|
|||||||||||
|
| VIND: |
Kuns
Toneel: The Return
17/11/2008 06:29:19 PM - (SA)
Toneel
The Return
Kunstekaap-arena
, , , , ,
Hierdie skyf lewe is warm, polsend en snaaks, maar nie sonder gebreke nie. Dis deur Fatima Dike as projek in die Kunstekaap se nuwe skrywersprogram geskryf.
Dit speel af in die Somdakahuishouding in Langa, die oudste swart woongebied in Kaapstad. Dit neem probleme waardeur die plaaslike swart gemeenskap gekonfronteer word onder die loep. Die Somdakas se seun Buntu kom huis toe ná 18 jaar as politieke uitgewekene. Hy bring sy mooi Amerikaanse vrou, Isis, saam.
In die ouers se werkersklashuis word die jong, dinamiese professionele mense met onvoltooide sake gekonfronteer.
Soos dit gaan in gesinne, is sekere dinge eenvoudig te pynlik om oor te praat.
Daar is kwelvrae rondom Buntu se broer se dood as vryheidsvegter. Was hy ’n held of ’n bankrower? Waarom is sy oorskot in Gugulethu begrawe? Buntu sit tussen twee vure, met ’n toon in twee wêrelde. Hy is materieël suksesvol, met ’n gladde Amerikaanse aksent, maar droom elke nag dat sy gestorwe broer ’n boodskap vir hom het.
Die sangoma werp lig op die raaisel. Die Somdakas moet die bul by die horings pak en die verlede takel.
Die stuk herinner soms aan ’n sitkom of sepie. Kos word op die verhoog gekook, opgedis en geëet.
Die etenstafel is stasie, slagveld en hawe. Die aweregse humor is onweerstaanbaar. Die aanslag is lig, terwyl daar met komplekse kwessies omgegaan word. Die warmte, griewe en geheime tussen gesinslede spring oor kulture. Veral die korrelkop-verhouding tussen die ouer egpaar is kompleks en subtiel, op die oog af lig, met heelwat diepte.
Phakamisa Zwedala gee roerend lyf aan Buntu se identiteitskrisis en opgekropte woede. Nomhle Nkonyeni as Mama kwyt haar uitstekend van ’n veeleisende rol, en Mzwakhe Mdidimba as Tata is onweerstaanbaar. Ongelukkig is alle karakters nie gelyk geskape nie. Die karakter van Isis, die liggelowige, goedgeaarde Amerikaanse vroutjie, is afgeskeep. Sy bly eendimensioneel en dis nie die fout van die aktrise, Roshina Ratnam, nie.
Mbulelo Samby se keuse van musiek ondersteun en dra die dramatiese gebeure. Ek dink die teks het sekere gebreke: die ontknoping oortuig nie heeltemal nie, is nie verrassend of skokkend genoeg nie, weeg nie swaar genoeg nie. Die komiese oomblikke slaag beter as die dramatiese momente. Nogtans is dit aanskoulike plaaslike teater wat vermaak en stem tot nadenke.
Deborah Steinmair
) Tot 29 November.
|
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |