|
|||||||||||
|
| VIND: |
Audrey Blignault Foto: PHILIP DE VOS
Kuns
’n Wonderlike nalatenskap
01/10/2008 05:54:06 PM - (SA)
’n Doyenne van die Afrikaanse lettere, Audrey Blignault, is gisteroggend om 07:00 in die ouderdom van 92 jaar in die Kaapstadse Medi-Clinic oorlede.
Volgens Amanda Botha, ’n jare lange vriendin, had sy longontsteking en was sy broos.
Blignault en Attie de Villiers, met wie sy in 1970 getrou het, het saam in die Berghof-aftreeoord in Tuine, Kaapstad, gewoon.
Danie van Niekerk, afgetrede hoof van Tafelberg-Uitgewers, onthou haar as ’n geweldige bydraer tot die Afrikaanse boekkultuur: “Ek glo niemand ná Langenhoven het meer gedoen om die boekkultuur – boeke lees, boeke waardeer, boeke koop – by Afrikaanse mense te bevorder as Audrey Blignault nie. Dit het sy op baie maniere gedoen: met haar uitsaaipraatjies, haar persoonlike optredes oor die hele land heen, maar veral met die boeke wat sy geskryf het en wat haar een van die topverkopende Afrikaanse skrywers gemaak het. En ook met wat die Engelse noem: ‘word of mouth’; sy het mense letterlik aangesteek om ’n nuwe boek, of dikwels ’n ou boek, te gaan lees.
“Sy het selfs ’n handleiding vir leeskringe geskryf; sy kan beskou word as die moeder van vroueleeskringe in Suid-Afrika.
“Sy was een van die mees belese mense wat ek teengekom het, iemand wat steeds met drif en oorgawe oor ’n nuwe digter, of oor ’n verrassende nuwe roman kon praat en skryf, en nie net boeke in Afrikaans nie, maar uit die hele wêreldletterkunde.
“Salig diegene wat haar as vriendin kon tel, iemand met ’n guitigheid en humorsin en lewenslus wat elke geselskap vrolik gemaak het.
“Sy was terloops ’n kenner by uitstek van boeregrappe. Een aand het ons in ’n groepie van so nege of tien in ’n restaurant in Kampsbaai gaan eet. Toe ons aankom, het Attie en Audrey die flesse op die tafel begin pak, een ná die ander, seker ses of sewe bottels, tot die kelnerin met groot oë gevra het: ‘But shall I open ALL of them?’
“Audrey het blitsvinnig geantwoord: ‘My dear, we’re in for some serious drinking tonight’.”
Blignault, bekend vir haar joernalistieke werk, essays en kortverhale het verskeie pryse ontvang, waaronder die Eugène Marais-prys (1961) en die W.A. Hofmeyr-prys (1965). In 1980 het sy die Italiaanse Adelaide Ristori-prys vir haar bydrae tot kultuur ontvang.
Sy was die eerste vrou wat verkies is tot lid van die raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (1973) en is in 1994 tot erelid verkies. In 1991 het sy ’n eredoktorsgraad van die Universiteit Stellenbosch ontvang.
Blignault was lank in die joernalistiek werksaam. In Sarie Marais (tans Sarie) het sy die rubriek Uit die Dagboek van ’n Vrou sowat 20 jaar lank geskryf.
Koos Human, jare lange vriend en ’n oprigter van Human & Rousseau, vertel haar kleinseun Andries het haar op ’n keer as “my boekdol ouma” beskryf.
“En so was Audrey. Versot op boeke, veral poësie wat sy reeds as 11-jarige ontdek het.
“Met geesdrif het sy oor dekades waar ook al moontlik die saak van die boek, en in die besonder die Afrikaanse boek bevorder. Sy was die stukrag agter die leeskringe wat oor die hele land gedy het (wat het van hulle geword?) en haar geesdriftige aanbeveling van ’n boek het tot groot verkope gelei.
“En ná ’n vriendskap van oor die 50 jaar kan ek ook sê dat mens geen inniger en onvoorwaardelike meelewing kan geniet nie.
“Haar man, Attie, se toegewyde sorg die laaste jare moenie vergeet word nie, en ek en my vrou, Trewhella, wil hom bedank vir sy liefde aan ons vriendin.”
Sy is op 6 Julie 1916 in Bredasdorp gebore en het aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer. Sy was redakteur van Die Huisvrou.
Onder die radiowerk wat sy gedoen het tel programme soos Wat kan ek Lees? en Boeke vir ons Kinders.
Ook Botha wys daarop dat as ’n boek op haar boekeradioprogram bespreek is, “is dit allerweë beskou as die beste reklame wat ’n boek kon kry.”
Vir haar 80ste verjaardag het Elize Botha en Hennie Aucamp ’n versameling van haar kortverhale, Mal Hansie en Ander Verhale saamgestel.
Vanjaar is ’n versameling van haar briewe, ’n Blywende Vreugde, saamgestel deur Petrovna Metelerkamp, Lynne Fourie en Marina Brink, gepubliseer.
In Audrey, ’n toneelstuk oor Blignault se briewe wat tans op Aardklop in Potchefstroom op die planke is, word aan haar hulde gebring. Saartjie Botha het dit geskryf.
Blignault se eerste man, Andries, is in 1967 in ’n voertuigongeluk oorlede.
Sy laat De Villiers, ’n dogter, die skrywer Marié Heese, en twee kleinkinders agter.
De Villiers het gesê sy sal veras word en dat ’n diens in Kaapstad gehou sal word. Verdere reëlings vir die begrafnis sal eersdaags bekend gemaak word.) Besoek www.dieburger se blog-ruimte en klik op Boekeblok om herinneringe aan Audrey Blignault en indrukke van haar werk te deel.
|
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |