “Belleville” in plaas van Bellville? En, oeps, “geeeting” pleks van greeting?) Eet, drink, dans, kavorteer, praat en rebelleer blyk die ses plesiere van die area te wees, om die verteller aan te haal. Tafelberg is heeltyd aanwesig, nes die seisoensveranderings in die stad. Die aangrypende voorblad van Cloete Breytenbach verdien spesiale vermelding. Woordverklarings: Krislaam: Wees gegroet motchie: Moesliem-vrou oemie: ouma slangetjies: eetdingetjie met speserye bollas: nagereg boeber: nagereg wat jy kan drink (gemaak van vermicelli) deurmekaa: van deurmekaar; beteken gevaarlik hopelots: deel van die armblanke-area waar kinders uit Distrik Ses gespeel het kadoematjie: stuk lap met grond en speserye om die nek gedra om jou teen die bose en kolonistiese uitbuiting te beskerm voetvrou: vroedvrou Kee Feit: ’n Moesliem-begrafnis • Joan Hambidge is ’n skrywer en akademikus van Kaapstad.
|
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |