|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
![]() Diane Lane in ’n toneel uit Untraceable.
Vermaak
As iemand geweldsmisdaad pleeg, sou jy kyk?
07/05/2008 07:25:39 PM - (SA)
ROLPRENT: Untraceable (, , ,). Met Diane Lane, Billy Burke, Colin Hanks en Joseph Cross. Regie: Gregory Hoblit. Ouderdomsperk: 16G. Tydsduur: 100 min.
DIE gedagte van privaatheid het nogal ’n omstrede kwessie geword.
Dit wil, grootliks danksy werklikheidstelevisie, voorkom of die skeiding tussen die openbare en die private skaars nog bestaan. Die publiek is honger vir selfs die walglikste klein besonderhede in die lewe van absolute vreemdelinge, en gewildheid, roem en berugtheid is net ’n internet-video of e-pos-grap weg. Die wêreld het ’n voyeuristiese dorpie geword waarin enigiets in die naam van “vermaak” geduld word. Dié global village se naam behoort eintlik “Kry ’n Lewe” te wees.
Dís wat ’n mens wil sê vir die internet-gebruikers in Untraceable wat ’n reeksmoordenaar se gru-dade oor die net volg. Die moordenaar martel sy slagoffers deur die marteltoerusting, hetsy honderde sonlampe of ’n suurmengsel, aan sy rekenaar te koppel wat die trefslae op sy martel-webblad tel. Hoe meer mense kyk, hoe helderder brand die lampe.
Ongelukkig vir die FBI móét hy na die webblad kyk – en só bydra tot die slagoffers se dood – om die moorde te kan oplos. Die ondersoekbeampte is die enkelma Jennifer Marsh (Diane Lane), wat hard probeer om ’n balans tussen haar beroeps- en huislewe te handhaaf. Sy’s lid van ’n eenheid wat internet-misdadigers jag, en kom op die webblad killwithme. com af. ’n Katjie word doodgemaak, maar wanneer die volgende slagoffer ’n mens is, skakel Marsh-hulle en die speurder Eric Box (Billy Burke) na die hoogste rat oor.
Die enigste probleem is dat die moordenaar ’n internet-foendi is en selfs die FBI met sy gevorderde toerusting kan hom nie in die kuberruim opspoor nie.
Gary Lucchesi, die vervaardiger, sê: “Een van die vrae wat die fliek stel, is: As ’n geweldsmisdaad gepleeg word, sou jy daarna kyk?”
In Untraceable is die antwoord eenvoudig: miljoene keer ja! En die ergste is, ’n mens kan sien dat so iets regtig gebeur. Met dié dat die grens tussen openbaar en privaat vervaag, word ’n mens se opvatting van die werklikheid verdraai. Dit word deel van die popkultuur-fiksie waaroor bespiegel en gelag kan word. Hoe anders skakel jy op ’n webblad in en kyk hoe iemand grusaam sterf?
Die regisseur Gregory Hoblit (Fracture, Frequency), wie se pa ’n FBI-agent was, maak ’n punt daarvan om die moderne mens se afhanklikheid van tegnologie onder die kyker se aandag te bring.
Marsh gebruik satelliettegnologie om deur die verkeer te kom, en later word sy in haar motor vasgekeer wanneer die elektriese stelsel ingee. Hoblit stel dit teenoor die tegnologie wat gebruik word om die slagoffers te vermoor. Dis ’n bose spiraal. Soos in Ghost in the Shell en die Terminator-flieks speel die mens met vuur; hy word te slim vir sy eie beswil.
Die onderwerpmateriaal maak van Untraceable ’n relevante en ontstellende fliek, maar die fliek slaag net deels. Die jagtog en aksie behou nie die aandag nie en al die los drade val te maklik in plek. Dis uiteindelik Lane se oortuigende spel as Marsh wat die momentum verskaf.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |