|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
![]() Miems de Bruyn
Vermaak
Miems de Bruyn vier 86ste verjaardag
06/05/2008 10:14:01 PM - (SA)
KAAPSTAD. – ”Nee wat, jong, los maar die happy birthday-wense. Ek verjaar nie meer nie. Ek is verby my vervaldatum.”
Só het die veteraanaktrise en stemkunstenaar Miems de Bruyn gister by haar huis in Johannesburg geskerts op haar 86ste verjaardag.
Sy verpes dit as mense na haar verwys as ’n “veteraan” – “want ek is mos maar net nog ’n kunstenaar. Wat verby is, is verby.”
Maar die feit bly staan dat sy tans die oudste spelende kunstenaar in die land is. Sy het pas ’n maand gelede ’n rol in ’n radiodrama vertolk wat resensente gaande gehad het.
Sy raak tóg ’n bietjie droewig as sy praat oor ’n onlangse reünie van drie spelers in een van TV se eerste Afrikaanse sitkoms, Nommer Asseblief!, wat in die 1970’s uitgesaai is. Sy het die rol van die befoeterde tant Kriekie gespeel.
“Ek het so na ’n foto van al die spelers gesit en kyk en besef dat vyf van hulle, onder andere my vriendin Hannah Botha en Alex Heyns, al dood is.”
Sy het juis gister in Beeld, Die Burger se susterkoerant in Johannesburg, oor Steve Hofmeyr se siekte gelees en raak sommer heftig oor mense wat hom afkraak.
“Ons almal het iets wat ons onder die vernislagie wegsteek. Steve vang sy dinge aan, maar mense behoort hom sy plek in die son te gun.”
Sy weet nie of sy binnekort weer in die gewilde sepie 7de Laan as tannie Rademan te sien sal wees nie.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |