|
|||||||||||
|
| VIND: |
![]() Megan Hall Foto: STEPHEN LAMB
Vermaak
Verlies en musiek verken in poësie
04/09/2008 08:36:56 PM - (SA)
Die Kapenaar Megan Hall ontvang vir haar debuutbundel, Fourth Child, die Ingrid Jonker-prys. Sy het aan WILLEM DE VRIES van die bundel vertel.
Megan Hall se debuutdigbundel, Fourth Child, waarvoor sy vanaand die Ingrid Jonker-prys op die Versindaba in Stellenbosch in ontvangs neem, handel oor verlies en verdriet, en dit “stuur weg van selfbejammering”.
Só sê die digters Gabeba Baderoon en Kobus Moolman, lede van die prys se beoordelaarskomitee. Die bundel, waarin Hall onder meer die selfmoord van ’n ouer en afwesigheid karteer, “getuig van sorgvuldige vakmanskap en emosionele slaankrag”.
In die gedig “The Disappearance of the Dead”, kom die soekende aard van die bundel sterk deur: om ’n manier te vind om met haar eie woorde te praat oor die gebeure.
“Ek wou die storie van wat gebeur het, my eie maak. Ek het gevoel haar afwesigheid word nie erken nie. Toe my ouma dood is, het die rouproses sy natuurlike gang gegaan. In die geval van my ma was dit of iets wat dáár is, as weg beskou is. Baie van wat ek gedink het, is nie gesê nie.
“En gedagtelesery is moeilik vir mense,” sê sy. En glimlag dan.
Het die publikasie van die bundel ’n verskil gebring in haar beskouing van wat gebeur het?
“Uiteraard is daar nou minder stilte; maar dit blý moeilik vir ander mense om iets daaroor te sê. Dit (die boek) stel mense in staat om meer daaroor te praat. Nie dat ek ’n woordvoerder is vir families waarin selfmoord voorkom nie.” ’n Pouse. “Die boek het die stilte anders gemaak; dié gedigte was ’n soort afsluiting.”
As publikasiebestuurder van woordeboeke en Engelse leesstof vir skole by die Oxford University Press van Suid-Afrika is sy baie vertroud met die publikasieproses.
Was dit vir haar vreemd om haar eie teks só onder oë te kry?
“Die stadia van ’n boeke is baie bekend aan my; dit het so effens bekend gevoel. Dit was steeds baie opwindend. ’n Mens weet die skrywer gaan opgewonde wees daaroor.”
Die eerste gedig in die bundel is gepubliseer toe sy nog student aan die Universiteit van Kaapstad was.
Fourth Child, wat verlede jaar uitgereik is, was die eerste boek van Colleen Higgs se klein uitgewery Modjaji wat letterkundige werke van Suid-Afrikaanse vroue uitgee. Wat die gedigte se inhoud betref, werk wat ontwikkel het oor sowat agt jaar, was sy “geneig om min aan te verander”.
“Die integriteit van wat ek wou sê, het later enige gehegtheid aan vroeëre fraserings oorstyg.” Ook omdat afstand bygekom het.
Sy vertel Robert Berold het die redigering oorsien.
“Dit het ’n tydjie geduur voordat ek agtergekom het wat Robert reeds geweet het van sy werk met ander poësieversamelings – dat die boek soos ’n storie benader moet word, nie net ’n versameling disparate stukke nie. Die chronologie waarin die gedigte oorspronklik geskryf is, is nie so belangrik as waar die gedigte gepas het in die verhaal nie. Die storie van die bundel en die individuele gedigte is in gelyke maat geskep.”
Sy vertel die reaksie op die boek verras haar, hoofsaaklik omdat sy “’n gelukkige skrywer agter geslote deure is”.
“As dit alles op een slag moes gebeur het, sou ek weghardloop, dink ek.”
Rustum Kozain, wat in 2006 die wenner van die prys was met This Carting Life (en saam met Louis Esterhuizen, Danie Marais and Zandra Bezuidenhout lede van die prys se trustkomitee is), het haar gebel met die nuus oor die prys.
“Dit was ’n volslae verrassing; ek het daarna rondgeloop met ’n glimlag.” Die Ingrid Jonker-prys is vir haar ’n waardevolle prys, ook omdat dit sal help om bundels op rakke te kry.
“Skryf is iets wat ek gewoonlik op my eie gedoen het. Deesdae moet ek leer om soos Jane Austen dinge in die middel van ’n besige sitkamer te kan neerskryf.” Haar dogter, Holly, is nege maande oud.
In veral haar kraamverlof was dit ’n besige tyd vir gedigte en nie meer oor gebeure van die verlede nie.
Sy vertel van “die verrassend aard van om ’n ma te wees.”
Toe haar dogter drie maande oud was, is sy onder die indruk gebring van hoe nodig ’n ma is.
“ ’n Drie maande oue kind is so klein, hulpeloos en woes”.
Die bundel was vir haar nodige retrospeksie voor haar dogter se geboorte. Sy beskryf dit as “goeie vordering”.
Gedigte is anders op papier as om dit voor te lees en van die gedigte is in voorleesbyeenkomste in ’n plek soos A Touch of Madness in Observatory op die proef gestel. Sy het gehore in die lokaal as simpatiek ervaar, met goeie terugvoer.
“In voorlesings kan jy hoor hoe die digter die gedig gestruktureer het”. Hoe en waar reëls eindig is vir haar belangrik oor hoe dit lyk op die blad sowel as vir ritme. Verwysings na dans en musiek kom in van die gedigte voor.
“Die wyse waarop musiek, lirieke en stem kan gevoel wek, kan veel doen vir sekere emosies.”
Sy noem Sinéad O’Connor se werk as voorbeeld. “Musiek gryp jou onmiddellik aan. Ek hoop die gedigte gryp lesers aan, en net soos met musiek, die gevoel te gee van ’n proses deur te maak.”
Die wenner van die Protea-prys vir poësie word môre op die Versindaba bekend gemaak. Kaartjies is verkrygbaar by die Protea Boekwinkel in die Eikestad. Bespreek by proteaboek@mweb.co.za of 021 882 9100.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |