|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
![]() Ingrid Winterbach
Vermaak
Statebondwenners hoor in SA
07/05/2008 07:26:10 PM - (SA)
DIE aankondiging van die algehele wenners van die Statebond-skrywersprys is een van die nommers op die program van die tweede Franschhoek- literêre fees, wat aanstaande naweek gehou word. Dis die eerste keer dat die Statebondstigting dié geleentheid buite Brittanje hou.
Die finaliste – wenners van die pryse vir beste boek en beste debuut in die streke Afrika; Europa en Suid-Asië; die Karibiese streek en Kanada; en Suidoos-Asië en die suidelike Stille Oseaan – sal teenwoordig wees. Ook die Olive Schreiner-poësieprys sal toegeken word by dié geleentheid Sondag 18 Mei in die saal van die Hoërskool Franschhoek.
Naas dié buitelandse komponent is die Pulitzerpryswenner Richard Ford op die program. Hy gesels onder meer met Toby Mundy oor sy lewe en werk, en sy jongste roman, The Lay of the Land.
Die Ier Cathy Kelly, skrywer van boeke soos Past Secrets en Lessons in Heartbreak, praat Sondag oor haar rol as ’n Unicef-ambassadeur.
Hoewel die fees ’n uitgesproke Engelse fokus het, is drie Afrikaanse en twee Xhosa-skrywers wie se werk in Engels vertaal is op die program. Die program open trouens op 16 Mei met twee skrywersgesprekke waaraan ’n Afrikaanse skrywer deelneem: Deon Meyer, die skrywer van onder meer Onsigbaar, gesels, onder die gespreksleiding van Jenny Crwys-Williams, met die misdaadskrywers Imraan Coovadia (Green-eyed Thieves) Margie Orford (Blood Rose) en oor die tema “Crimes of Passion”, terwyl Ingrid Winterbach (Die Boek van Toeval en Toeverlaat) saam met Damon Galgut (The Good Doctor) en Kgebetli Moele (Room 207) oor “The Style Council” haar hoof buig, met Jeremy Boraine as gespreksleier.
Winterbach gesels ook die Saterdag oor haar werk met die skrywer Marlene van Niekerk (Agaat).
Meyer, Winterbach en Etienne van Heerden (Asbesmiddag) neem ook aan ander gesprekke deel, laasgenoemde twee onder meer saam met die Xhosa-skrywers Mhlobo Jadezweni (uTshepo Mde / Lank genoeg) en Thembelani Ngenelwa (Ukuvuka kwam Ekufeni / The Day I Died) oor die tema “Found in Translation”. Jadezweni gesels ook met Niki Daly (Vlieg, Arend, Vlieg!) en Lesley Beake (The Bed Book) oor “Writing for Kids”.
Kinders kan Saterdag luister hoe die skrywer Gcina Mhlophe stories vertel, terwyl volwassenes wat ’n appeltjie te skil het met David Bullard, dieselfde dag kan gaan luister na dié omstrede voormalige Sunday Times-rubriekskrywer.
Luidens die program sal Bullard oor sy lewe en werk asook sy jongste boek, Screw it! Let’s Do Lunch, praat, maar by die onlangse media-bekendstellingsgeleentheid is voorsien dat die gesprek waarskynlik in die rigting van sy veelbewoë “rassistiese” rubriek en die kwessie van spraakvryheid sal loop.
Die tema “State of the Nation” word die Vrydag deur Mamphela Ramphele (Laying Ghosts to Rest) en Mark Gevisser (Thabo Mbeki X The Dream Deferred) getakel.
Ander skrywers op die program is Keorapetse Kgositsile, Anne Landsman, Richard Ford, Siphiwo Mahala, Gabeba Baderoon, Zukiswa Wanner, Kopano Matlwa, Maxine Case, Rayda Jacobs, Bridget McNulty en Mike van Graan.
Van Graan se solo-teaterstuk Bafana Republic II, met Lindiwe Matshikiza, waarvan die voorloper op die eerste Franschhoekfees geopen het, is te sien as een van die teaterproduksies, en daar is ’n uitgebreide musiekspyskaart vir veral klassiekemusiek-liefhebbers.
Die algehele wenner van verlede jaar se se Statebond-skrywersprys vir beste boek, Shaun Johnson (The Native Commissioner), sal kort voor die aankondiging van vanjaar se wenner Sondag met die fees se beskermheer, die skrywer Christopher Hope (My Mother’s Lovers), in gesprek tree.
. Raadpleeg die program by www. flf.co.za. Kaartjies kan by 0 021 876 3603 bespreek word. Of stuur e-pos na infodesk@franschhoek.org.za.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |