|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
![]() Themba Shibase se skildery The Mighty Beast.
Vermaak
Jong kunstenaar vang Afrika-politiek vas
08/05/2008 07:26:01 PM - (SA)
VISUELE KUNS: Umhlaba kabani? ( Wie se grond?) van Themba Shibase. In die ErdmannContemporary, Kortmarkstraat 63, Kaapstad. Tot 24 Mei.
GROND en grondbesit was nog altyd ’n kwessie in Afrika. In Umhlaba kabani? ( Wie se grond? ) spreek Themba Shibase aspekte hiervan aan in geskilderde landskappe – met suggesties van grense en geboude strukture, en miskien meer direk deur sy portretstudies (byna karikature) van politieke leiers. Dis dan veral sy portretstudies wat geval.
Shibase, ’n jong swart man in ’n stedelike omgewing, ervaar sy hele bestaan as polities gelaai. Hy reken die onderliggende inspirasie vir al sy werk is die energie van ’n multi-kulturele samelewing waar kolonialisme, ironies genoeg, aanleiding gegee het tot ongekende verdraagsaamheid met die magspele van Afrika se diktators.
Die vryheidsvegters van ouds word, aldus Shibase, nie genoeg bevraagteken nie, omdat hulle steeds as helde beskou word. Daar is verskeie uitbeeldings van Robert Mugabe in ’n gemaklike leunstoel en ’n treffende skildery van Idi Amin in volle militêre praal by ’n bos mikrofone. Die anatomiese ongemaklikhede versterk die dualistiese aard van hierdie heersers se posisie en Shibase vang gewis iets omtrent die charisma van hierdie leiers vas.
Shibase is ’n kunstenaar wat vinnig besig is om naam te maak. Hy is onder meer aangewys as een van vier finaliste vir die 2008- MTN New Contemporary-kunstoekenning, en sy skilderye is ook gekies as deel van Spier Kontemporêr.
Hy werk meestal in die meer tradisionele media van teken en skilder. Hierdie is die Durbaniet se eerste solo-tentoonstelling in Kaapstad.
Umhlaba kabani? (Wie se grond? ) is duidelik die werk van ’n jonger kunstenaar, maar die tentoonstelling beskik oor ’n lekker robuuste energie met sterk, selfversekerde merke.
Plek-plek is dit nog ongeskaaf en daar is enkele tegniese ongemaklikhede, maar die kunstenaar en werk beskik oor al die regte bestanddele om ’n merkbare indruk aan die SuidAfrikaanse kunsfront te maak. Wees op die uitkyk.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |